Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Uurglas loop leeg vir Zimbabwe en Mosambiek

Suid-Afrika se termyn as voorsitter van die Afrika-Unie (AU) is amper verby, maar daar is nog nie veel gedoen aan die krisisse in veral Zimbabwe en Mosambiek nie, skryf Liesl Louw-Vaudran.

Betogers het in Augustus voor Zimbabwe se ambassade in Pretoria gevra vir ingryping om toestande in dié buurland van Suid-Afrika te verbeter. Foto: Gallo Images

Suid-Afrika se voorsitterskap van die AU is met groot verwagting aan die begin van die jaar aangekondig.

Pres. Cyril Ramaphosa het tydens die AU-beraad in Addis Abeba in Februarie beloof dat hy krisisse in Libië en Suid-Soedan sal probeer oplos, vroueregte gaan bevorder en toesien dat die Afrika-portuurmeganisme in die regte rigting gestuur gaan word.

Natuurlik was dit van die begin af duidelik dat Ramaphosa baie hooi op sy vurk het omdat hy Suid-Afrika moes regruk, wat nog van die AU, ’n organisasie wat berug vir sy ondoeltreffendheid is.

En toe kom Covid-19.

Dit het alle ander prioriteite op die vasteland opsy geskuif en die AU se amptenare en diplomate is ingeperk, net soos die res van ons.

Ramaphosa het egter die uitdaging met albei hande aangegryp. Hier was ’n krisis van ’n heel ander aard.

Tydens ’n debat vroeër vandeesweek was daar groot lof vir die manier waarop Ramaphosa Afrika se pogings teen die koronavirus gekoördineer het.

Die politieke dinosourusse van die AU – die ou manne wat dikwels alle nuwe inisiatiewe in die wiele ry – was in diep water. Kenners is ingeroep.

Tydens ’n debat by die Tana-forum, ’n jaarlikse ontmoeting van hooggeplaastes oor Afrika heen vroeër vandeesweek was daar groot lof vir die manier waarop Ramaphosa die vasteland se pogings teen die virus gekoördineer het.

Hy het minstens ses vergaderings belê met ’n kerngroep van staatshoofde van al vyf die streke van die vasteland en het kenners van die privaat sektor ingetrek om toe te sien dat Afrikalande mediese toerusting so goedkoop moontlik bekom.

’n Span voormalige ministers van finansies is ook ingetrek om met Afrika se buitelandse skuldeisers te onderhandel.

Intussen het die Afrika-sentrum vir siektebeheer in Addis Abeba ook gehelp om leiding te gee te midde van ’n groot tekort aan betroubare data in die meeste Afrikalande.

Maar dit is ongelukkig nie goed genoeg nie.

Zimbabwe en Mosambiek

Pres. Cyril Ramaphosa het leiding geneem in Afrika se stryd teen Covid-19, maar Suid-Afrika het as voorsitter van die Afrika-Unie nog nie veel gedoen om die krisisse in Zimbabwe en Mosambiek op te los nie. Foto: AP

Die AU se tema vir vanjaar is “Maak die gewere stil” (Silencing the guns) wat die klem laat val op vrede en die oplossing van Afrika se konflikte.

Hier is daar nog baie om te doen en die uurglas loop leeg.

Teen die begin van Februarie 2021 gaan die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) by Suid-Afrika oorneem as voorsitter van die AU.

En met alle respek aan pres. Ettienne Tshisekedi, die DRK is juis een van die lande hoog boaan die lys van krisisse wat opgelos moet word.

Dis moeilik om te sien hoedat Tshisekedi met gesag betrokke kan raak by krisisse. Maar ’n mens weet nooit. Laat ek dit liewer nie vooruitloop nie.

In die drie maande wat voorlê, kan Suid-Afrika wel nog ’n paar stappe doen om toe te sien dat krisisse nie heeltemal agterweë bly nie.

Liesl Louw-Vaudran

In Zimbabwe is Ramaphosa se pogings om probleme op te los deur afgevaardigdes van die regering soontoe te stuur, liederlik gesaboteer deur die ANC se eie span wat nie veel meer gedoen het as om pres. Emmerson Mnangagwa op die skouer te klop nie.

Deur sy posisie as voorsitter van die AU te gebruik, kan Ramaphosa wel seker maak dat Zimbabwe op die sakelys beland van die spesiale beraad van die AU wat op 5 Desember plaasvind rondom die tema van 2020.

Die AU kan ’n spesiale afgevaardigde vir Zimbabwe aanstel om dialoog in die land van stapel te stuur. Dis net ’n begin, maar dit sal ’n teken wees dat Afrika die ineenstorting van Zimbabwe ernstig opneem.

Verder moet Mosambiek se terreurkrisis ook op die sakelys wees. Die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap het hier liederlik as streekorganisasie misluk in sy mandaat om vrede in lidlande te help verseker.

Mosambiek self verkies klaarblyklik ook om die Europese Unie se hulp te vra en nie dié van Afrika nie.

Maar dit is die rol en plig van die AU om alles moontlik te doen om die bedreiging van terreur in Suider-Afrika te stuit.

Waarom het ons dan ’n AU?

* Louw-Vaudran is ’n konsultant by die Instituut vir Sekerheidstudies. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.