Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
US se denkrigting oor Afrikaans skiet ver tekort

Die debat oor die plek van Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch woed steeds voort. Frederik R van Dyk lewer repliek op prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier, se onlangse verduideliking daaroor.

Die standbeeld van J.H. Marais op die kampus van die Universiteit Stellenbosch. Foto: Gallo Images

Daar is al dikwels gesê dat alles ná die woord “maar” in ’n “jammer, maar”-stelling beesfaeces is (om dit wetenskaplik te stel).

Die rektor van die Universiteit Stellenbosch en gastroënterologie-kenner, prof. Wim de Villiers, moet dit tog sekerlik weet. Sy poging om sy hantering van die taalkrisis aan die US te verduidelik, laat veel te wense oor, en ek verwerdig my om sy bydrae paragraaf vir paragraaf uit te pak. Hier gaan ons:

Is die US ’n Engelse universiteit? Nee, al word ons verkeerdelik so uitgebeeld. Is die US ’n isiXhosa-universiteit? Duidelik nie. Ons gebruik tans betreklik min isiXhosa, hoewel ons probeer om dié taal ook as akademiese medium uit te bou. Is die US ’n Afrikaanse universiteit? Nee, lank nie meer nie, en ons kán dit ook nie wees nie, hoe graag sommige ook al aan die verlede wil vasklou.

Daar sit die eerste angel. Soos sy eie departement Afrikaans-Nederlands aan hom uitgewys het, kom die neiging om die debat oor die plek van Afrikaans aan die US as ’n stryd van die nostalgiese etnies-behoudendes af te wys, vanuit ’n lui en mikro-aggressiewe houding. Dit dra by tot ’n atmosfeer van vrees om standpunt oor Afrikaans in openbare plekke in te neem, ongeag die meriete en benadering van die standpunt.

Die kern hiervan bly die US-bestuur se versuim om aan Afrikaans ’n volhoubare en lewenskragtige plek in die openbare kennisomgewing te gun.

Verder, De Villiers se “standpunte vir Afrikaans = behoudend” is ’n strooiman-argument, in die gees van Jonathan Jansen se onlangse bitterbek-benadering. Deur te hamer op ’n gewaande oproer van Afrikaner-behoudendes, pleeg hy ’n tipe strooiman-opstelling wat ’n mens “beslyming” noem: Die denkfoutpleger trek die aandag van die teenargument af deur sy opponente te “beslym” in ’n poging om aandag van die kern van die debat af te lei.

Die kern hiervan bly die US-bestuur se versuim om aan Afrikaans ’n volhoubare en lewenskragtige plek in die openbare kennisomgewing te gun.

Hy kan gerus die politieke uiteenlopendheid van standpunte vír proaktiewe meertaligheid en Afrikaans se plek gaan oplees; daar is talle skrywes uit alle oorde die laaste paar weke.

De Villiers en sy bestuur opper dikwels die mantra “ons is nie ’n Engelse/Afrikaanse/Xhosa-universiteit nie”, maar dit getuig van hul beskouing van taal as probleem, eerder as reg en hulpbron. Miskien moet hulle die mantra aanpas: “Die US is ’n universiteit vir Afrikaans, vir Engels, vir Xhosa”.

Dit sal minstens ’n proaktiewe houding jeens veeltaligheid kommunikeer.

Prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier van die Universiteit Stellenbosch. Foto: Stefan Els

“Ons wend Engels aan as een van ons onderrigtale omdat ons die hele bevolking wil bedien, en nie net ’n bepaalde deel nie.”

Dis oneerlik, en weer beslyming om soos hier te insinueer dat die pro-Afrikaanse stemme in die taalkrisis gekant is teen die Engelse aanbod en die waarde daarvan as oorbruggingstaal.

Herhaaldelik het ons al gesê dat daar vir Afrikaans bloot ’n proaktiewe, volhoubare plek langs Engels moet wees. Dit beteken nie jy wil alles aan die US ont-Engels nie, dit beteken jy wil keer dat ’n hegemoniese taal alles verengels.

“Terselfdertyd is Afrikaans ons ander onderrigtaal omdat ons daardeur, sover ons moontlik kan, in ’n bepaalde behoefte en vraag voorsien. Dít beteken egter nie dat elke module van elke vak in elke studiejaar volledig in sowel Engels as Afrikaans beskikbaar is nie. Meertalige leer en onderrig is ingewikkeld en duur. Nietemin het ons in 2016, toe ons huidige Taalbeleid opgestel is, doelbewus nie die weg van eentaligheid ingeslaan nie, maar meertaligheid gekies. En ons voer ons beleid uit.”

Die houding wat hier deurskemer, strook met wat in die praktyk gebeur, wat bevestig hoe die taalbeleid deur middel van diskresies en uitsonderingsklousules die hekke vir ongebreidelde verengelsing ooplaat.

Die student wat in Engels studeer, weet presies wat om te verwag.

