Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Uitspraak druk partye in ’n hoek

Die konstitusionele hof se beslissing verlede week dat dele van die Kieswet ongrondwetlik is, gaan sonder twyfel die parlementêre politieke landskap in Suid-Afrika aansienlik verander.

In essensie beteken die beslissing dat dié dele van die wet wat individue verbied om as onafhanklike kandidate vir die Nasionale Vergadering en provinsiale wetgewers te staan, ongrondwetlik is. Die hoogste hof het die parlement 24 maande gegee om die Kieswet dienooreenkomstig te verander.

In hierdie opsig is die beslissing ’n slag vir gevestigde politieke partye en dit bedreig onder meer die mag wat hulle het om LP’s en LPW’s se stem ten volle te beheer. Die gevolge van die huidige bepalings is dat LP’s en LPW’s nie aan die kiesers nie, maar aan hul politieke party verantwoording verskuldig is. Die huidige wet, het die hof beslis, maak inbreuk op mense se reg op vryheid van assosiasie.

Politieke partye het taamlik louwarm op die uitspraak gereageer. Die ANC het laat weet dat hy die uitspraak eers wil bestudeer. Die DA het dit verwelkom en só ook die EFF en Cope. Die VF Plus het bedenkinge uitgespreek dat die uitspraak die ANC kan bevoordeel “om groter verteenwoordiging te kry met minder stemme”.

Dit is ’n ope vraag of hulle so ver sal gaan as om LP’s en LPW’s toe te laat om op bepaalde tye volgens hul gewete eerder as die party se wil te stem.

In die vroeë 2000’s het oudpres. Thabo Mbeki die voormalige opposisieleier Frederik Van Zyl Slabbert aangestel as voorsitter van ’n taakspan om die land se kiesstelsel te ondersoek en aanbevelings daaroor te maak.

Die Slabbert-kommissie het inderdaad voorstelle gemaak, maar dit is summier deur die ANC en die regering eenkant geskuif en geïgnoreer.

Een van die taakspan se voorstelle wat groot steun gehad het, was ’n hibriede stelsel tussen die beginsels van “eerste oor die streep” (baie soos die Britse stelsel) en proporsionele verteenwoordiging. Dit was klaarblyklik onaanvaarbaar vir die destydse regering en die kwessie is na die kantlyn geskop.

Die konstitusionele hof het politici nou nie meer ’n keuse gegee nie en dit sal baie interessant wees om te sien hoe hulle gaan reageer.

Ongeag hul reaksie kan dit maar aanvaar word dat dit vir politieke partye baie belangrik is om ’n houvas op hul verteenwoordigers te hê en te behou.

Dit geld veral die ANC. In die onlangse verlede het die party moeite gedoen om te keer dat sy LP’s ten gunste van mosies van wantroue teen oudpres. Jacob Zuma stem.

Die party het dit in geen onduidelike taal nie oorgedra dat LP’s wat teen die party se posisie sou stem, ’n duur prys daarvoor sou betaal. Met loopbane op die spel het Zuma die mosies van wantroue maklik oorleef. Dít is wat gebeur as jou verteenwoordiger onderhewig is aan die gesag van sy party en nie aan die sentiment van die kiesers nie.

Politieke partye wat nie met die hof se uitspraak saamstem nie, het nou geen ander keuse as om met wetgewing vorendag te kom wat onafhanklike kandidate in nasionale en provinsiale verkiesings toelaat nie.

Dit is ’n ope vraag of hulle so ver sal gaan as om LP’s en LPW’s toe te laat om op bepaalde tye volgens hul gewete eerder as die party se wil te stem. Moet egter nie die asem ophou nie.

Die heersende stelsel verleen buitensporige mag aan partybase en hulle sal dit graag só wil hou. Dit is onwaarskynlik dat ’n politikus soos Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, afstand sal wil doen van die mag wat die bestaande stelsel aan hom en ander gee.

Die hof het politieke partye die geleentheid gegee om meer verantwoordbaar aan kiesers te wees. ’n Mens kan maar net hoop dat hulle dit só sal sien en nie as ’n bedreiging vir hul gevestigde magsposisie nie.

  • Jeffreys is ’n onafhanklike kommentator.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.