Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Valentyn klink tog mos na ’n donkie se naam
Annemarie van der Walt
Annemarie van der Walt

Valentynsdag is nie groot op my kalender nie. Trouens, Valentyn klink vir my nog altyd na ’n donkie se naam.

En indien ’n mens een is van dié wie se tweede of meerdere huwelike nooit ’n 30-jaar-herdenking gaan beleef nie al trou jy môre weer, loop jy maar draaie om enige winkel wat met harte behang is.

Gun my dus so ’n klein ode aan die geskeides en alleenlopers, en dié van ons wat die waagstuk aanpak om weer so suutjies-suutjies aan die liefde te glo. Herman van Veen se lied “Als liefde soveel jare kon duren” is dalk nie op ons van toepassing nie.

En as ’n mens se ouderdom so hoog is soos die aantal vitamienaanvullings in die badkamerkassie, sal jy dalk gelukkig ook nooit saam met Van Veen hoef te sing nie: “Jij kent nu al mijn slimme streken, ik ken al lang jou heksenspel . . .” Tyd is vir eens aan ons kant.

As ’n geskeide vrou is daar ’n hengse klomp goed wat jy onder die knie moet kry, of jy nou wil of nie: dagboekbeplanning tussen jou en die kinders wat grens aan ’n militêre operasie; die slyp van doen-dit-self-vaardighede wat enigiets insluit van wasmasjiene regmaak tot kroonlyste vasspyker; om ’n braaivuur aan die gang te kry; ’n rammetjie-uitnek-kêrel van ’n kind die hasepad te laat kies; en om vir lief te neem jy word dalk nooit weer na getroude vriende se Sondagmiddagetes genooi nie.

Maar veral om die klein groen monstertjie hok te slaan wanneer jy gelukkige paartjies sien.

Want jy kan mos popcorn vir aandete eet, en drie-uur in die nag opstaan om ’n boekrak reg te pak.

Dis ’n illusie, maak jy jouself wys. Elke huis en elke paartjie het ’n kruis of drie, en jy gaan wragtig nie weer in daardie slaggat trap nie. Want jy kan mos popcorn vir aandete eet, drie-uur in die nag opstaan om ’n boekrak reg te pak en nie ’n snars omgee nie dat die enigste hare wat op die koue kant van die bed se kussing is, die hond s’n is.

Tot op ’n dag.

Dan kry jy daardie superpower waaroor gelukkig getroudes ongelukkig vir hulle nooit oor gaan beskik nie: die vermoë en die wil om aan te pas by ’n nuwe asem, ’n anderhart ondanks al die gewoontes ingebed deur die jare van op jou eie.

Jy leer aan: nuwe vriendekringe, naskeermiddel, skilderye teen die mure, troeteldiere, kinders, roetines, om met sagter oë te kyk, om sinne te formuleer met woorde soos “ek voel . . .”, “ek sien . . .”, “ek luister . . .” Trouens, jy leer op ’n manier weer ’n nuwe woordeskat aan.

Jy rek jou treë om by te bly, jy maak jouself pas in ’n ander een se arms, jy probeer met sagter oë kyk en hoop daar word so na jou gekyk en jy is bly iemand anders tel so ongesiens op aan jou soms morsige bagasie wat agterna streep.

“En zo hebben we dan toch geleerd, je kunt altijd opnieuw beginnen . . . De zoete oorlog van het minnen . . .”

Meer oor:  Annemarie Van Der Walt  |  Valentyn  |  Enkellopend  |  Getroud  |  Valentynsdag  |  Liefde  |  Donkie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.