Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tyd vir dié houding ‘is verby’

Die redes vir die voorgenome naamsverandering van Brandfort en Hoffmanplein in Bloemfontein is bedenklik, skryf Pieter Labuschagné.

Daar is met sinkende gevoel en ’n swaar hart kennis geneem van die voorgenome naamsverandering van die historiese dorp Brandfort en die beoogde hernoeming daarvan na die voormalige bevrydingstryder Winnie Madikizela-Mandela. Daarmee saam kom die beoogde herbenoeming van Hoffmanplein, diep in die historiese hartland van Bloemfontein, na Charlotte Maxeke.

Die regerende ANC se politieke kulturele slopingswoede om historiese kultuurskatte so roekeloos te stoomroller wek diep kommer.

Dit is die einste regerende party wat die Vrystaat tot op die randjie van bankrotskap en institusionele verval geregeer het.

Die inklusiewe nasiebougedagte vir ons nuwe reënboogland bevat skynbaar net een kleur. Die voorgenome konsultasieproses bring min troos, want dit bevat min legitimiteit en is ’n blote rubberstempel.

Shakespeare het geskryf ’n roos met ’n ander naam ruik net so lekker, maar in die onderhawige geval word dieperliggende waardes en realiteite bloot geminag.

Die historiese name is gevul met substantiewe waardes en dieper dimensies, sodat die beoogde stappe as meer as ’n blote naamsverandering gesien moet word. Dit negeer die geskiedenis, minag die wese van inklusiwiteit en die bou van een nasie met ruimte vir alle rassegroepe.

Daar is verskeie wyses om te kyk na dié kultureel politieke stoomroller-taktiek om die Vrystaat se historiese wit name te verwyder.

Die eerste invalshoek is om doodgewoon te vra, “Waarom?”

Winnie Mandela voor haar huis, Huis 802, dieselfde huis wat nou ’n nasionale museum in Brandfort word. Dit is nie ’n uitgemaakte saak dat die dorp na haar hernoem moet word nie, skryf Pieter Labuschagné.Foto: Argief

Simboliese patronaatskap

Die hernoeming van historiese name na voormalige vryheidsvegters met geen historiese neksus met die dorp, plein en straat nie, vorm deel van diffuse politieke mag. Die naamsverandering word gedoen omdat die materiële middele wat normaalweg aan patronate en kaders uitgedeel kan word, uitgeput is. Al wat oorbly, is om simboliese toekennings te maak – sonder om die geldelike implikasies en vermorsing daarvan te besef.

Die patronaatmeesters moet in die afwesigheid van materiële bronne maar simboliese patronaat-toekennings maak. In wese is die handeling ook ’n diffuse uitdrukking van frustrasie en ’n onderliggende onvermoë om ook iets blywends tot stand te bring, deur dit wat reeds bestaan bloot af te takel.

In effek is dié handeling ’n simbolies politieke elevasie, waar die regerende party en die provinsiale amptenare in staat is om wel iets te kan doen of te verander. Dit is ook ’n bisarre vorm van gereflekteerde glorie ten einde nog steeds in ’n ewigdurende nagloed van die bevrydingstryd te kan baai, en die genoegdoening langer te kan geniet.

Dat die handeling ten koste van nasiebou plaasvind, word as van minder belang beskou.

In die proses word meer verloor as wat gewen kan word.

Historiese neksus

Die besluit om ’n dorp, straat of ’n plek ’n spesifieke naam te gee, geskied normaalweg op grond van ’n spesifieke historiese neksus.

Brandfort, een van die oudste dorpe in die Vrystaat, is op 30 Oktober 1866 op die plaas Keerom gestig. Die Volksblad het in 1940 geskryf die dorp dra die naam van pres. J.H. Brand en lady C.F. Brand, sy gade.

Brand was ten tyde van dorp­stigting die president van die Vrystaatse republiek en hy het ’n beduidende bydrae gemaak om dit tot ’n modelrepubliek uit te bou. Hy was die toonbeeld van staatsmanskap en het met nugter besluite en effektiewe regeerstyl die Vrystaatse republiek uitgebou.

’n Argieffoto van Hoffmanplein in Bloemfontein in vervloë dae. Foto: Verskaf

Hoffmanplein is een van die oudste historiese pleine in Bloemfontein en is na die eerste president van die Vrystaatse republiek, Josias Hoffman, genoem. Hoewel Hoffman ontslaan is nadat hy ’n klein vaatjie kruit aan die Basotho-opperhoof Mosjesj geskenk het, was hy steeds in baie opsigte ’n bekwame leier. Hy het ’n uitstekende versoenende verhouding met die Basotho-stamme gehandhaaf.

Die straatjie oos van Hoffmanplein is Groenendaalstraat wat na die eerste regeringsekretaris, J.J. Groenendaal, genoem is. Hoffman en Groenendaal was albei effens kruppel en wanneer hulle oor die plein gestap het, is na die “kruppelregering” verwys.

