Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Uitsterf van die kommas ná aanhef, groet
Gerhard van Huyssteen

Teen dié tyd het algar seker al op sosiale media die 1972-brief van die Suid-Afrikaanse Lugdiens gesien waarin ’n waardin deur die assistenthoofbestuurder aangespreek word, opdat sy asseblief vir ons 1,1 kg moet afskud voor die volgende inweegsessie, baie dankie en groetnis die uwe.

In my eie plasing op Facebook kies ek om tong-in-die-kies te fokus op die feit dat daar ná die aanhef (“Geagte mejuffrou,”) en die groet (“Die uwe,”) kommas gebruik is – ’n praktyk wat om die een of ander misterieuse rede in Afrikaans uitgesterf het.

Wanneer het dit gebeur? Facebook-kollega Ilna Stander hipotetiseer dat dit dalk in die 1974-kurrikulum vir die destydse standerd 8’s ingevoer is, want die matrieks van 1976 (so lyk dit vir ons) was die eerstes wat die formele brief in die sogenaamde blokformaat en sonder ’n komma moes skryf.

Soos ’n swaeltjie nie ’n somer maak nie, so maak ’n komma nie ’n taal nie.

Let op: Dis die skoolkurrikulum wat verander het, nie Afrikaans nie. Iewers het ’n onderwyser of amptenaar besluit dat die blokformaat meer wenslik vir die skoolkurrikulum is, en van toe af dink almal die Mede en die Perse het een of ander wet oor Afrikaans gemaak.

Laat ons maar eerlik wees: Soos ’n swaeltjie nie ’n somer maak nie, so maak ’n komma nie ’n taal nie. Dié briefkomma is niks anders as ’n geïnstitusionaliseerde konvensie nie.

Om ondersteunende bewyse vir Ilna se hipotese te kry, vaar ek ons universiteitsbiblioteek binne. Die oudste brieweboek waarop ek my hande kan lê, dateer van 1937 en die jongste normatiewe bron van 2017 – ’n tydperk van 80 jaar. In die ouer bronne is die boodskap glashelder: Gebruik kommas aan die einde van die aanhef- en slotreël in ’n brief. In die 1970’s begin die voorskrifte wissel: Sommige outeurs sê by die blokformaat mag nie kommas gebruik word nie, ander gebruik rustig die komma van oudsher. Teen die 1980’s is die briefkomma so goed as uitgestorwe, en sedert die 1989-uitgawe van die bekende Norme vir Afrikaans is die kommalose brief die standaard.

In 2017, vir die eerste keer in Standaardafrikaans se geskiedenis, kry ons ’n geformaliseerde reël oor dié kwessie in die AWS. Reël 13.44 draai geen doekies hierom nie: “Die komma word nie ná die aanhef en groet in ’n brief of e-pos gebruik nie. Indien die aanhef of die groet egter op dieselfde reël as die res van die boodskap geplaas word, word dit met ’n komma van die res van die teks geskei.”

  • Gerhard van Huyssteen is ’n taalkundige aan die Noordwes-Universiteit. gerhard.vanhuyssteen@nwu.ac.za
Meer oor:  Gerhard Van Huyssteen  |  Taal  |  Afrikaans  |  Standaard-Afrikaans  |  Kommas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.