Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tyd is ryp om note en munte nou te laat vaar

Al die ekonome, hier en oorsee, sê elke land gaan sy ekonomie fundamenteel moet verstel ná die korona-pandemie – veral as dit blyk dat die virus seisoenaal kan terugkeer. Een klein stappie sou kon wees om sommer ook van papiergeld ontslae te raak, want munte en note is waarskynlik die mees onhigiëniese items wat ons saam met ons dra.

In ’n winkel gee jy jou geld met die hand aan die kassier en kry jou kleingeld per hand terug. Jy kry note en munte wat in die loop van die dag – of sommer die afgelope tien minute – dalk deur vyf pare hande hanteer is.

Om jou in die winkel vee mense die toonbanke en rakke met ontsmettingsmiddels skoon, maar die kasregister bly ’n ongesteriliseerde broeikassie vir munte wat pas met vingerpunte uit mense se broeksakke, handsakke en beursies los gevroetel is.

Geld is vuil. ’n Mens wonder hoe dikwels die koronavirus via kontant op iemand se wysvinger of duim beland, van waar dit kortpad na die mond, neus of oë kan vat. En wanneer jy geld by ’n kitsbank trek, druk jy met jou wysvinger knoppies wat sekondes vantevore deur iemand anders gedruk is.

Hoe ironies dat vriende dit deesdae nie waag om mekaar met die hand te groet nie, maar nie huiwer om kleingeld per hand van ’n wildvreemdeling te neem nie.

Hoe ironies dat vriende dit deesdae nie waag om mekaar met die hand te groet nie, maar nie huiwer om kleingeld per hand van ’n wildvreemdeling te neem nie. Selfs vir ’n transaksie van 50c is mense bereid om daardie veilige afstand van 1,5 m van mens tot mens te skend.

Onlangs het ek saam met ’n voormalige kollega van China gaan eet. Hy kon nie glo dat ons steeds so verknog aan papiergeld en die tradisionele kredietkaart is nie.

Sowat 700 miljoen mense in China het slimfone, en dit is hul beursie vir enige transaksie, van inkopies tot treinkaartjies en boetes. My vriend vertel dat die meeste mense in China se stede kontantloos leef. Selfs bedelaars kry aalmoese via Alipay, ’n betaalplatform, want dit help nie om vir munte of note te bedel nie.

Hier by ons vergemaklik Zapper en SnapScan selfs die kleinste transaksie. Jy kan R6 se parkeergeld vinniger met jou selfoon as uit jou beursie betaal. Op die kruin van ’n bergfietsroete buite ons dorp is daar ’n kennisgewingbord met ’n QR-kode daarop, sodat jy per selfoon geld vir die instandhouding van die paadjies kan skenk. Ek het ietsie bygedra, maar sou dit waarskynlik nie gedoen het as ek dit ná die tyd by die huis elektronies moes doen nie.

Wat verloor ons as kontant verdwyn? Beslis ons emosionele band met tasbare geld wat jy sedert jou kinderdae opgebou het. Jy kry twee Chappies vir 1c en ’n boksie Lion-vuurhoutjies vir 2c. Later, op hoërskool, was ’n tienrandnoot jou bankwaarborg vir jolyt. Selfs deesdae is dit lekker om ’n R5-munt op te tel of ’n R20-noot in ’n broeksak te ontdek.

Alles heerlike dinge wat ons dalk binnekort met ’n mate van nostalgie én verligting sal moet opoffer.

  • Booyens is ’n vryskutskrywer.
Meer oor:  Bun Booyens  |  Geld  |  Korona  |  Munte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.