Die universiteit praat van aanvraag en behoefte, wat hulle deur ’n passiewe houding jeens meertaligheid misbruik om die Afrikaanse aanbod af te water. Hulle skep dus hul eie regverdiging.

Die omgewing is ter wille van ’n reeds hegemoniese taal, Engels, gemanipuleer deur hul roekelose, nalatige of selfs opsetlike houding jeens die Afrikaanse aanbod.

“Sover ons moontlik kan” is so wyd soos die poorte van die hel.

Die student wat in Engels studeer, weet presies wat om te verwag; diegene wat deur Afrikaans studeer as moedertaal of omdat hulle meertalig wil kwalifiseer, het geen waarborge nie, en studeer binne ’n onsekere en sodoende gefabriseerd-ongewilde taalstroom.

’n Lewendige debat oor Afrikaans se plek by die Universiteit Stellenbosch is aan die gang. Foto: Gallo Images

“Ons is tot meertaligheid verbind, want dit voeg waarde toe en verryk studente se leerervaring. As opvoedkundige instelling, is ons benadering tot taal pedagogies. Ons bemoei ons dus allereers met kennisontginning en -oordrag, met taal as die middel waardeur mense toegang tot kennis verkry.”

De Villiers en sy bestuur verstaan nie hoe taal as magsinstrument werk nie. As jy Engels se historiese, super-koloniale hegemonie nie gaan temper deur kreatiewe meertalige programme, veeltalige studies en aansporingsmeganismes te bevorder nie, gaan Engels oor Afrikaans en al die kleiner landstale stoomroller.

Deur Afrikaans as wetenskapstaal te ondermyn, maak die US hom skuldig aan funksieverlies.

Waarom ook die eksklusiewe fokus hier op leer en onderrig as die US dan navorsingsgerig en -intensief is, volgens De Villiers se eie weergawe?

En as taal as kennisoordragmiddel so belangrik is, waar kom proaktiewe moedertaalbevordering in? Beskou die bestuur die US as ’n feodale paleis wat ’n “meerderwaardige, gesofistikeerder” taal besig as die gepeupel daar buite?

Dieselfde “gepeupel” by wie hulle graag geld en arbeid neem, maar niks proaktief met hul mag doen om die gemeenskap se taal volhoubare, lewenskragtige toegang tot openbare kennisskepping te gee nie?

• “Maar taal opsigself is nie ons hooffokus nie. Dit is immers nie die primêre taak van ’n universiteit, as instelling, om enige bepaalde taal te bevorder nie . . . ons hét inisiatiewe vir taalbevordering, soos die US Woordfees, ons ondersteuning van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, en ons medeborgskap van die Jan H. Maraisprys vir uitsonderlike bydraes tot Afrikaans as wetenskapstaal.”

De Villiers oordryf en praat alarmisties as hy reken daar word van die US verwag om taal sy hooffokus te maak. Die universiteit is ten beste geleë, as openbare kennissentrum in ’n bepaalde streek, om te help om Afrikaans se rol as veelfunksietaal uit te bou en te onderhou.

Hulle hoef nie die ATR, SAAWK of ATKV se rol oor te neem nie.

Sonder ’n taalbeleid wat lewenskragtige, volhoubare Afrikaans onderskraag, is al hierdie inisiatiewe vir die US-bestuur slegs vensterversierings.

Al wat gevra word, is dat hierdie bepaalde universiteit ’n proaktiewe, volhoubare ruimte vir Afrikaans bied, wat sal help om funksieverlies en die wêreldwye hegemonie wat Engels oor kleiner tale uitoefen, te temper en nie self daaraan aandadig te wees nie.

Die De Villiers-administrasie beskou Afrikaans egter as ’n gatvlieg en ’n remskoen vir hul bloedarmoedige benadering tot internasionalisering en inklusiwiteit.

Waar gaan die Afrikaans-opgeleide kandidate vir die J.H. Marais-pryse van die toekoms vandaan kom? En die filosowe en kunstenaars en joernaliste en ander denkers in Afrikaans wat die hart van die US Woordfees is?

Sonder ’n taalbeleid wat lewenskragtige, volhoubare Afrikaans onderskraag, is al hierdie inisiatiewe vir die US-bestuur slegs vensterversierings.

“Ons departement Afrikaans en Nederlands het onlangs in ’n ope brief in die media kritiek gelewer op die hantering van taal by die US. Dit is jammer dat die universiteit se bestaande kommunikasiekanale nie hiervoor gebruik is nie . . . Nietemin is ons ’n universiteit – ’n instelling waar dialoog en debatvoering gerespekteer word. Ek het die betrokke kollegas genooi om die saak met die bestuur te kom bespreek, en sien uit na ’n konstruktiewe gesprek.”

Lees hierin die rigting waarin die moderne universiteit gestuur word: Pleks daarvan om ’n omgewing te help skep waar kritiese debat en ondersoek na beleidsbesluite en “natuurlike hiërargieë” aangemoedig word, val De Villiers terug op burokratisering om sy kritici onder personeel “tereg” te wys.

