Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Uitvoering vorder al van tienjaarplan om ‘WAT’ te voltooi

’n Tienjaarplan om die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) te voltooi, is tans besig om uitgevoer te word. ’n Paar vrae is aan Willem Botha van die WAT gevra.

Wat is die agtergrond van die tienjaarplan?Die Buro van die WAT het in 2017 ’n radikale en verbeeldingryke plan goedgekeur om die woordeboek binne tien jaar in plaas van die beoogde 20 jaar tot by Z te voltooi.

Die idee om die WAT binne tien jaar te voltooi, het by die WAT-trust ontstaan. Die trustees sien om na die beleggings van die WAT en help met fondswerwing.

Hulle opdrag aan my was: “Wat is nodig om die WAT binne tien jaar te voltooi? Formuleer ’n tienjaarplan vir die voltooiing van die WAT tot by Z.”

Ek het die geleentheid aangegryp en ’n plan met projeksies en begrotings geformuleer wat aan die WAT-personeel, die direksielede en trustees voorgelê is en in 2018 in werking gestel is.

Waarom neem dit so lank om die ‘WAT’ te voltooi?Die WAT is ’n omvattende verklarende Afrikaanse woordeboek.

Elke ontwikkelde taal moet oor ’n omvattende woordeboek beskik wat die taal op ’n wetenskaplike wyse in sy wydste omvang weerspieël.

Dit beteken dat nie net die standaardvariëteit van die taal nie, maar ook die ander variëteite, saam met streektaal, geselstaal, uitdrukkings en verouderde taal ’n tuiste in die woordeboek vind.

’n Omvattende woordeboek neem gemiddeld 100 jaar om te voltooi. Ons Nederlandse eweknie, die Woordenboek der Nederlandse Taal, is in 1997 ná 146 jaar voltooi. Die eerste deel van die WAT het in 1950 verskyn, 70 jaar gelede, alhoewel daar in die jare daarvoor voorbereidingswerk gedoen is. Die goeie nuus is dat die WAT oor agt en half jaar voltooi sal wees tot by Z, danksy die tienjaarplan.

Was daar risiko’s verbonde aan die plan wat julle in ag moes neem?Die risiko’s verbonde aan die plan is geformuleer en die beskikbaarheid van vyf geskikte leksikograwe was hoog op die lys van risiko’s. Ons kon egter ’n keurgroep van vyf leksikograwe aanstel met ’n pragtige balans tussen ervaring en jeugdigheid.

Elke ontwikkelde taal moet oor ’n omvattende woordeboek beskik wat die taal op ’n wetenskaplike wyse in sy wydste omvang weerspieël.

Hierdie vyf mense het nuwe energie en verdere hoëvlak-rekenaarkundigheid na die WAT gebring. Intussen het ons nog twee ervare leksikograwe op ’n tydelike basis aangestel.

Hoe vorder die uitvoering van die plan?Dit gaan baie goed met die inwerkingstelling van die plan: ons het genoeg woordeboekmakers en ons donateurs se ondersteuning is deurslaggewend.

Bykans 80% van die WAT se inkomste is afkomstig van donasies en geldgenererende projekte van die WAT soos Borg ’n Woord. Sommige donateurs het hul jaarlikse bydrae verdubbel om die tienjaarplan moontlik te maak. Ons donateurs het ’n langtermynvisie en hulle besef dat indien die woordeboek vinniger voltooi word, dit finansiële voordele inhou.

Wat die alfabetiese vordering met die WAT betref, het ons vir onsself baie spesifieke kwartaallikse doelwitte gestel. Die vordering word dan afgebreek in die maandelikse monitering van elke redaksielid se produksie.

Elke redaksielid lewer ’n maandverslag aan die eindredakteur wat dan dié verslae met my bespreek. Daarna voer ek ’n gesprek met elkeen oor sy of haar produksie vir daardie maand.

Ons het vanaf Januarie 2019 elke gestelde doelwit bereik en selfs oortref, sodat ons tans voor die skedule is. Die feit dat ons voor die skedule is, beteken dat ons ’n buffer het indien ’n onverwagte probleem sou ontstaan weens die inperking. Die WAT-personeel werk sedert 18 Maart 2020 tuis en omdat woordeboekmakers gedissiplineerde werkers is, gaan dit baie goed met die tuiswerkery.

Ons het WhatsApp-groepe waarop die werk bespreek word en elke Vrydag is daar twee virtuele vergaderings: een met die redaksie en die ander met die datasistematiseerders en administratiewe personeel.

Ons waardeer egter elke bydrae van mense wat lief is vir Afrikaans en is dankbaar vir elke deelnemer aan Borg ’n Woord.

