Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Valiant Swart: As storie en musiek een word

In die September-vakansie van 1983 het hy en sy suster die fliek Local Hero gaan kyk. Net daar het hy besluit dat hy eendag ook ’n klankbaanalbum gaan maak, skryf Valiant Swart.

Valiant Swart

In die vroeë sewentigerjare, toe ek ’n laerskool-laaitie op Wellington was, het ons baie Saterdagmiddae gaan fliek in die Astra-bioskoop in Kerkstraat. Die middagvertoning het bekend gestaan as ’n matinee.

Daar was altyd eers ’n voorprent; gewoonlik ’n korterige, swart-wit slapstick-komedie, wat ons laat skaterlag het vir die manewales van Stan Laurel en Oliver Hardy, of “The Three Stooges”, of die maestro, Charlie Chaplin. Die speeltempo van hierdie films was effens vinniger as ’n normale fliek, wat gemaak het dat die karakters se reeds oordrewe aksies erg stokkerig en komieklik voorgekom het. Die klankbaan het gewoonlik bestaan uit sulke opgewekte honky-tonk-klaviermusiek.

Ná ’n kort pouse vir die aanskaf van Wilson-toffies en koeldrank, het die hoofvertoning begin – dikwels ’n lawwe Afrikaanse komedie of ’n musiekblyspel met die Hollandse kinderster Heintje, of ’n cowboy-fliek met Terence Hill en Bud Spencer, wat onder ons luidkeelse aanmoediging die kroeks in die stof laat byt het.

Die einde van ’n era het aangebreek en binne die bestek van ’n jaar of wat is die pragtige ou Art Deco-teater in ’n sakpas-meubelwinkel omskep.

Ek het wonderlike herinneringe aan daai lekker ou Saterdagmiddae.

Maar met die koms van televisie in 1976 het die bioskoop se bywoningsyfer oornag skerp gedaal. Dit het nie lank geneem voordat die Astra se deure vir altyd gesluit het nie. Die einde van ’n era het aangebreek en binne die bestek van ’n jaar of wat is die pragtige ou Art Deco-teater in ’n sakpas-meubelwinkel omskep.

En toe kom die kassie

Saterdagmiddae het in ’n ommesientjie ’n gans ander gedaante aangeneem, in die vorm van sportuitsendings op “die kassie”. Ons het vasgenael in ons sitkamers of ons TV-kamers (’n nuwigheid in menige huishouding) gesit en kyk na Curriebeker-rugby en krieket en perdewedrenne en tenniswedstryde, met die vrolike matinees van net ’n jaar of twee tevore lankal vergete.

Vir elke rolprent of televisiereeks of program wat uitgesaai is, was daar ’n klankbaan en ’n kenwysie. Die temaliedjie vir ‘Trompie’ was deur Anton Goosen. Foto: Foto24

Die honky-tonk-klaviermusiek van die matinees het plek gemaak vir die kenwysies van die TV-programme wat ons aand ná aand, sewe dae per week, saam met ons TV dinners gesit en verslind het. Tussen Blitspatrollie en Bonanza en Pop Shop en Trompie (met die vrolike Anton Goosen-temaliedjie) en ontelbare ander reekse en joernaalprogramme, het die Astra-bioskoop se ster net stilweg verskiet en in die vergetelheid verdwyn.

Vir elke rolprent of televisiereeks of program wat uitgesaai is, was daar ’n klankbaan en ’n kenwysie; soms net instrumentaal, soms met lirieke wat betrekking gehad het op die inhoud van die produksie. ’n Vereiste van so ’n kenwysie was dat dit catchy moes wees; dit moes die kyker of luisteraar se aandag onmiddellik vasvang, met ’n kits-herkenbare inleiding.

Ek onthou hoe ek as jong tiener in ons TV-kamer gesit het met my kitaar en probeer het om al wat ’n temaliedjie en advertensie-jingle is saam te speel – handelsflitse vir Lion Lager en Chevrolet, en naskeermiddels, buitebande, sigarette, wyn, kinderprogramme, dramareekse – selfs die riff van die agtuur-nuus (ek kan steeds my lawwe weergawe speel): “Ta-ta da-da-ta! Goeienaand, u kyk na die agtuur-nuus, met my, Roelf Jacobs. Minister Hendrik Schoeman het vroeër vandag alweer sy pyp aangesteek op ’n passassiersvlug . . .” Of so iets.

’n Klank-en-beeld-matrys

In die September-vakansie van 1983 (ek was in matriek) het ek en my suster Michelle een aand in die Strand die fliek Local Hero gaan kyk. My held Mark Knopfler het die musiek vir die film gekomponeer en opgeneem. Ek het ’n ruk vantevore die klankbaanalbum gekoop en het reeds elke noot en nuanse geken, van voor tot agter. Ek was – en is steeds – mal oor die pragtige temalied “Going Home”, ’n meesleurende instrumentale komposisie wat aan Knopfler ’n Bafta-prys besorg het.

Maar ek het geen idee gehad waaroor die fliek gaan nie. Ek was nuuskierig om te sien hoe die musiek en die storie by mekaar pas.

Die toneel het die musiek geword, en die musiek toneel; ’n verplasende ervaring vir my.

Terwyl ons daar in ’n bykans leë teater sit, het ’n wonderwêreld voor my op die skerm ontvou. Ek het raam vir raam gesnap hoe die hele klank-en-beeld-matrys aanmekaargesit is; hoe die melodie en toonaard en tempo die tonele toelig en lewe gee, en hoe die beligting en stelinkleding die trant en tydsberekening van die musiek bepaal. Die toneel het die musiek geword, en die musiek, toneel; ’n verplasende ervaring vir my.

Ek het net daar besluit dat ek eendag ook ’n klankbaanalbum gaan maak.

‘Jy kyk te veel movies’

My droom het 20 jaar later waar geword, toe Jan Scholtz my die hoofrol in die kykNet-reeks Song vir Katryn aangebied het. Ek het geen illusies gehad oor my toneelspelvermoëns nie, maar ek was uiters gretig om die klankbaanmusiek te komponeer en op te neem. Ek het my verlustig in die uitdaging van opdragwerk: Vollengte komposisies, toonsettings, instrumentale stemmingsmusiek, die lot. Dit het baie, baie laat nagte in die ateljee geverg om dit eksie-perfeksie te kry.

Valiant Swart as die dokter, Jinx, en Therese Benade as Katryn in Song vir Katryn. Foto: kykNET

Jan was hoogs in sy skik met die resultaat. “Jy kyk te veel movies,” het hy glimlaggend gesê.

Dit was vir my ’n yslike kompliment.

’n Saterdagmiddag-matinee

My plateversameling bevat ’n hele paar klankbaanalbums; van Ennio Morricone se spaghetti-Westerns tot Grease en The Graduate, Saturday Night Fever en talle ander. My gunsteling bly steeds Local Hero, wat vir my die beeld by die klank gesit het.

En dan is daar my honky-tonk-klavierplate, wat my telkens terugvoer na ’n Saterdagmiddag-matinee in Wellington se lekker ou Astra-bioskoop.

* Swart is ’n musikant en skrywer wat op Onrus woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig díé van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Valiant Swart  |  Televisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.