Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
US-taalbeleid: Pasop vir verleidelike ‘inheemsheid’

As ons landsburgers volgens inheemsheid rangeer, gaan dit ’n eindelose magstryd afgee oor wie watter voorsate het, en oor of daardie voorsate “eerste” in ’n gebied was al dan nie, skyf Frederik R van Dyk.

Kennisgewings in drie tale op die kampus van die Universiteit Stellenbosch. Foto: Gallo Images

Daar is ’n groot ophef oor die reeks gebeure wat die Universiteit Stellenbosch se publikasie van sy Konseptaalbeleid van 2021 voorafgegaan het.

Ter agtergrond: Tydens die US Verwelkomingsweek het dit bekend geraak dat studenteleiers in talle US-studentegemeenskappe die eerstejaars aangesê het om slegs in Engels te kommunikeer.

Intussen het die Afrikaanse organisasie StudentePlein die Sentrum vir Studentegemeenskappe so ver gekry om behoorlik ondersoek in te stel. Dit is nou nadat die oorhoofse US bestuur vir dae lank versuim het om die voorvalle te ondersoek of te veroordeel, in skrille kontras met hoe vorige gevalle van diskriminasie en ontgroening hanteer is.

Op Vrydag 19 Maart het die US Senaat ’n mosie onder vurige teenstand deurgevoer gekry, wat bepaal dat nuwe Afrikaanse leermateriaal nie vir die eerste semester beskikbaar gestel hoef te word nie, kwansuis “weens die pandemie”. Kort op die hakke hiervan is die US se Konseptaalbeleid van 2021 gepubliseer vir openbare kommentaar.

Dit is uiters opvallend dat daar geen verwysing na inheemsheid in die huidige taalbeleid is nie.

Hoewel daar reeds baie geskryf is en nog baie geskryf sal word oor die inhoud van dié konsep-affêre, het die invoer van die begrip “inheemse taal” my onmiddellik opgeval. In die konsepbeleid word “inheemse tale” dan as volg omskryf:

“Die term verwys na tale waarvan die erfenis in Afrika wortel en wat tot die Suid-Bantoetaalfamilie behoort (met “Bantoe” in die suiwer taalkundige betekenis). In die literatuur en sommige politieke dokumente praat ook van “Afrikatale” om na hierdie tale te verwys.” (sic)

Dit is uiters opvallend dat daar geen verwysing na inheemsheid in die huidige taalbeleid is nie. In die konteks van die konsepbeleid is dit ’n verwysing na Xhosa, en ander amptelike tale benewens Afrikaans. Ek was dadelik befoeterd. Ek het gedink hoe hierdie inheems-ding ’n “verdeel en heers”-taktiek van die kolonialistiese handlangers in die US-bestuur kan wees, wat Afrikaans en Xhosa teen mekaar afspeel sodat Engelsheid met die sopbeen weghol.

Maar waarom is ons oor die algemeen so opgetrek met “inheemsheid”? Wat beteken die begrip en watter politieke gewig het dit? Met ander woorde, is inheemsheid ’n bepaler van hoe hulpbronne en mag verdeel moet word? Het dit enigsins ’n betekenisvolle plek in ons grondwetlike demokrasie?

Vae dog nare essensialisme van inheemsheid

So opspraakwekkend en wankelrig op feite soos sy boek ook is, maak die skrywer van The Lie of 1652 (2020), Patric Tariq Mellet, die belangrike punt dat die beskrywing van mense, hul tale en kulture as “inheems” by die plant- en dierkunde geleen is. Diere en plante word as “inheems” beskryf omdat hulle natuurlik in ’n bepaalde habitat voorkom en in ’n sekere ekostelsel funksioneer.

Mellet argumenteer dat die koloniale invoer van hierdie plant- en dierkundige begrip op gevestigde Afrikane neergepen is asof hulle deel is van die “verowerbare” landskap.

Vandag word inheems dikwels defensief gebruik om mense te beskryf wat “oorspronklik” of “eerste” hier was. First-ism, soos Mellet dit noem, “ . . . involves the elevation of an ethnic or race group to having primacy of rights before any other or to the exclusion of rights of others . . . [it] is premised on ‘right of first occupation’ of a territory or a claim of having originated in a specific territory” (bl. 19).

Daar is ook ’n vae dog nare essensialisme aan inheemsheid.