Die WAT word aanlyn saamgestel, wat beteken dat die werk eenvoudig tuis kon voortgaan. Verskeie prosedures moes noodwendig aangepas word, maar die personeel is vindingryk en ons het ’n kultuur van deelnemende bestuur sodat almal gewoond daaraan is om te help om oplossings vir nuwe uitdagings te vind. Ons beleef dus die inperking as ’n opwindende tyd waarin ons voortdurend nuwe strategieë bedink om so doeltreffend as moontlik te werk.Die grootste deel van die ‘WAT’ se inkomste is afkomstig van donateurs. Wie is julle grootste donateurs?Die groot bydraes tot ons geld kom hoofsaaklik van stigtings en trusts wat juis die bevordering van Afrikaans ten doel het.

Ons is oneindig dankbaar teenoor die trustees van hierdie instellings wat dit moontlik maak dat die WAT steeds ’n dinamiese en produktiewe maatskappy kan wees. Ek noem graag die name van Het Jan Marais Nationale Fonds, die Trust vir Afrikaanse Onderwys, die Rupert-familie se stigtings, Sanlam, die Nancy Steyn-trust, die Jannie Mouton-stigting, die Hiemstra-trust en die Universiteit Stellenbosch.

Ons waardeer egter elke bydrae van mense wat lief is vir Afrikaans en is dankbaar vir elke deelnemer aan Borg ’n Woord.

Hoe werk Borg ’n Woord?Die doel van Borg ’n Woord is om mense opnuut bewus te maak van die waarde van woorde. Enige Afrikaanse woord, ongeag of dit in ’n woordeboek verskyn, kan geborg word vir R100 of gekoop word vir R5 000.

Volledige inligting verskyn op die WAT se webtuiste by www.wat.co.za. Daar kan elke jaar R25 000, geborg deur Sanlam, in ’n prystrekking gewen word.

Is daar aspekte van die werk aan die ‘WAT’ wat nog nie elektronies geskied nie?Die groot bekommernis was altyd die WAT se unieke materiaalversameling wat oor die afgelope eeu versamel is. Hierdie kosbare spieël van Afrikaans is vanaf 1920 deur skaredeelname tot stand gebring. Dit verteenwoordig die gebruik van Afrikaans van ongeveer 1880 tot 1990.

Al die standaardwerke van ’n wye verskeidenheid vakgebiede is ook op die rakke.

Dit is ook die grootste bron van Afrikaanse streektaal. Die versameling bestaan uit 3,5 miljoen indekskaartjies in liasseerkabinette. Gelukkig is dié waardevolle versameling onlangs met die hulp van plaaslike en Nederlandse donateurs gedigitaliseer.

Die redaksie het dus volle elektroniese toegang van A tot Z tot hierdie skat van woorde wat die inhoud van die WAT anders as alle ander Afrikaanse woordeboeke maak. Vanaf die negentigerjare is ons data oor Afrikaans hoofsaaklik elektronies beskikbaar.

Die WAT beskik oor ’n uitgebreide biblioteek wat nie gedigitaliseer is nie waar die korrektheid van die aanhalings in die WAT uit onder meer die Afrikaanse letterkunde gekontroleer word. Al die standaardwerke van ’n wye verskeidenheid vakgebiede is ook op die rakke. Die nodige maatreëls is vanaf 1 Junie ingestel dat redaksielede vanaf vlak 3 van die nasionale inperking die biblioteek volgens streng Covid-19-regulasies kan gebruik.

Wat gebeur nadat Z voltooi is in 2028?Die werk aan enige woordeboek is ’n dinamiese proses. Taal verander en ontwikkel voortdurend en ’n woordeboek moet dit weerspieël as dit relevant en geloofwaardig wil bly.

Die werk aan die Aanlyn Woordeboek van die Afrikaanse Taal sal dus ná die letter Z op kleiner skaal voortgaan ten einde die ontwikkeling van die Afrikaanse taal te bly weerspieël. Dink byvoorbeeld aan al die nuwe Afrikaanse woorde wat nou tydens die pandemie geskep is.

Woordeboeke moet eenvoudig aanhou vasvang wat in die taal gebeur, anders lei dit tot frustrasie by die gebruiker wat al hoe meer woorde nie in die woordeboek kan kry nie.

Opwindende nuwe kleiner woordeboeke kan ook uit die unieke materiaalversameling van die WAT saamgestel word.

  • Dr. Botha is hoofredakteur en uitvoerende direkteur van die Buro van die WAT.
Meer oor:  Willem Botha  |  Wat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.