Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Uurglas loop dalk leeg vir pseudowerkers
Foto:

Een ding gaan interessant wees wanneer die koronavirus uiteindelik wyk: Sal als op kantoor weer dieselfde wees wanneer al die mense terugkeer wat tans toegelaat word om tuis te werk?

Mense se werkplek het dikwels ’n groter impak op hul professionele geluk as die werk self, en gewoonlik weens klein irritasies – die kollega wat te hard oor die telefoon praat, die lugversorger wat immer te koud is, die tssj-tssj-tssj van iemand wat musiek deur sy oorfone luister, die rokers wat elke halfuur buitentoe gaan en jou agterlaat om die telefone te antwoord, die mense wat jou koffiebeker gebruik.

Maar tans is die vraag of kantoorwerkers meer of minder produktief by die huis is.

Talle mense sê hulle kry nou baie meer gedoen, want hulle hoef nie te pendel nie. Hulle spring soggens dadelik aan die werk, daar is geen steurnisse nie en hulle hoef nie ’n klomp lae-oktaan-vergaderings by te woon nie. Hoe vinniger hulle klaarmaak, hoe meer tyd het hulle vir ander dinge.

Dié mense het een ding gemeen: Hulle is “vrug-van-die-arbeid”­- werkers. Hulle moet iets spesifieks – iets meetbaars – teen ’n spertyd lewer, en hulle is waarskynlik meer produktief tuis as op kantoor.

Verlede week hoor ek iemand kla dat hy nou elke week ’n opgaaf moet indien van watter werk hy van uur tot uur tuis gedoen het.

Dan, die ander kant van die munt. Verlede week hoor ek iemand kla dat hy nou elke week ’n opgaaf moet indien van watter werk hy van uur tot uur tuis gedoen het. Hy is gefrustreerd en verontwaardig hieroor. Hoekom? Hy het nie genoeg duidelike, afgehandelde take om op die register in te vul nie.

Interessant, want hy is nie ’n loodswaaier nie, maar eerder iemand wat heeltyds besig is met daardie een portefeulje wat jy in omtrent elke groot kantoor kry: pseudowerk. Mense wat skrams betrokke by als is, maar verantwoordelik is vir niks.

Dalk is pseudowerk die onafwendbare neweproduk van enige burokrasie, of dalk wikkel party mense hulself doelbewus in so ’n knus posisie in, maar jy sien die simptome oral.

Kleiner take word tot projekte verhef, subkomitees en taakspanne word aangewys. Hulle skeduleer telekonferensies, stig WhatsApp-groepe en skryf vorderingsverslae. Hulle “unpack”, “initialise”, “managerialise” en “monetise” dinge.

Later wag almal op terugvoering van dié een en goedkeuring van daai een. Dinge verloor stoom.

Die voorteken dat die hele oefening onder sy eie gewig gaan inplof, is wanneer mense die “Reply all”-knoppie op e-pos begin druk om so enige aanspreeklikheid elders heen te rangeer.

“We really paid our school fees with that one,” sal hulle later met die wysheid van Confucius sê.

Staan ons dus nou by die poort van ’n nuwe era? Miskien sal werkers met duidelike take kan aanhou om tuis te werk. Maar gaan maatskappye die pseudowerkers kan uitskud?

Dit gaan bitter moeilik wees, want enige burokrasie se eerste en kragtigste instink is om homself te beskerm. (Ek het nog nooit van ’n personeelafdeling gehoor wat homself vrywillig verklein het nie.)

Tog, ’n mens kry die gevoel dat iets fundamenteels aan ’t verander is, soos Samuel Beckett dit in sy toneelstuk Endgame stel: “Something is taking its course.”

  • Booyens is ’n vryskutskrywer.
Meer oor:  Bun Booyens  |  Onderneming  |  Korona  |  Kantoor  |  Covid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.