Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Valiant Swart: Bob Dylan, die stem van menigtes

Oor sowat tien maande word Bob Dylan 80. Valiant Swart skryf hoe hy die eerste keer daai nasale, klaerige stemtoon in sy oorfone gehoor en terstond ’n dissipel geword het.

Valiant Swart

Die eerste keer toe ek Bob Dylan se stem hoor, was so rondom my 18de verjaardag. Dit was in November 1983, kort nadat ek my laaste matriekvraestel geskryf het.

’n Cool ou wat so ’n paar jaar ouer as ek was, het my en ’n paar pêlle na ’n paartie by sy huis genooi. Toe ons daar aankom, het ek dadelik ’n lywige plate-versameling opgemerk en my kort voor lank kruisbeen voor die hifi gaan tuismaak.

Ek het die res van die aand daar bly sit en vir die mense ge-deejay – ’n gewoonte wat ek steeds het, en wat nie altyd goed afloop nie. Ek hou nie van versoeke nie, sien. Gewoonlik vind my keuses darem byval.

Ons gasheer was heel in sy skik met my speellys.

Toe die partytjie einde se kant toe staan, het ek hom gevra of ek ’n Bob Dylan-langspeelplaat kon leen om te kopieer by my huis; ek sou dit die volgende dag terugbring. Dit was Dylan se Greatest Hits-versameling, met sy eerste, immergroen treffers soos “Mr Tambourine Man”, “Blowin’ in the Wind” en “Like a Rolling Stone” daarop.

Ons gawe gasheer het gesê ek kon die Dylan-plaat vir my vat, net omdat ek so ’n lekker platejoggie was. En toe gee hy my wraggies sommer nog een: Slow Train Coming, een van ’n trilogie Dylan-gospel-albums, geregisseer deur my destydse held Mark Knopfler.

Daar was nie platewinkels in Wellington, waar ek grootgeword het nie. Die Dylan-geskenke was dus uiters kosbaar.

’n Dylan-dissipel

Terug by die huis, voor die draaitafel in my slaapkamer, het ek die naald versigtig op die plaat laat sak. Ek was taamlik onthuts toe ek die eerste keer daai nasale, klaerige stemtoon in my oorfone hoor. Ek is nie seker wat ek verwag het nie; ek het my waarskynlik ’n meer kragtige, John Fogerty-tipe basuin voorgestel.

Bob Dylan het onlangs ’n besonderse prestasie behaal: Hy het die eerste musiekkunstenaar geword wat in elke dekade van sy loopbaan (60’s, 70’s, 80’s, 90’s, 2000’s, 2010’s en nou ook in 2020) ’n album op die Top-40 gehad het. Foto: Barry Feinstein

Maar binne die bestek van twee of drie liedjies het die slinkse, slow poison-sjarme van die musiek my oorrompel. Die sintese van die stem en die melodieë en die woorde – die woorde! – was hipnoties en onweerstaanbaar. Ek het terstond ’n dissipel geword.

Net meer as ’n maand tevore het Dylan sy 22ste album bekend gestel. Dit was die meesterlike Infidels, weer met Mark Knopfler in die regisseurstoel. Mettertyd sou hierdie plaat ook ’n diepgaande invloed op my hê.

Met die onlangse uitreiking van sy 39ste ateljee-album, Rough and Rowdy Ways, het Dylan nogmaals ’n besonderse prestasie behaal: Hy het die eerste musiekkunstenaar geword wat in elke dekade van sy loopbaan ’n album op die Top-40 gehad het – die 60’s, 70’s, 80’s, 90’s, 2000’s, 2010’s en nou ook in 2020. Dis sewe dekades.

Die bloudruk van die blues

In 2016 is die Nobelprys vir letterkunde aan hom toegeken – ’n geweldige groot eerbetoon wat in sommige uitgelese akademiese kringe met verbasing en selfs teenkanting begroet is. Ek kon verstaan dat daar literatore en behoudendes was wat bedenkinge oor die meriete van hierdie verhewe eerbewys aan ’n folk-sanger gehad het, maar ek kon my eweneens verlustig in die legitimasie, as jy wil, van sy rock ’n roll poetry – die einste ding waarmee ouens soos ek ons bemoei.

Sedert sy 2001-album Love and Theft het Dylan die musikale aspek van sy komposisies meer en meer op die bloudruk van die blues begin skoei. Sommige kenners was dit eens dat dit van die begin af eintlik maar was wat hy wou wees: ’n Blues-sanger.

Bob Dylan word oor sowat tien maande (in Mei 2021) 80 jaar oud. Foto: Michael Kovac

Die afgelope agt jaar speel Bob nie meer sy kitaar in optredes nie. Dit is weens ’n rugkwaal wat dit vir hom te pynlik maak om te staan en te tokkel. Hy speel egter nog gereeld klavier; andersins staan hy by die mikrofoon en sing, terwyl hy sy orkes – ’n manjifieke ensemble – met begeesterde vertolkings van sy liedjies, oud en nuut, aanvuur.

Dalk voel hy, met reg, dat as jy nou nog nie die woorde van sy classics ken nie, jy dit gerus maar kan gaan nalees.

Die woorde van sy nuwe komposisies word treffend, selfs dringend, oorgedra. Wat die ouer, meer bekende liedjies betref, is dit egter ’n ander storie. Jy sal sukkel om die lirieke van, byvoorbeeld “Mister Tambourine Man” te herken. Bob se sangstyl neig na wat sommige kommentators ’n carnival barker-styl noem.

Dalk voel hy, met reg, dat as jy nou nog nie die woorde van sy classics ken nie, jy dit gerus maar kan gaan nalees.

’n Senior troebadoer

Oor sowat tien maande, in Mei 2021, word Bob Dylan 80 jaar oud.

Op sy nuwe album is daar ’n liedjie met die naam “I Contain Multitudes”, roerend aangebied in die krakerige, deurleefde stem van ’n senior troebadoer. Dis ’n soort losse inventaris van mense en gebeurtenisse wat sy leeftyd tot op hede bevolk het.

Nie net bevat Dylan die talryke prestasies en eerbewyse, en die wyshede en ervaringe en omswerwinge van sy besonderse lewensreis nie; hy bevat ons ook – die menigtes wie se lewens mateloos verryk is deur die spieël wat hy steeds vir ons ophou.

En, insgelyks, bevat ons hom.

Swart is ’n musikant en skrywer wat op Onrus woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Valiant Swart  |  Bob Dylan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.