Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tyd om lendene te omgord, SA!

Pres. Jacob Zuma blyk daarop uit te wees om sy vertrek as leier van die ANC so moeilik en pynlik moontlik vir sy voornemende opvolgers en die party te maak.

En as die gerugte waar is, dan het hy nou sy visier op adj.pres. Cyril Rama­phosa gerig.

Die storie loop sterk en wyd dat hy reeds planne het om van Ramaphosa as adjunkpresident van die land ontslae te raak. Hiermee hoop hy glo om Ramaphosa se planne om hom in Desember op die party se verkiesingskongres as ANC-leier (en waarskynlik ook as president van die land) op te volg, finaal te kelder.

Indien die president hierdie gerugte gestand doen, behoort dit niemand te veel te verras nie.

Zuma is soos ’n olifantbul met ’n seer tand en is klaarblyklik bereid om soveel skade as moontlik aan te rig om te verseker dat die kandidaat van sy keuse hom opvolg.

Met sy onverwagte kabinetskommeling verlede week kon Zuma nie ’n duideliker boodskap stuur dat die behoud en voortbestaan van die ANC-alliansie nie vir hom ’n prioriteit is nie.

Deur dr. Blade Nzimande, hoof­sekretaris van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP), in die pad te steek as minister van hoër onderwys en opleiding, het Zuma sonder twyfel bewys dat hy vere vir die behoud van die alliansie voel.

Die SAKP is uiteraard woedend en bestempel Nzimande se afdanking as ’n regstreekse aanval op die party.

Zuma het die ANC-leierskap glo
ook bloot “ingelig” oor sy planne met Nzimande en nie, soos wat verwag word, “geraadpleeg” nie.

Daar is nou vrese dat Zuma nog lank nie klaar is nie.

Boonop het hy die raad van die ANC se topses-leiers om Nzimande in die kabinet te hou, geïgnoreer.

Daar is nou vrese dat Zuma nog lank nie klaar is nie.

Mense verwag dat hy nog voor die einde van die jaar en die ANC se 54ste verkiesingskongres nóg ’n kabinet-skommeling kan maak om so dalk ’n skuif teen Ramaphosa te maak.

Lindiwe Sisulu, wat ook in die wedloop is om Zuma op te volg, het die afgelope naweek gewaarsku dat so ’n stap katastrofaal vir die ekonomie en die ANC sal wees.

Dit sal Zuma egter min skeel.

Wat die opvolgstryd betref, is sy enigste oënskynlike oorweging dat sy voormalige vrou, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, tot die volgende ANC-leier verkies moet word.

Wat enige van die ander kandidate in die wedloop sê of doen, sal hom waarskynlik bitter min pla en hy sal nie skroom om nóg problematiese en skadelike besluite te neem nie.

Kortom: Hy stel nie belang in die ANC of die land nie – hy stel net belang in Nommer Een, en dit is hy,
Jacob Gedleyihlekisa Zuma.

Vir Nzimande en die SAKP is dit natuurlik nou te laat om krokodiltrane te stort.

Dit is húlle wat in 2007 op die ANC se verkiesingskongres in Polokwane seker gemaak het dat Zuma op die nasie losgelaat word. Dieselfde geld dit wat nog oor is van die eens magtige vakverbond Cosatu.

’n Mens hoor niks uit dié geledere oor hul aandeel in die opkoms van Zuma nie. Hulle moet pa staan vir al die skade wat hy die land aangerig het.

Saam met hulle het Zuma die eens roemryke ANC tot op die rand van ’n ineenstorting gelei – en hy is nog nie klaar nie. Nie in die bui waarin hy klaarblyklik nou is nie.

Hy is in ’n hoek, hy slaan wild en wakker, is wraakgierig en juis daarom moet hy gevrees word.

Die president is nog nie heeltemal plat op sy rug nie. Hy is erg gewond en daarom op sy gevaarlikste.

Omgord die lendene, Suid-Afrika!

Meer oor:  Jacob Zuma  |  Verkiesing  |  Leierskap  |  Presidentskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.