Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Universiteit deesdae agent van verandering

Dertig jaar gelede het ek ’n MA-verhandeling in die wysbegeerte geskryf oor die wese van ’n universiteit. Die studie was verweef rondom drie redes: die politieke aandrang op groter toeganklikheid tot universiteite; die aandrang op groter betrokkenheid by die gemeenskap (gemeenskapsdiens genoem); en die vraag wat presies die taak van ’n universiteit in ’n veranderende samelewing is.

Omdat dit ’n studie in filosofie was (in die Dooyeweerd-tradisie), was dit gegrond op ’n tipiese struktuuranalise van wat ’n universiteit is. Die konteks van die studie was apartheid-Suid-Afrika, plek-plek die Christelike etos (dink maar aan die voormalige Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys), die groeiende bewuswording van die studentestem en die noodsaaklikheid van groter relevansie vir die gemeenskap.

Die hoëronderwysstelsel was tweeledig: universiteite en technikons vir onderskeidelik beroepsrelevante en beroepsgerigte onderwys. Rasionalisasie was reeds in sig. So byvoorbeeld is ’n ondersoek na die bestaansreg en plek van dramadepartemente onderneem. Internasionalisering en studentemobiliteit was nie prominent op die voorgrond nie, maar eerder die bou van ’n eie, Suid-Afrikaanse, akademiese kultuur. Hierna is verwys as die “inheemswording” van die wetenskap.

Vrae is ál meer gevra of die universiteit ’n “akademiese supermark” is.

Vrae is ál meer gevra of die universiteit ’n “akademiese supermark” is, hoe moet met die politiek van die dag omgegaan word en kan die bestaan van verskillende teologiese fakulteite vir verskillende kerke geregverdig word. Dit was duidelik dat die universiteit van toe op die altaar geplaas sal word vir ’n groter sosiale doel.

Onder beurstoekennings was cum laude-kandidate koning! Intussen was daar ook ’n gesprek aan die groei oor dosentevergoeding en die gehalte en toepaslikheid van onderrig. Natuurlik was finansies ook toe op die voorgrond, veral oor die toepassing van die sogenaamde subsidieformule.

Nou, 30 jaar later, kyk ek weer na die veranderende universiteits­tipologie. Dit is duidelik dat die debat verdiep en meer intensief geword het. Nuwe vrae het bygekom.

Oor drie dekades het ek die volgende opgemerk: Universiteite is lankal nie meer die enigste kennisontwikkelaars nie. Die klem is ook nie net op kennisproduksie nie, maar die relevansie en toepaslikheid van die kennisproduksie. Kennis kan nie in ’n vakuum bestaan nie, maar moet tot verandering kan lei. Danksy die sogenaamde kennisekonomie word groot geldwaarde aan kennis as “rou produk” vir die kennisekonomie geheg. )

Universiteitsonderrig moet lewenslange leer stimuleer.

Universiteitsonderrig moet lewenslange leer stimuleer. Iemand kan nie maar “graad vang” en dan is die tyd om te leer verby nie. Die wêreld verander eenvoudig te vinnig om met bestaande kennis die uitdagings van die samelewing aan te pak. ) Die romantiese idee van ’n universiteit het verdwyn.

Begrippe soos beleide, kwaliteit, risikobestuur, derdestroom-inkomste en dies meer het nou hoofstroom-aktiwiteite geword. Universiteite is soos groot ondernemings wat met sakevernuf bestuur moet word. Die spreekwoordelike dae van “Pretoria sal voorsien”, is verby.)

Daar is ’n kritiese dialoog oor die groter betekenis van wat ’n universiteit is. Universiteite is lank nie meer die bastion van kennis nie, maar eerder ’n agent van verandering wat oplossings moet gee vir die komplekse wêreld waarbinne ons lewe. Verder moet universiteite ook tot die ontwikkeling van die gemeenskap bydra.) Die idee van persoonlike ontwikkeling het oorgegaan na goeie burgerskap.

Universiteite kry die taak om deur onderrig, navorsing en gemeenskapsprogramme studente te sensitiseer om deur hul kennis sosiale en ekonomiese verandering teweeg te bring.

Dit is duidelik dat universiteite voortdurend moet aanpas en verander om aan die behoeftes en verwagtings van die samelewing te voldoen.

Prof. Lategan is senior direkteur van navorsingsontwikkeling en nagraadse studies aan die Sentrale Universiteit vir Tegnologie in die Vrystaat.

Meer oor:  Opleiding  |  Universiteite  |  Onderrig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.