Die onomstootlike feit is dat albei voormalige presidente, Hoffman en Brand, ’n sterk historiese neksus met die twee plekke gedurende hul bewindstyd gehad het. Watter gesagsbron regverdig dan dat die herinnering aan die twee voormalige presidente sonder enige noemenswaardige teenstand uit die geskiedenis gevee word?

Die historiese koppeling van Winnie Madikizela-Mandela met Brandfort is gegrond op haar 1977-inperking deur die apartheidsregering binne die dorp se swart woonbuurt. Madikizela-Mandela se inperking in die swart woonbuurt bied historiese kredietwaardigheid, maar sy was vir baie langer tye in Soweto ingeperk.

Waarom die nodigheid om die dorp, wat histories los van die swart woonbuurt staan, na Madikizela-Mandela te hernoem? Wat is die sterk historiese neksus wat die hernoeming behoort te motiveer? Die swart woonbuurt kan na haar genoem word, sonder dat die historiese belangrikheid van Brandfort misken word.

Die realiteit is dat Madikizela-Mandela ’n hoogs omstrede figuur was, onder meer weens haar aanhitsing van geweld (aanpraat van halssnoermoorde in die bevrydingstryd en die geweld deur haar Mandela United-sokkerspan) en haar betrokkenheid by korrupsie.

Die redes vir die hernoeming van die historiese Hoffmanplein na Charlotte Maxeke is nog meer bedenklik, want hier bestaan geen historiese neksus nie. Dit is bloot ’n willekeurige arbitrêre keuse met geen historiese ondersteuning nie.

Kulturele transformasie

Die aanduiding van die Vrystaatse departement van kuns en kultuur is dat die naamsverandering deel van die transformasieteikens is wat nagestreef moet word.

Pieter LabuschagnéFoto:

Die transformasieteikens is onbekend en is in wese onlogies, indien dit volgens die bekende maatstaf is dat bevolkingsamestelling numeries moet ooreenstem met die name van dorpe, plekke, pleine en ander historiese objekte. Daar is geen bewys dat dié bedenklike kulturele gebruik elders in die wêreld geld nie.

Die transformasieteikens vorm eerder deel van die huidige kulturele suiwering om veral van Afrikanername ontslae te raak. Die Engelsman sir Harry Smith is die historiese figuur na wie die meeste dorpe in die Suid-Vrystaat genoem is. Dit is verstommend dat dié plekname nog nooit verander is nie. Ladismith en Ladysmith is albei na sy Spaanse vroutjie, Juana Maria de Los Dolores de Leon, genoem. Die dorpe Aliwal-Noord (na aanleiding van Smith se oorwinning in Indië) en Aliwal-Suid (later verander na Mosselbaai), Harrismith, Fauresmith en Smithfield is ook na hom genoem. Die name word behou ondanks Smith se bedenklike hantering van swart stamme en pionierboere in die binneland.

Kulturele transformasie behoort aan die groter oogmerk van inklusiewe nasieskap ondergeskik te wees, waar daar ruimte vir alle rassegroepe is. Dit beteken nie dat dit wat waardevol en dierbaar vir een minderheidsgroep is, bloot deur die meerderheidsparty ondergeploeg kan word nie.

Die geldende post-koloniale oogmerk is dat die ontbrekende geskiedenis, soos versinnebeeld in dorpsname en standbeelde, aangevul word (en nie vervang nie) deur die bykomende ontbrekende nuwe name en beelde.

Dit beteken en veronderstel nie dat roekeloos van die minderheidsgroep se kosbaarhede ontslae geraak moet word as deel van die aanslag teen historiese kolonialisme nie.

Die kolonialisme-veldtog verloor uit die oog dat Brand én Hoffman hulle ook voortdurend teen Britse imperialisme moes verset het.

Die pad vorentoe

Die “ekskuus dat ek lewe”-houding, wat reeds by rolspelers voor die verwydering van pres. M.T. Steyn se standbeeld voor die hoofgebou by die Universiteit van die Vrystaat bestaan het, se effek gaan toenemend gevoel word met die verdere verlies van kosbare kultuurskatte.

Nadat die NP-onderhandelaars voor die ANC se aandrang op meerderheidsmag geswig het, met die aanvaarding van ’n unitêre parlementêre model met monopolie oor mag, beskik die wit minderheidsgroep oor beperkte teenskuiwe.

Die verskuiwing van beelde na historiese enklaves, soos reeds met Steyn se standbeeld gebeur het “omdat dit beskadiging sou verhinder”, is deel van die inkalwing.

Die “lam ter wille wees”-houding stel toenemend alle kultuurgoedere/standbeelde in gevaar.

My oudkollega wyle prof. Willem Kleynhans het voor sy dood aan my gesê dat die dag wat hulle pres. Paul Kruger se standbeeld skuif, gaan hy met ’n piksteel daar staan.

Niemand wil geweld aanmoedig nie, want dit is nooit ’n goeie opsie nie.

Die tyd het egter aangebreek dat daar sterker met meer kragdadige opposisie teen die roekelose slopingswoede van ons kultuurskatte geartikuleer word.

Prof. Labuschagné is ’n emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.