Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Uit die era toe spaansvlieë ’n goeie raat was
Annelie Botes

In 1890, 120 jaar gelede, het die Paarlse Drukpers die resepteboek van mev. E.J. Dykman uitgegee. Dis destyds so hartlik ontvang dat dit ’n 17de druk beleef het.

Dit was nie net kosresepte nie, maar ook vir mediese kwale. Op ’n raaiselagtige manier moes daardie resepte teen slangbyt en stuipe en hartkloppings tóg gewerk het. Al kan ek my dit nie indink nie.

Verlede week toe ek by die tandarts sit en wag, is daar ’n onhebbelike kind wat, om geen verklaarbare rede nie, brul soos ’n leeu. Hy maak Oosterse gevegskunsgebare en skop so hard teen die mure dat ek vrees sy voetbene gaan breek. Dit laat my wonder of die kind nie die een of ander rare soort stuipe het nie.

’n Haarlose, plankmaer vrou meld later by die ontvangstoonbank aan. Ek vermoed sy kry behandeling teen kanker.

Terug by die huis is ek ontsteld oor die vrou, want wie weet deur watter donker dale sy op haar knieë kruip. En ook oor die skoppende kind wat so te kere gaan, ten aanskoue van sy ouers wat in tydskrifte blaai. Hoekom laat hulle dit toe? Of ly hy dalk aan obsessiewe gedrag en as gevolg daarvan is hulle uitgestotenes wat aangegluur word? Só kyk ek in die rooi hardebandboekie wat sou mev. Dykman se raat 120 jaar gelede gewees het.

Vir stuipe beveel sy aan dat ’n spaansvlieg so groot soos ’n trippens op die maag gesit word totdat dit ’n blaas trek.

En ek slaan amper soos Eli van die Bybel agteroor en breek my nek. Op die ou einde begin ek onbedaarlik lag, want in hierdie dae van verfynde mediese behandeling en prosedures klink dit asof sy bedoel het om ’n grapboek te skryf.

Vir stuipe beveel sy aan dat ’n spaansvlieg so groot soos ’n trippens op die maag gesit word totdat dit ’n blaas trek. Of die kind moet ’n mespunt gevylde staal met ’n teelepel hondemelk afsluk. Of hy moet ’n mespunt geskroeide, fyngestampte hondehare ingegee word. Dit sal glo die stuipe summier laat stop.

Toe kos dit my in ’n woordeboek kyk wat is ’n spaansvlieg. Dit blyk ’n groen insek te wees. Nog nooit só ’n vlieg gesien nie, en ek het geen idee waar en hoe om een te vang nie. Laat staan nog trippensgrootte.

Vir borskanker moet ’n rou skilpadlewer op die bors gesit word. Nog grilleriger as dít is die raat om agt paddas in ’n moeseliensakkie vas te bind en die sakkie op die bors te sit.

Die paddas sal glo onverwyld aan die bors vassuig en hulle dooddrink en afval. Dit moet herhaal word totdat 120 paddas dood is. Dan sal die kanker uitgesuig en die bors weer sy normale grootte wees. Sy las ook by dat die paddas se gesuig pynloos is.

Mev. Dykman was geen grapkas nie; sy was ’n gerespekteerde vrou wie se rate slaafs nagevolg is. Maar ek dank die hemele ek het nie in ’n era geleef toe spaansvlieë en hondemelk en suigende paddas die antwoord was nie.

Nogtans, alle eer aan ons voorouers wat nooit ophou probeer het nie, en aan wie ons ons voortbestaan te danke het.

Meer oor:  Annelie Botes  |  Kanker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.