Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Uitnemendheid net moontlik deur diversiteit

In 1 Korintiërs 12:31 nooi Paulus ons uit na ’n lewe van uitnemendheid.

In hierdie dae vereer opvoedkundige instellings en ander instellings in die samelewing die uitmuntendheid van leerders en personeel.

Uitmuntendheid moet geloof en aangemoedig word.

Waar ons uitnemendheid nastreef, floreer samelewings. Waar ons ’n openbare kultuur voed wat middelmatigheid loof en visse prys omdat hulle swem, krepeer samelewings. Waar ons onderprestasie verdra, gaan samelewings tot niet.

Uitmuntendheid bestaan waar mense hul Godgegewe doeleindes bereik en hul Godgegewe talente ontplooi.

Uitmuntendheid is egter spesifiek en kontekstueel.

Vir die een leerder is 80% uitmuntend in terme van sy vermoë en vir ’n ander een is 60% uitmuntend.

In die herkenning, erkenning en beloning van uitmuntendheid moet hierdie spesifikasie in ag geneem word. Die berekening en bekroning van uitmuntendheid moet ook die sosiale en ekonomiese ongelykhede wat in ons samelewings bestaan, in ag neem.

Mense met dieselfde talent en kapasiteit kry dikwels nie dieselfde gunstige omstandighede, aanmoediging, blootstelling, geleenthede en investering om daardie talente tot volle ontplooiing te bring nie.

Ons kan dus nie uitmuntendheid definieer en beloon of die speelveld gelyk is nie.

Ons kan dus nie uitmuntendheid definieer en beloon of die speelveld gelyk is nie.

In gesprekke hieroor neem ons nie net die diversiteit van individue se talente en die ongelykheid van geleenthede in ag nie. Gesprekke oor uitmuntendheid neem ook die diversiteit van agtergrond, kleur, sosio-ekonomiese posisie, gender, seksuele oriëntasie, gestremdheid, ouderdom, taal, kultuur, nasionaliteit, lewensbeskouing en dies meer in ag.

Die diversiteit van gesigspunte en sieninge is ook van groot belang. Ons kan nie van uitmuntendheid praat sonder om ’n diversiteit van rolspelers, agtergronde en gesigspunte om die tafel te hê nie.

Hierdie beskouing van uitnemendheid deur diversiteit en van geen uitnemendheid sonder diversiteit, weerspreek en bestry die diskriminerende siening van die verhouding tussen diversiteit en uitnemendheid wat in die apartheidsjare gegeld het. En wat steeds, minstens op onderbewuste vlak, by baie mense bestaan.

Hierdie pynigende siening lui kortweg: Hoe meer ons toeneem in diversiteit, hoe minder uitmuntend word ons.

Die klem op uitmuntendheid wil nie prestasie-angs skep nie. Dit vra nie van ons om perfek te wees nie. Dit weet die perfekte kan die vyand van die goeie en selfs die uitmuntende wees.

Die teoloog Dirkie Smit sê dit treffend: “Ek ding nie mee met ander mense nie. Ek ding net mee met myself.

“Ek vra myself voortdurend af of dit nou werklik die beste is wat ék kan doen.”

Kom ons kweek uitmuntendheid as visie en ideaal; as waarde en gedragsaanwyser en veral as habitus, gewoonte, deug; as ’n intuïsie, geneigdheid, ingesteldheid wat ons beliggaam en praktiseer sonder om eens daaroor na te dink.

Uitmuntendheid as habitus maak van die wêreld ’n habitat waarin lewe blom.

  • Koopman is ’n teoloog en viserektor aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Nico Koopman  |  Diversiteit  |  Godsdiens  |  Beloon
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.