Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Uit die internet spring prentjies en troosreuke

Dis ’n gesukkel om oom Tommy en tantLien se huis in Bellville te kry. Ek het die naam van hul straat vergeet. Dit was naby die treinspoor, weet ek. Die twee is lankal oorlede.

Boonop is dit ’n spoorweghuis, en een spoorweghuis lyk maar baie soos ’n ander een. Party van die huise is net groter, ander kleiner.

Dana Snyman

het al meer as een huis gekry wat hulle s’n kon gewees het, maar dis of iets by elkeen skort.

Die prentjie voor my oë klop nie met die een in my kop nie. Oom Tommy se appelkoosbome agterin die erf is nie daar nie, of die sementpaadjie tussen die tuinhekkie en voordeur makeer, of die stoep is kleiner as wat ek onthou.

In my geheue is oom Tommy en tant Lien se voorstoep groot en wyd en Sunbeam-rooi; langs die voordeur staan ’n lae bank – een of ander motor se agterbank. Oom Tommy het dit by ’n skrootwerf gekry en pote daaraan vasgesweis.

Langs die bank het ’n groot, koperkleurige patroondop gestaan wat tannie Lien met Brasso blinkgevryf het.

Brasso! Ek dink aan die medisynerige geur van Brasso as ek aan daardie patroondop dink.

Miskien kom reuke tot ’n mens se redding wanneer beelde jou faal. Terwyl ek die huise sit en bekyk, op soek na oom Tommy en tant Lien s’n, kom die reuke in hul huis na my terug.

Miskien kom reuke tot ’n mens se redding wanneer beelde jou faal.

Elke vertrek het sy eie reuk gehad: Sunbeam en Brasso op die stoep, meubelolie in die voorhuis. Meubelolie en swaar gordyne en ’n koek-koek-klok op die muur.

In die kombuis was dit iets van als: appelkoosjêm en kookvleis en peper en moerkoffie wat onderin ’n vaalbruin koffiesak in ’n ketel op die stoof staan en prut.

Het jy in die gang af gestap, het die reuke hulle een ná die ander uit die kamers, die badkamer en die kleinhuisie by jou kom aanmeld: motbolle, skoenpolitoer, Handy Andy, nagemaakte appelbloeisels en oom Tommy se Old Spice, wat in ’n wit, kruikagtige botteltjie langs sy Bybel en ’n Uit die Beek-Bybeldagboek op sy bedkassie gestaan het. En Vicks. Aan tannie Lien se kant het ’n botteltjie Vicks op die bedkassie gestaan.

O, die vertroostende geur van Vicks, met tant Lien se stem wat saam met dit kom: “Die kind het ’n slegte hoes. Ons sal hom met Vicks moet insmeer . . . Al wat gaan help vir daai toe neus is ’n bietjie Vicks . . . Ek gaan kry gou die Vicks, dan smeer ons dit aan daai stukkende plek aan sy been.”

Of ek oom Tommy en tant Lien se huis ooit tussen die ander sal vind, weet ek nie. Miskien is dit nie werklik belangrik nie. Ek het maar hierdie gewoonte om voor my rekenaar te sit en oor die internet aan te meld en na Google Earth te gaan en oor die aarde af te daal en na sekere plekke te soek.

Oom Tommy was ’n neef van oorlede Ma. Hy en tant Lien het nie kinders gehad nie. Hulle was my peetouers toe peetouers nog kon help om die wêreld vir ’n mens na ’n veiliger plek te laat voel.

Meer oor:  Dana Snyman.  |  Van Alle Kante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.