Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tyd vir seremoniële president speel verby

Een van die statistieke wat rugby-ontleders gebruik, is hoeveel keer ’n span gedurende ’n wedstryd in die teenstanders se kwartgebied kom. En veral hoeveel van die besoeke in punte omskep word.

Barnard Beukman

Hoewel die All Blacks internasionale rugby tot voor 2019 oorheers en die no.1-plek beklee het, was hulle ironies genoeg etlike jare die span met die minste besoeke aan hul teenstanders se kwartgebied. Die enkele kere wat hulle daar was, het hulle dit wel in punte omgeskep en dit het hulle die groot wenners gemaak.

Hoewel die Cyril Ramaphosa-presidentskap aan die begin gesukkel het om in die teenstanders (binne die ANC) se kwartgebied te kom, het dit tog die afge­lope jaar of wat meermale ge­beur, maar sonder dat dit benut is om die nodige punte aan te teken. En dit is Suid-Afrikaanse toeskouers se groot frustrasie.

Van al die ontledings oor die situasie die afgelope twee weke in die land, staan dié van Jay Naidoo, voormalige ANC-politikus en sakeman, nogal uit. Die kernpunt van sy artikel vir die Daily Maverick is: “En nou, meneer die president, kom dit op jou neer om ons met moed en inspirasie te lei. Ons kan nie langer toelaat dat faksiegevegte in die ANC prioriteit geniet bo die belang van ons land, sy inwoners en die Grondwet nie.”

Al wat ’n mens by die pleidooi kan voeg, is: “Ons wag (steeds).”

Ramaphosa was die afgelope week stillerig. Ná die vorige naweek se rondlopery by geplunderde winkelsentrums, ook besem in die hand, is daar nie veel meer van hom gehoor nie. Wanneer hy gepraat het by dié geleenthede, het hy maar die refrein herhaal dat die burgers hul demokrasie verdedig het.

Maar sy ministers was nie so stil nie. Inteendeel, Bheki Cele, minister van polisie, en Ayanda Dlodlo, minister van staatsveiligheid, was in mekaar se hare oor of die polisie betyds gewaarsku is hier kom probleme of nie. Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging en militêre veterane, het rondgeval oor of sy die president ondermyn het met botsende ontledings van of dit ’n opstand was of nie. En Khumbudzo Ntshavheni, waarnemende minister in die presidensie, het almal tereggewys.

En Fikile Mbalula, minister van vervoer, was in ’n twis met Carl Niehaus – die enigste (geskorste) ANC-lid wat hulle enigsins die moed het om openlik van beweerde betrokkenheid by aanhitsing tot geweld te beskuldig. Amper soos die skoolgrondboelies wat net pik op die outjie wat geen speelmaatjies het nie.

Te veel word gemaak van die impak wat ’n nuwe kabinet kan hê. Politici wat stoele omruil, gaan te min, te laat wees. Maar die huidige situasie is onhoudbaar. Ramaphosa gaan uit sy hoek moet kom en meer verbeeldingryke leierskap op uitvoerende vlak moet ontplooi. Die soort ministers wat ’n aptyt het vir ’n verkleinde staatsdiens met ’n inspuiting van kundigheid en doelgerigte uitvoer van dienslewering. Hy kan nie langer optree soos ’n seremoniële president nie. Hy sal Naidoo se uitdaging moet aanvaar en wys hy het beheer oor sy kabinet. En is nie langer ’n gevangene van die ANC se toenemend steriele posisionering tot die vraagstukke van die land nie.

Interessant, Naidoo stel Ramaphosa so op dat sy enigste bydrae van nut as president juis in teenstelling met die ANC kan wees. Tereg so, want die organisasie lyk al hoe meer soos ’n bond van oudgediendes wat terugverlang­ na vervloë se dae van denkbeeldig sosialistiese paradyse wat nooit bestaan het of ooit kan wees nie.

  • Beukman is redakteur van Beeld.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.