Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Valiant Swart: Die ‘babe’ en die bariton

Hy was oombliklik verlief op die vrou wat uitdagend oor haar skouer geloer het en geklee was in slegs ’n trui en ’n paar kniehoogte-leerstewels, skryf Valiant Swart.

Nancy Sinatra het op 17-jarige ouderdom haar sangdebuut gemaak. Foto: Argief

My langspeelplaat-versameling is losweg opgedeel in verskillende genres en kategorieë. Van blues tot boeremusiek, jazz tot R’n’B, klankbane tot country, rock, folk, en vele meer, pryk die oudioskatte wat ek oral uitsnuffel en vertroetel knus in hul plekke, daar tussen hul maats wat min of meer tot soortgelyke musiekstyle hoort.

Ja, hulle word regtig vertroetel; hulle kry op tuiskoms ’n skoonheidsbehandeling met ’n mikrovesellappie en spuitbotteltjie propielalkohol, en splinternuwe binne- en buitejassies, ter aanvang van hul “tweede lewe” onder die dak van iemand wat regtig diep vir hulle omgee.

Daar is ’n afdeling vir vroulike solosterre, genaamd Divas & Sirens, en hul eweknie in die kategorie vir die solomans heet Dudes & Crooners.

Laasgenoemde bevat die goue stemme van manne soos Tom Jones, Tony Bennett, Elvis, Engelbert Humperdinck, BJ Thomas, Burt Bacharach en Mario Lanza, asook ’n 20-plus Frank Sinatra-versameling – ek is ’n groot aanhanger van Ol’ Blue Eyes.

Die Divas & Sirens-afdeling is die tuiste van Eartha Kitt, Ella Fitzgerald, Edith Piaf, Anita O’Day, Lena Horne, Shirley Bassey, Barbra Streisand, Dusty Springfield, Joan Baez, en so meer, en ek is lief vir hulle almal . . . maar ek het hier ook ’n Sinatra-witbroodjie: Nancy.

Jip, Frank se dogter.

Pruilend en speels

Nancy Sinatra het op 17-jarige ouderdom haar sangdebuut gemaak. Haar bekendste treffer is steeds haar immergroen These Boots Are Made For Walkin’ , met die kenmerkende afwaartse bas-nootfiguur. Pruilend en speels, het hierdie liedjie ’n bres geslaan vir feminisme. Ironies genoeg is dit ook as ’n soort temalied aangeneem deur die Amerikaanse troepe in Viëtnam.

Haar bekendste treffer is steeds haar immergroen 'These Boots Are Made for Walkin’'. Foto: Argief

Die eerste Nancy-album, wat ek ’n hele klompie jare gelede in ’n snuffelwinkel raakgeloop het, was How Does That Grab You? Op die omslag loer sy uitdagend oor haar skouer, geklee in slegs ’n trui en ’n paar kniehoogte-leerstewels. Ek was oombliklik verlief.

Ek was ook verras om die liedjie “Sand”op die plaat aan te tref – ek het die weergawes van die sangeres Lisa Germano en OP8 (die orkeslede van die alternatiewe/Americana-groepe Giant Sand en Calexico) geken, asook die sonderlinge rendisie van die Duitse “industrial”-geraasmakers Einstürzende Neubauten. Die laaste nommer op die album is die ewe bekende Bang Bang (My Baby Shot Me Down), ’n sexy, noir-poptreffer uit die pen van Sonny Bono – Cher se eksman.

Die skrywer/komponis van die liedjie “Sand” was Lee Hazlewood, ’n liedjieskrywer/sanger/plateregisseur met ’n lewensgroot persoonlikheid. Hazlewood was geseënd met ’n slag vir meesleurende, hipnotiese komposisies en ’n talent vir net-onder-die-oppervlak- suggestiewe en erotiese temas.

Nancy en Lee het ’n baie vrugbare vennootskap geniet. Toe Hazlewood aanvanklik met haar begin werk het, het die sexy jong Sinatra, haar inherente wulpsheid ten spyt, eintlik ’n heel oulike, soet en veilige beeld uitgestraal.

Hazlewood se onbeskroomde advies aan haar was: “Sing like a 14-year old girl who f***s truckers.”

Hoewel vulgêr en verkeerd op soveel vlakke, was hierdie aanbeveling ’n keerpunt in haar loopbaan, wat in daardie stadium nie juis flink op dreef was nie. Trouens – dit was haar vader, Frank, wat Hazlewood ingeroep het om sy dogter se loopbaanvooruitsigte ’n broodnodige hupstoot te gee.

Lee Hazlewood en Nancy. Foto: Argief

Nancy het Lee se growwe raad gevolg en haar loopbaan het meteens vlam gevat. Hy het haar begin voorsien van die een treffer ná die ander, elkeen nommerpas vir haar stem en haar nuut aangepaste, effens koketterige beeld.

Hazlewood was ’n imposante, lenige figuur, met ’n diep baritonstem en welige hangsnor. Hy was terloops ook die man wat die “twang”-kitaarheld Duane Eddy se wêreldbekende klank geslyp het.

Vroeër vanjaar het ek myself nogmaals bevind in ’n snuffelwinkel, op soek na ou skatte in die platerakke, toe ek meteens afkom op ’n Nancy-uitreiking genaamd Nancy In London. Ek het dit onmiddellik gekoop.

Onweerstaanbaar

Tuis het ek die plaat eers die gebruiklike troetelbehandeling gegee en dit toe op die draaitafel gesit. Wel, dis nou al maande later en dis steeds die album waarna ek tot dusver vanjaar die meeste geluister het.

Lee Hazlewood se vernuftige produksiehand is oral aanwesig. Die keuse van liedjies – sommige deur Hazlewood self geskryf – en die sensuele toonaard van al die komposisies, verleen aan die album ’n stemming wat ek geheel en al onweerstaanbaar vind; bykans anderwêrelds, meesleurend en gehul in misterie.

Die hoogtepunt vir my is die treffende Hazlewood-komposisie Summer Wine”, met luukse orkestrasie (en daai hoendervleis-baritonstem) kompleet met ’n “da-da-TADAAA!”-James Bond-kamee-insetsel.

Valiant Swart

’n Ander Hazlewood-duet met Nancy, die diep sensuele Some Velvet Morning”, laat resensente en aanhangers steeds gis oor die ware betekenis van die donker, misterieuse lirieke.

Nog sexy

Lee Hazlewood het algaande uit die kollig verdwyn. Sy laaste soloalbum was Cake or Death. Hy is in 2007 aan kanker oorlede.

En Nancy?

Wel, haar gemaklike sensualiteit is in 1995 bevestig toe sy op die ouderdom van 54 naak geposeer het vir die voor- en middelblaaie van die tydskrif Playboy.

En sy lewe nog – trouens, sy het vroeër vandeesmaand 81 geword, en sy’s so sexy soos altyd.

* Swart is ’n sanger en skrywer wat op Onrus woon. Die menings van rubriekskrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Valiant Swart  |  Frank Sinatra
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.