Inheemsheid was aanvanklik ’n onderskeidingsbegrip en regverdiging vir koloniale verowering. Toe word dit ’n regverdiging om ’n sekere regstatus of toegang tot hulpbronne te verkry. Maar die antieke kompleksiteite van menslike migrasiepatrone; die bevolking, herbevolking, assimilasie en afskeiding tussen groepe deur die eeue heen skep steeds meer nuwe identiteite en kulture.

Kulture evolueer en verwikkel. Om te argumenteer dat ’n bepaalde moderne identiteit “oorspronklik” daar was, is nie net simplisties nie maar ook logies onhoudbaar: Op watter manier is die feit van jou voorsate se historiese teenwoordigheid ook ’n absolute politieke norm dat jy sekere regte en hulpbronne bo ander toegewys moet word?

Daar is ook ’n vae dog nare essensialisme aan inheemsheid: Dit veronderstel dat inheemsheid iewers fisies aan jou kleef en jy daarvan onafskeidbaar is. Sodoende word die “inheemse” mens se agentskap geïgnoreer ter wille van hul eie keuses, opinies en assosiasies. Terselfdertyd word die “uitheemse” mens as deel van ’n ongewenste buitegroep verduur, ongeag so iemand se rol in die samelewing of individuele kenmerke.

Gevaarlike kultuur word geskep

Frederik R van Dyk

’n Grondwetlike demokrasie met ’n uiteenlopende bevolking kan nie op grond van ’n inheemsheid-standaard bestaan nie. As ons landsburgers volgens inheemsheid rangeer, gaan dit ’n eindelose magstryd afgee oor wie watter voorsate het, en oor of daardie voorsate “eerste” in ’n gebied was al dan nie.

Dit is beslis nie ’n doeltreffende of volhoubare strategie waarmee die samelewing georden moet word nie. Die Suid-Afrikaanse grondwetlik-demokratiese bestel trek eerder ’n streep in die sand en stel ’n beter toekoms in die vooruitsig, gegrond op diverse menswaardigheid, vryheid en gelykheid.

Selfs regstellende aksie is nie op inheemsheid gegrond nie, maar op geskiedkundige benadeling. Dit is die feit van jou gemeenskap se relatiewe historiese tweederangsheid wat jou ’n bevoordeelde van regstelling maak, nie hoe “inheems” jou groep is nie.

Dit is ’n belangrike verskil, want terwyl billike en doeltreffende regstellende beleide ’n sonsakdatum veronderstel, is die begrip “inheemsheid” iets permanents. Dit veronderstel ’n volgehoue toestand, en vir sommige ’n volgehoue eerste aanspraak op regte en hulpbronne.

Om “inheemse taal” in die US se konseptaalbeleid in te werk, veronderstel dat so ’n taalgroep een of ander eerste aanspraak het; asof dit meer aandag en status as nie-inheemse tale verdien.

'Erfenis [wat] in Afrika wortel' is blykbaar die vereiste waaraan ’n taal moet voldoen om 'inheems' te wees, aldus die US-bestuur.

Dit is baie opvallend dat die definisie ook nie Khoi- en Santale insluit nie, selfs al maak die beleid melding van hierdie tale en selfs al is Khoi-groepe onlangs ’n plek in die Huis van Tradisionele Leiers gegee.

“Erfenis [wat] in Afrika wortel” is blykbaar die vereiste waaraan ’n taal moet voldoen om “inheems” te wees, aldus die US-bestuur. Afrikaans, Khoisan-tale en die Suid-Bantoe-taalfamilie het almal ’n genesis in Afrika. Waarom word die Suid-Bantoetale dan uitgesonder?

Dui dit op een of ander arbitrêre fiksasie met suiwerheid, ’n gewelddadige rympie wat telkens in die wêreld kop uitsteek?

Inheemsheid werk dalk vir plante en diere, maar moet liefs verwerp word so ver dit na mense verwys, en beslis nie as samelewingstrategie gebruik word nie. Dit skep op die minste ’n gevaarlike kultuur van voorrangneming en ’n sin vir natuurlike hiërargie, wat reeds tot soveel vernietiging en haat in ons land en die wêreld gelei het.

• Van Dyk is ’n LLM-kandidaat, sekretaris van die US-konvokasie en direkteur van StudentePlein NWO. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Patric Tariq Mellet  |  Universiteit Stellenbosch  |  Kolonialisme  |  Afrikaans  |  Engels  |  Xhosa  |  Erfenis  |  Taalbeleid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.