Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Uitdagende jaar lê vir ons voor

Die nuwe jaar is een week oud – ’n nuwe jaar met ou uitdagings.

Willie Spies

Die tweede, dodeliker golf van Covid-19-infeksies en -sterftes laat Suid-Afrikaners steier. Die hoop beskaam vir dié wat gehoop het op ’n terugkeer na normaal in die nuwe jaar.

Ons kan verwag dat sakeondernemings, skole, universiteite, kerkdienste, sport- en ander samekomste nog lank gaan ly onder die beperkings wat van tyd tot tyd per dekreet afgekondig word.

Die inperkings word deur die regering as ’n desperate tweede prys toegepas by gebrek aan ’n daadwerklike plan en die onvermoë om entstof spoedig by die hele bevolking uit te bring. Geld wat nog beskikbaar was vir die aanskaf van entstof, is vermors op ’n soveelste reddingsboei vir die bodemlose put skuld by die Suid-Afrikaanse Lugdiens.

Ramings van statistici dui daarop dat die kruin van die tweede vlaag omtrent teen 18 Januarie bereik gaan word, terwyl die algemene verwagting is dat ’n derde en selfs ’n vierde vlaag gaan volg.

Te midde van die skouspelagtige mislukkings van die staat die laaste paar jaar tree die private sektor en die burgerlike samelewing toenemend na vore om die leemtes te vul wat deur die staat gelaat word.

Die suksesvolle regsproses deur belastingbetalers van Koster en Swartruggens in die hooggeregshof in Noordwes om beheer te neem van hul munisipale dienste moet nou opgevolg word met die inwerkingstelling van ’n gemeenskapsgeleide munisipale inisiatief. Dit gaan ’n omvangryke uitdaging wees, maar dit kan gedoen word.

Teen 22 Februarie kan die matriekklas van 2020 uiteindelik sy uitslae ná ’n moeilike skooljaar verwag. Dit is nou indien die raad vir gehalteversekering in algemene en verdere onderwys en opleiding (Umalusi) instem om die uitslae te sertifiseer, ten spyte van die halsoorkop besluit van Angie Motshe­kga, minister van basiese onderwys, om twee vraestelle te laat oorskryf en die tersydestelling van haar besluit deur regter Norman Davies in die hooggeregshof in Pretoria.

Die DA sal moet walgooi teen die uitvloei van sy steun aan drie fronte.
.

Intussen berei die Verkiesingskommissie voor vir die landwye munisipale verkiesing, wat geskeduleer is vir die tweede helfte vanjaar. Dit sal waarskynlik iewers tussen 3 Augustus en 3 November plaasvind.

Indien tendense wat hulle in tussenverkiesings uitspeel in die landwye verkiesing herhaal word, gaan die ANC (oral behalwe in KwaZulu-Natal), die EFF, die IVP en die VF Plus waarskynlik beter doen as in 2016. Die DA sal moet walgooi teen die uitvloei van sy steun aan drie fronte nadat die party die afgelope drie jaar foute gemaak het wat tegelyk swart, bruin en konserwatiewe Afrikaner-kiesers vervreem het.

Litigasie in die openbare belang sal in 2021 voortduur en waarskynlik eskaleer. Die armdruk tussen oudpres. Jacob Zuma en die Zondo-kommissie gaan voortduur. So ook die regstryde tussen adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer, en politieke opponente van Zuma.

Vervolgings deur die staat en private vervolgings deur AfriForum gaan stuk-stuk verder gevoer word. Haatspraak en die verbied van die ou Suid-Afrikaanse vlag gaan weer in die konstitusionele hof aan die orde gestel word.

Onteiening sonder vergoeding is steeds op die nasionale agenda en sal ook in die howe draai.

Zimbabwiese boere gaan hul eise om vergoeding met AfriForum se bystand teen die Suid-Afrikaanse regering verder voer.

Kortom, 2021 gaan soortgelyk aan 2020 wees – maar tog ook anders. Mag die oorblywende 51 weke van 2021 ten goede uitdraai vir almal van ons.

  • Spies is ’n prokureur vir AfriForum en voorsitter van Pretoria FM.
Meer oor:  Willie Spies  |  Eff  |  Partypolitiek  |  Da  |  Anc  |  Verkiesings  |  Uitdagings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.