Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tyd om kese te wys wie’s baas

Groenes en “bunny huggers” is vinnig om te sê bobbejane was voor ons hier, ons moet hulle uitlos. Dis natuurlik bog, skryf MC Botha.

Bobbejane is allermins ’n beskermde spesie, en in elk geval is daar derduisende troppe in die berge en die bosse buite stedelike gebiede waar die spesie verwyderd van mense in vrede kan leef. Foto: MC Botha

Die verstedelike mens en bobbejaan se kind sit al donkiejare by wyse van spreke nie langs dieselfde vuur nie. Die bobbejaantroppe in stedelike gebiede in die suidwes-Kaap word egter net al groter en groter – van Ceres in die noorde tot die Kaapse Skiereiland in die suide en die Overbergse kuslyn aan die ooste.

Tot dusver is dit ons verlangse nefie wat die oorhand het. Om te sê dat bobbejane voor ons hier was, is natuurlik bog – ons het ongetwyfeld gelyk aangekom, aangesien Homo sapiens en Papio Ursinus (Kaapse of chacma-bobbejaan) evolusionêr gesproke identiese voorouers het.

Dít gee baie mense reeds die aapstuipe.

Daar was 30 jaar gelede in die berge bokant Hermanus net een trop wat in hul soeke na kos huise in Voëlklip geplunder het. Natuurbewaringsbeamptes het die probleem eenvoudig opgelos deur draadvanghokke in die Fernkloof-natuurreservaat te stel en soms tot meer as tien op ’n slag van kant te maak.

Vandag is daar drie troppe wat net soos al die troppe elders behoorlik deur die politiek korrektes beskerm word. Nie alleen het alle landsburgers deesdae gewaarborgde menseregte nie, maar ook alle burgers van die berge se bobbejaanregte is gewaarborg.

Die gevolg is dat bobbejane nie net vrye toegang tot huise gegun word om te beroof en te beskadig nie, maar die huisbrake word selfs sienderoë deur die owerhede toegelaat. Skade wat aan eiendomme en tuine in al die probleemgebiede veroorsaak word, beloop etlike miljoene rande, om nie van die trauma te praat nie.

Lede van een van Voëlklip se plunderende bobbejaantroppe lyk op die oog af te oulik, maar dis ’n ander storie as hulle by huise inbreek en grootskaalse verwoesting aanrig. Foto: MC Botha

Die groot bobbejane leer die kleintjies om deur diefwering te kruip en van binne af die deure of vensters oop te maak. ’n Vrou het vertel dat ’n trop nou die dag op so ’n strooptog net ’n byt aan al die beskikbare vrugte in ’n vrugtebak in die kombuis gegee het, want hulle het ’n kaaskoek ontdek en dié tot die laaste krummel verslind. Net so astrant en slinks soos gewoontemisdadigers.

Oor die jare heen het die Overstrand-munisipaliteit al donderbusse en verfbalgewere gebruik om die bobbejane te verdryf, ’n elektriese heining oor 1,3 km gespan, sogenaamde bobbejaanmonitors aangestel – pure verniet. Die bobbejane het net slimmer geraak, vinniger begin aanteel en rusies veroorsaak onder die tweebeen-primaat-deskundiges en verteenwoordigers van verskillende owerheidsvlakke oor waar die geld gekry gaan word vir die volgende meesterplan, wat weer eens net mislukking as waarborg sal hê.

MC Botha

Niemand het nog ooit die klaarblyklike durf hardop uitspreek nie, naamlik om ’n trop op ’n slag uit te dun. Bobbejane is allermins ’n beskermde spesie, en in elk geval is daar derduisende troppe in die berge en die bosse buite stedelike gebiede waar die spesie verwyderd van mense in vrede kan leef.

Jy het ’n kombuis, nie waar nie? ’n Plek waar vlieë jou soms verpes, of kakkerlakke, of miere. Jy het dalk ’n tuin waar allerhande goggas, wurms en slakke jou plante opvreet. Dalk moes jy selfs al ’n muis- of rotplaag beheer het. Eenvoudig, nè: Jy gaan na die naaste supermark en koop soveel pakkies Rattex, kannetjies Doom of houers Blue Death soos wat jou hart begeer.

Niemand is gebodder oor miljoene klein stukkies ekologie wat daagliks uitgeroei word nie. Maar bobbejane is anders. Hulle is so oulik, want hulle laat ons so baie aan mense dink. Inderdaad ontmasker hulle ons vir die ape wat ons is.

Moreel gesproke kan daar geen verskil wees tussen die uitroei van slakke wat jou tuin verniel, muise wat in jou garage kom nesmaak, of bobbejane wat jou huis plunder nie.

* Botha is ’n skrywer wat op Hermanus woon. Dié rubriek het oorspronklik in Hermanus Times verskyn

Meer oor:  Mc Botha  |  Hermanus  |  Bobbejane
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.