Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Vaalrivier-ramp verdwerg staatskaping op skadelys
Barnard Beukman

Die grootste skade wat die regering van oudpres. Jacob Zuma nagelaat het, is die roekelose vernietiging van groot dele van ons omgewing.

En die bykans onherstelbare gemors wat in die Vaalrivier veroorsaak is – letterlik en figuurlik – is maar net die begin. Nog erger: Ons begin nou eers stadigaan besef wat ons tref.

Die gangbare vermoede tot op hede was dat die rioolbesoedeling – wat ’n groot verskeidenheid van lewende organismes in die rivier reeds permanent uitgewis het – die gevolg van swak instandhouding van rioolwerke was. Maar om te moes hoor dat dit die gevolg van doelbewuste sabotasie deur inwoners van die Sebokeng-gemeenskap is, is ’n neerdrukkende skok. Die rivier was die lewensaar van die Vaaldriehoek en aangrensende Vrystaatse dorpe soos Parys – ja, wás.

“Wie wil by ’n besoedelde Vaalrivier trou?” het Rosemary Anderson van die Golden Triangle Chamber of Commerce vandeesweek gevra by die Menseregtekommissie (MRK) se verhoor oor die besoedeling. Volgens haar is die Vaaldriehoek die afgelope paar maande “byna op sy knie”e gedwing weens die besoedelde rivier”.

Sibusiso Mthembu, provinsiale hoof van die departement van water en sanitasie, het voor die MRK getuig die plaaslike rioolaanleg is vir vier maande lank gesaboteer en werkers is verhoed om hul werk te doen. Mense is radeloos vir werk en kan nie verstaan dat hulle nie in die plek van geskooldes van elders daar kan werk nie.

Vir die radeloosheid van die oningeligte massas moet daar ’n mate van begrip wees.

Vir die radeloosheid van die oningeligte massas moet daar ’n mate van begrip wees. Die mitologiese bevrydingsbeweging wat ’n “beter lewe vir almal” belowe het, se elite het hulself so verryk dat die stemvee vergeet is. Dienslewering se geld is mos gesteel.

Die verwyt is dat die situasie maande lank voortgeduur het. Riool het die rivier binnegestroom en niemand het ingegryp nie. Nou eers het Gugile Nkwinti, minister van water en sanitasie, betrokke geraak. R5 miljard is nodig om sake te probeer beredder. Wie gaan dit betaal en wie gaan of kan dit doen? Vir enige kans op sukses sal dit private kundigheid in samewerking met burgerlike en belangegroepe moet wees – hoe dan anders?

In gister se Mail & Guardian word berig dat nuwe paniek in ANC-geledere heers oor die beplande afdanking van Dan Matjila, omstrede hoof van die Openbare Beleggingskorporasie. Want hy sit met die name van talle hooggeplaastes wat aan staatskaping wou deelneem of inderdaad het. Hul fokus is alweer daarop om hul eie agterente te red en nie by ons land, sy mense of die omgewing nie.

Beeld gaan voortaan sterk fokus op omgewingsvergrype en het spesiale kundigheid daarvoor bekom. Want dit verdwerg staatskaping op die skadelys.

Beukman is redakteur van Beeld.

Meer oor:  Barnard Beukman  |  Staatskaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.