Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
US moet besin oor navorsing
Amanda Gouws
Amanda Gouws.

Die omstredenheid oor die artikel “Age- and Education-Related Effects on Cognitive Functioning in Colored South African Women” duur voort en raak almal wat aan die Universiteit Stellenbosch (US) verbonde is.

Dit weergalm deur die gemeenskap, die woede op sosiale media duur voort, en die naweek se Sunday Times het die outeurs van die artikel benoem as die “Mamparras van die week”.

Op sosiale media word die US “The gift that keeps on giving” genoem, wat by implikasie beteken dat personeel en studente wat navorsing genereer, rassisties is, ongeag daarvan dat die US ’n sentrum van uitnemendheid is of dat die US ’n groot aantal internasionaal gerekende navorsers het.

Dit het net een artikel geneem om almal deur assosiasie skuldig te maak.

Die artikel gaan inderdaad mank aan ernstige probleme wat betref metodologie, die proefgroep, interpretasie van die data, en breë veralgemenings.

Die groter probleem wat egter die bruin gemeenskap verwond het, is die onnadenkende manier waarop ras-kategorieë uit die apartheidstyd gebruik is, in hierdie geval “Kleurling” (Colored).

Dra navorsing by tot transformasie of tot die behoud van ras-kategorieë?

Daar is diegene wat nou eis dat raskategorieë nie meer in navorsing gebruik word nie. Dit sal egter beteken dat dié van ons wat spesifiek in politieke wetenskap, sosiologie en sielkunde navorsing doen, een van die belangrikste verklarende veranderlikes, naamlik ras, sal verloor. Hoe doen ons navorsing oor die politiek of die verkiesing as ons nie ras in ag kan neem nie?

Dit is egter hoe ras in ag geneem word as ’n verklaring wat belangrik is. Dit gaan oor watter oorsaaklikheid en korrelasies getrek word tussen byvoorbeeld ras en gedrag of ras en houdings.

Hoe praat ons oor die interseksionaliteit tussen identiteite, byvoorbeeld ras en geslag (nog iets wat by die artikel ontbreek)?

Dra navorsing by tot transformasie of tot die behoud van ras-kategorieë?

Die probleem is dat die transformasie van die wetenskapskultuur grootliks oorgelaat word aan die fakulteite lettere, opvoedkunde, regte en teologie. Studente aan ander fakulteite word nie noodwendig blootgestel aan die uitdagings van transformasie waarmee studente en dosente aan hierdie fakulteite worstel nie. Hopelik word nou bewustheid gekweek oor hoe daar met ras-kategorieë omgegaan behoort te word.

Ons lewe in ’n tyd van naming and shaming, iets wat ook hierdie vyf (relatief jong) outeurs te beurt geval het.

Lesingreekse aan die US wat hierdie probleme belig – soos die navorsingsprojek Indexing the Human oor die geskiedenis van ras-wetenskap aan die US, die uitstalling Deadly Medicine: Creating the Master Race, oor die dodelike gevolge van ras in wetenskap, in die US Museum, asook my eie South African Re-search Chairs Initiative-reeks oor gender – word gekritiseer of swak bygewoon. Dit is asof daar verwag word dat net sekere dosente hierdie werk wat poog om die navorsingskultuur te verander, moet doen.

Ons lewe in ’n tyd van naming and shaming, iets wat ook hierdie vyf (relatief jong) outeurs te beurt geval het. Maar dit is ook belangrik om te verstaan hoe die stelsel hulle gefaal het.

Waar was die oorsigfunksies wat nougesette navorsing kenmerk? Hoekom het die portuurvakkundiges nie hulle werk gedoen nie? Wat van die redakteurs en die uitgewer wat nou die artikel teruggetrek het asof hulle geen skuld dra nie? Hulle almal het insae hierin gehad.

Ons kan mense shame en straf en om verskoning vra. Of ons aan die US kan dit as ’n geleentheid sien om die outeurs iets te leer én ook om diep te delf in ons navorsingskultuur.

Dis nou die tyd dat ’n breuk gemaak moet word met die verlede wat ras-navorsing gebruik het om die apartheidstelsel te steun en te regverdig.

Gouws is professor in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch.

Meer oor:  Amanda Gouws  |  Navorsing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.