Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Uitklophou gevra in ANC se straatgeveg

Sou Cyril Ramaphosa by Nasrec enigsins naby die ANC-leierskap gekom het “if he had brought a knife to a gun fight” – om die Engelse uitdrukking te gebruik?

Miskien is dit een goeie ding van die CR17-onthullings: dat die leunstoelwaarnemers kan sien waar gedraai moes word en dat dit geen dikmat- en whiskyveldtog was nie.

Hy het ’n roekelose en misdadige spul om die leierskap uitgedaag. En hul kloue was al oraloor in ANC-strukture en staatsinstellings ingeslaan.

Barnard Beukman

Daar was ook nie werklik sprake van ’n homogene Cyril-kamp nie. Dit was ’n saamgeflanste anti-Zuma raap-en-skraap-groep wat selfs oorlewendes uit sy eens groot teenstan-der, oudpres. Thabo Mbeki, se kraal moes huisves. Verder was dit strukture in kleiner randprovinsies soos die Noord-Kaap, verbitterdes in KwaZulu-Natal wat deur Jacob Zuma uitgewerk is en aalmoese van adj.pres. David Mabuza, wie se premiersliga begin krake wys het. En, in alle billikheid, ook diegene wat toenemend deur staatskaping gewalg is.

Die groep het met ’n groot agterstand in die veldtog begin en dit het die status gebly totdat ’n ooreenkoms kort voor die stemmery met Mabuza bereik is. As hule dit nie vooraf besef het nie, weet hulle dit nou: Niks is nader aan die waarheid nie as George Orwell se opmerking “...politiek is ’n massa leuens, ontwykings, dwaasheid, haat en skisofrenie”.

Duidelik was die CR17-veldtog beter geïnfiltreer deur die “ander kamp” as wat daar enigsins oordeelkundig boekgehou en geld spandeer is. En dit is die soort kwessie wat politieke vuilspel goed pas. Daar spat soveel modder dat teen die tyd dat dit uiteindelik opgevee is, maak dit nie meer saak hoeveel substansie daar van werklike kwade gedrag daar was nie. Want die persepsie is reeds geskep. En daar is minstens reeds ernstige verleentheidswaarde in die onthullings. Selfs die Bill Potinger-operateurs van “witmonopoliekapitaal”-faam staar seker oopmond in bewondering.

Dit sou altyd ’n lelike straatgeveg wees en die wil van die Nasrec-verslaandes om heeltyd op te staan en terug te kom, is onderskat. Dit duur voort. En daar is merkbaar min ANC-politici van statuur wat bereid is om reguit en openlik tot Ramaphosa se verdediging te kom – dis nou benewens die gewone groepie van Pravin Gordhan, Tito Mboweni en Derek Hanekom, wat elke keer hard teruggeklap word. En, o ja, ook nou eers die SAKP wat laat en lomp vir die verdediging opgedaag het.

So heilig die CR17-middele die doel? En wat gaan aan in die ANC-binnegeveg? Die vrae is van veel minder belang as die ernstige negatiewe sentiment wat ten regte of onregte begin posvat oor die stand van die ekonomie. En veral die regering se vermoë om te doen wat nodig is.

Dit help ook nie dat Ramaphosa – wat steeds sterk steun en voordeel van die twyfel by ’n groot meerderheid van die bevolking geniet – die afgelope week boodskapdraer moes wees van wat almal reeds vermoed het nie: “Ons geld is op”. En by wyse van spreke moes erken sy internasionale werwingsveldtog vir beleggings val vas. Nou soek hy die nasionale neseier – die swaar verdiende pensioengeld. Die ontwerpers van die ANC se “nasionale demokratiese revolusie” moes gekraai het van plesier toe hulle dit hoor.

Tog steeds. Moenie die man onderskat nie. Maar diegene wat nog vir hom skreeu soek dat hy nou vinnig van die toue af kom en raak en uit slaan. En sigbaar die stryd wen om gesonde verstand bo ideologie te vestig.

  • Beukman is redakteur van Beeld.
Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Anc  |  Straatgeveg  |  Regering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.