Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Valiant Swart: Die dans van die lewe
Leo Sayer in aksie op ’n konsert in 2007 in Melbourne. Foto: Getty Images

Noudat hy weer regte konserte kon hou, was dit vir Valiant Swart merkbaar watter geweldige behoefte mense daaraan het om te kommunikeer.

Vanoggend het ek ’n lekker lang ent op my eie langs die see gaan stap.

Terwyl die deinings glinster in die laatwintersonnetjie, loop en bepeins ek die afgelope twee naweke toe ek weer die genoegdoening kon smaak van liedjies sing en speel vir gehore van vlees en bloed, met regte egte, spontane reaksies op hul gunstelinge.

Applous, hoewel lugleeg en vlugtig, is ’n kragtige en verslawende dwelm.

Die gehore was uitbundig en ontvanklik en duidelik in hul noppies om weer vir ’n slag ’n “lewendige” musikant te hê wat hulle vermaak, in stede van ’n tweedimensionele, grinterige rekenaarbeeld met blikkerige klank.

Valiant Swart

Die behoefte aan lekker musiek was ewe groot as die behoefte aan lekker gesels.

Ek het by elke vertoning vir meer as twee ure aaneen gespeel en as dit nie was vir die aandklokreël waaronder ons steeds gebuk gaan nie, het ek dubbeld so lank gesit en sing, daar op my stoel op die verhoog, met my kitaar en my bekfluitjies en my glas wyn, terwyl die mense vrolik babbel en saam sing en dans.

Dis my natuurlike habitat, waar ek so tuis voel soos ’n vis in die water.

Een van my gunsteling musikante, my tydgenoot Vusi Mahlasela, is eenmaal deur Nadine Gordimer só beskryf: “Vusi sings as a bird does, in total response to being alive.”

Dis presies hoe ek voel oor musiek maak.

‘Bad Boy’ en Leo Sayer

Terwyl ek nog so lekker aanstryk, gewaar ek ’n entjie voor my ’n bonkige viertrek-bakkie, vlak langs die kuspaadjie geparkeer, met die nommerplaat van ’n binnelandse provinsie voorop. Die trokkie is toegerus met breë bande en jagligte en ’n imposante bosbreker vooraan, waarop daar in hoofletters gedruk staan: “BAD BOY”.

In die kajuit sit ’n fris, bebaarde kêrel wat besig is om deur die oop ruit aan die passassierskant foon-foto’s van die branders te neem.

Ek hoor die gedempte klanke van musiek wat by die bakkie uitsypel, en net toe ek ’n raaiskoot wil waag oor waarna “Bad Boy” luister, word ek geheel en al onkant betrap deur die opgewekte klanke van – wil jy glo – Leo Sayer!

“Well I’m a one man band/Nobody knows nor understands/Is there anybody out there want to lend me a hand/With my one man band.”

“Leo Sayer?” lag ek geamuseerd na binne terwyl ek by die bakkie verbystap. “Die bossiekop skoongesig-outjie uit die sewentigerjare, met sy stroperige liefdesliedjies soos ‘When I Need You’, en ‘You Make Me Feel Like Dancing’?”

Ek het dit glad nie verwag nie. Eerder heavy metal, of selfs ’n doef-doef-sokkietreffer.

Dit wys jou net – jy takseer nie ’n Bad Boy op sy bakkie nie.

Dalk was dit sy gunsteling mixtape waarna hy geluister het, met The Carpenters, Barry Manilow, Anne Murray . . . wat weet ’n mens tog van die gevoelswêreld van ’n vreemdeling?

Miskien was dit net die radiostasie waarop hy ingeskakel was.

Hoe ouer, hoe meer emosioneel

Die gevoelswêrelde van ander mense is iets waarmee ek as musikant deurlopend te doen kry, veral met my solo-akoestiese optredes, wat die afgelope meer as tien jaar die meerderheid van my vertonings uitmaak. Dis gewoonlik meer intieme luister-ervarings – beduidend anders as daai woeste, sweterige rock-sessies van weleer, toe ons jonk en rof was, en ons gehore ook.

Soos ons ouer geword en die lewe sy verloop geneem het, is almal al meermale gelouter deur die aanslae en die slaggate wat met die jare oor mens se pad kom; die dinge wat jou uit noodsaak weerstandig en taai maak; nie net fisiek nie, maar ook na binne.

’n Konsert lank, lank gelede: Valiant Swart in aksie op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in 2007. Foto: Gallo Images

Vandag is die meeste van ons al wyd verby veertig en vyftig, met kinders en loopbane en veelvuldige lewenservaringe op ons onderskeie paadjies.

Ek het al opgetree by vele troues of mylpaal-verjaarsdae of huiskonserte, en telkens word daar entoesiasties staaltjies vertel van destyds, toe ons almal nog vreesloos en onaantasbaar was.

Waar dit destyds ondenkbaar was dat iemand in die gehoor of op die dansvloer emosioneel sou raak oor ’n aandoenlike liriek of ’n roerende kitaarsolo, is dit in hierdie stadium van ons lewens geensins ongewoon nie.

Met my liedjie “Sonvanger”, byvoorbeeld, is daar elke keer mense – mans, sowel as vrouens – wat tranerig raak wanneer ek dit sing. Emosies het nie geslagsvoorkeure nie.

Behoefte om te kommunikeer

Jou gevoelswêreld is die ontasbare deel van dit waarvan ons as lewende wesens aanmekaargesit is, en dis nie net tot die mensdom beperk nie.

Ons is “sentient beings” met ’n bewussyn en ’n emosionele kapasiteit, nes ontelbare ander aardbewoners.

Met die afgelope naweke se “one man band”-konserte was dit merkbaar watter geweldige behoefte mense daaraan het om te kommunikeer, om uiting te gee aan hul gevoelens. Al die dinge – alledaags, uitsonderlik, komies of hartseer – wat ons nodig het om met mekaar oor die weg te kom, sodat ons die fyn balans kan handhaaf wat die dans van die lewe van ons vereis.

Selfs al is dit op die vrolike maat van ’n Leo Sayer-treffer.

* Swart is ’n musikant en skrywer wat op Onrus woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Valiant Swart  |  Emosies  |  Mening  |  Kommunikasie  |  Musikant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.