De Villiers weier om te aanvaar dat sy bestuur se houding teenoor taal ’n uitkringeffek buite die universiteit en sy vakgebiede het, en dat dit nodig is dat alle rolspelers in Afrikaans aan hierdie gesprek deelneem.

Deur na burokratiese, interne prosesse te verwys, verwerp die rektor ’n kultuur van regverdiging ter wille van ’n kultuur van kille gesag.

’n Deel van die kampus van die Universiteit Stellenbosch. Foto: Gallo Images

“Ek is egter minder positief oor politieke partye en drukgroepe . . . Hulle sweep mense op en saai verdeeldheid. Is dit vir politieke gewin in ’n verkiesingsjaar? Probeer hulle stemme werf?”

Maar natuurlik! Watter politieke party op hierdie planeet gaan nie minstens ’n element van stemwerwing by hul openbare standpuntinname inwerk nie? Dit is hoe die demokratiese partypolitieke stelsel funksioneer.

Party-politici staan op vir sekere sake en probeer probleme oplos. Daarmee saam hoop of vra politici dat kiesers hul politieke posisies versterk deur te stem.

Wat onaanvaarbaar is, is die rektor se siniese knieskop-reaksie op so ’n voor die hand liggende partypolitieke werklikheid.

En watter PW-agtige vingerswaaiery is dit oor sogenaamde verdeeldheidsaaiers en opswepers?

’n Mens kan vra of dit beter sal wees as politieke partye dan maar eerder niks doen nie, uit vrees dat ’n klomp siniese kiesers hul optrede as verkiesingstoneelspel sal afmaak.

En watter PW-agtige vingerswaaiery is dit oor sogenaamde verdeeldheidsaaiers en opswepers? Moet Afrikaanssprekendes gedienstig “Kumbaya” sing sodat die rektoraat se vrede nie versteur word nie? Jy koop nie ons vertroue hiermee nie.

“Wat óók na politiekery lyk, is dat Afrikaans nie meer as inheemse taal beskou word in die departement van hoër onderwys en opleiding (DHOO) se nuwe Language Policy Framework for Public Higher Education Institutions nie, wat in Oktober 2020 uitgevaardig is. Om ons taalbeleid hiermee te versoen, is die definisie van amptelike en inheemse tale uit die DHOO-dokument in die eerste konsep van ons hersiene taalbeleid opgeneem. Ons het egter reeds in ons terugvoer op die DHOO-konsepraamwerk van 2018 uitgewys dat ons die siening dat Afrikaans inheems is, sterk steun . . . ”

Die “trooswoorde” dat die US-bestuur hieroor teenstand bied in hul terugvoer op die DHOO-konsepraamwerk klink eties dood in die pot, gegewe hul ewe “prosedurele”, dog beginsellose en ruggraatlose besluit om tog maar die berugte diktaat oor inheemsheid in die konseptaalbeleid in te werk.

Dit wys weer hoe min geesdrif die US-bestuur vir volhoubare, lewenskragtige Afrikaans het.

Dit is ’n maskirofka-tegniek: Hulle dra die masker van inisiatiefnemer namens Afrikaans, maar is inderwaarheid ewe tevrede om selfs Afrikaans se “inheemsheid” in die twyfel te trek deur niks te doen nie.

Frederik R van Dyk

• “Die US is ongetwyfeld ’n bate vir die land en ál ons mense. Dít is pas weer bewys met ons gradeplegtighede vandeesweek . . .”

Die US-bestuur hoef nie ongebreidelde verengelsing, soos deur middel van die huidige beleid, aan te wend om ’n bate vir die land te wees nie.

Die US sal ’n baie meer betekenisvolle bate wees as dit taalvolhoubaarheid en moedertaalonderrig versterk, soos die gees, letter en strekking van die Grondwet verwag. Laastens, die rektor hoef nie die US se uitnemendheid te besing as teenargument nie. Dis nie die gesprek nie.

Eerstens, beskou hy kritiek op sy administrasie as kritiek op die US.

Hy doen dit waarskynlik om een van twee redes: Eerstens, beskou hy kritiek op sy administrasie as kritiek op die US. Dit is so verkeerd as om te dink dat kritiek op die ANC-regering ’n ondermyning van die Suid-Afrikaanse staat is.

Tweedens, aanvaar hy dat omdat die US tans uitnemend presteer, enige alternatiewe onderrigmodelle onwaardig is en dat die Engels-geleide stelsel al is wat prestasie kan bied.

Dit is ’n denkfout, wat nie net Afrikaans as akademies uitnemende taal minag nie. Sy fout, soos met talle nougesette regimes van voor sy eie, is om te glo dat dit was nou is, regverdig hoe dinge behoort te wees.

• Van Dyk is ’n LLM-kandidaat, sekretaris van die US-konvokasie en direkteur van StudentePlein NWO. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Wim De Villiers  |  Universiteit Stellenbosch  |  Engels  |  Xhosa  |  Taalbeleid  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.