Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Uitlewering van Guptas: Só sal proses verloop

Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het Interpol versoek om rooi kennisgewings uit te reik vir die inhegtenisneming van die Guptas, en hoewel dit verwelkom moet word, moet heelwat nog gedoen word om dié beweerde staatskapers in Suid Afrika terug te kry, skryf adv. JJ du Toit. 

Ajay en Atul Gupta Foto: Argief

Dit was goeie nuus om Atul en Rajesh Gupta (en hul vroue) se name te sien op ’n klagstaat wat onlangs by die streekhof in Bloemfontein ingedien is. Verskeie ander beskuldiges het ook verskyn en die saak is tot Julie uitgestel. 

Die klagstaat en gepaardgaande lasbriewe wat deur die NVG uitgereik is, is die eerste skuiwe in die uitleweringsaansoek van die Guptas.

Die inligting in rooi kennisgewings word gewoonlik aan lughawens en toegangsroetes oorgedra wat amptenare dan magtig om verdagtes vir normaalweg nie langer as 48 uur aan te hou nie.

Dit is ook verblydend dat Interpol versoek is om rooi kennisgewings uit te reik om die proses te bespoedig. 

Ons moet egter nie té opgewonde raak nie. 

Dit beteken maar net dat ons kennis aan lande gee dat die Guptas in Suid Afrika gesoek word vir beweerde oortredings – dit is nie ’n uitleweringsaansoek nie. 

Die inligting in rooi kennisgewings word gewoonlik aan lughawens en toegangsroetes oorgedra wat amptenare dan magtig om verdagtes vir normaalweg nie langer as 48 uur aan te hou nie. 

Die land wat versoek het dat die rooi kennisgewing uitgereik word, moet dan binne 48 uur minstens ’n aansoek vir die voorlopige inhegtenisneming rig aan die land waar die verdagtes in hegtenis geneem of aangehou word. 

In so ’n aansoek moet die regsgronde vir die versoek uiteengesit word en dit moet die relevante feite en aanklagte bevat sowel as ’n lasbrief en ’n aanduiding van wanneer die finale en formele uitleweringsaansoek gestuur sal word.

Die land waarin die verdagte(s) in hegtenis geneem of aangehou word, sal dan onder meer seker maak dat die aanklagte waarop Suid-Afrika se aansoek berus ook dáár oortredings is, en dat die voorlopige aansoek vir inhegtenisneming en uitlewering met die plaaslike regstelsel ooreenstem.

Indien wel, sal ’n lasbrief ingevolge die land se regstelsel uitgereik word, wat dan die magtiging sal verleen om die verdagte(s) formeel in hegtenis te neem en voor ’n hof te laat verskyn, hangende die formele uitleweringsaansoek wat Suid Afrika binne ’n sekere tyd moet rig.

Rol van politieke druk kan nie onderskat word  

Adv. JJ du Toit

Met misdaadgedrag wat nasionale grense nie in ag neem nie, het Suid-Afrika ’n aantal verdrae en bilaterale ooreenkomste met verskeie lande gesluit wat vir uitlewering en wedersydse regshulp voorsiening maak. Suid-Afrika het byvoorbeeld uitlewerings- en wedersydse regshulpooreenkomste met die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) gesluit. 

Dit maak voorsiening vir ’n aantal uitlewerbare misdade, insluitend dié van korrupsie. Luidens onlangse berigte het die VAE alle twyfel oor samewerking uit die weg geruim deur die verdrag op 12 April vanjaar te bekragtig.

Ander verdrae, soos die Verenigde Nasies se Konvensie teen Korrupsie (Artikels 44 en 46) – waartoe die VAE en Suid-Afrika albei partye is en deur hulle onderteken en bekragtig is – dien ook as ’n beduidende regsgrondslag wanneer Suid-Afrika dit oorweeg om teen misdadige gedrag op te tree.

Hierdie ooreenkomste verplig state om met mekaar saam te werk met betrekking tot die bekamping van misdadige bedrywighede. Terwyl hierdie ooreenkomste nooit samewerking kan waarborg nie, moet die politieke druk wat dit op ’n land uitoefen sowel as verwagtinge tot samewerking wat ’n versoek om hulp skep, nie onderskat word nie. 

Teen dié agtergrond kan nou gekyk word wat intussen nog gedoen kan word om die proses te versnel. 

Rooi kennisgewings word gewoonlik deur Interpol uitgereik as dit nie seker is waar ’n verdagte hom/haar bevind nie of as voorkom wil word dat hulle verder reis.

Ek is daarvan oortuig dat Interpol weet waar die Guptas hulle tans bevind en die uitdaging is om hulle so gou moontlik in hegtenis te neem. 

Die minister van justisie kan ook ’n deurslaggewende rol speel om die proses te versnel.

Ek hoop en vertrou dat die NVG intussen ook ’n aansoek vir die voorlopige inhegtenisneming en uitlewering aan Interpol gestuur het. 

Dit sal deur die direkteur van openbare vervolging in die Vrystaat voorberei moet word aangesien die beweerde oortredings binne haar regsgebied plaasgevind het. Ná die inhegtenisnemings sal die departement van justisie dan die formele aansoek om uitlewering via diplomatieke kanale stuur na die land waar die inhegtenisnemings plaasgevind het.

Die minister van justisie kan ook ’n deurslaggewende rol in hierdie verband speel om die proses te versnel deur byvoorbeeld met relevante mense in die betrokke lande te vergader om die deure vir samewerking, wat dalk voorheen om die een of ander rede gesluit was, te laat oopswaai.

Dit blyk uit onlangse berigte dat die minister van justisie meer positief is dat die VAE met ons sal saamwerk in die toekoms om die uitleweringsproses te versnel. Dit is duidelik in landsbelang dat dit gebeur. 

• Adv. JJ du Toit is ’n afgetrede adjunkdirekteur van openbare vervolging in Johannesburg en was hoof van die uitleweringsafdeling in dié kantoor. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk 24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.