Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Valiant Swart: Die Koning en die kroek

As hy kyk hoe die Koning van Rock se lewe heeltemal gemanipuleer is, is hy baie bly dat hy sy eie “bestuurder” is, skryf Valiant Swart.

Die ‘kolonel’ en die Koning. Elvis Presley en sy bestuurder, Tom Parker (links). Foto: Getty Images

Raai ’n bietjie wie is Dries van Kuijk? ’n Nederlandse sokkerspeler? Die landheer van ’n taverne aan die Kaap de Goede Hoop, circa 1666? ’n Dwelmbaas van Den Haag? ’n Hedendaagse hoenderboer van die Paarl?

Helaas, geeneen van die bostaande nie. Andreas Cornelis (Dries) van Kuijk was weliswaar van Nederlandse afkoms, maar die Westerse wêreld sou hom leer ken as die Amerikaner Colonel Tom Parker – Elvis Presley se bestuurder.

“The Colonel”, soos hy allerweë bekend gestaan het, het sedert die aanvang van die sexy jong lorriedrywer se sangloopbaan die transaksies beklink wat van Presley ’n wêreldwye ikoon gemaak het. Hy het elke aspek van Elvis se trajek na onsterflike roem noukeurig beplan en beheer. Sodoende het hy nie net sy sensasionele protégé skatryk gemaak nie, maar ook homself.

Glad nie te sleg vir ’n onwettige immigrant wat op 20-jarige ouderdom die VSA binnegekom het nie.

Daar is tans op Netflix ’n dokumentêre program, genaamd The Searcher, wat handel oor Elvis se wel en wee onder die wakende oog van die “Colonel” (’n eretitel wat vroeër aan Parker toegeken is deur die destydse goewerneur van Louisiana, in ruil vir gunsies tydens laasgenoemde se verkiesingsveldtog).

Parker saam met Presley toe die sanger in 1960 sy diensplig in die Amerikaanse weermag voltooi het. Foto: Getty Images

Ten spyte van Parker se eretitel, was hy steeds – vir die res van sy lewe – ’n onwettige immigrant. Hy kon dus nooit die VSA verlaat nie – hy sou summier gedeporteer word indien hy die land weer sou probeer binnekom. Omdat hy elke faset van Elvis se lewe beheer het, het dit direk daartoe gelei dat Elvis nooit internasionale toere kon onderneem nie. Die Kolonel wou nie sy “goue gans” vir ’n oomblik onder sy wakende oog laat uitgaan nie.

Elvis was totaal in die duister oor sy baas se onwettige status.

In die Netflix-dokkie kom ’n mens onder die indruk van die volslae manipulasie waaronder Elvis moes lewe. Sy verslawing aan voorskrifdwelms, die soetsappige, patroonmatige flieks waarin hy moes speel, die tonne trashy Elvis-handelsware – alles is sorgvuldig in plek gesit om Parker (en Presley) se sakke te vul.

Op die ou end het dit van Presley ’n diep ongelukkige kunstenaar gemaak en aanleiding gegee tot die tragiese wyse waarop hy aan sy einde gekom het – onvervuld, ongesond, verslaaf, eensaam en paranoïes in Graceland, sy “goue kou” aan die buitewyke van Memphis.

Hoe anders kon dinge nie gewees het nie . . .

Andreas Cornelis (Dries) van Kuijk, alias kolonel Tom Parker. Foto: Getty Images

Dit is nou maar eenmaal so dat die glansryke sfeer van die uitvoerende kunste nie net die domein is van die kunstenaars self nie. Inteendeel – die kunstenaars beslaan ’n kosbare minderheid van die siele wat die kalklig laat skyn en die applous ontlok.

Die res – van die nederigste skoonmaker tot die mees gevierde impresario – maak verreweg die grootste deel uit van diegene wat die vermaakwêreld bevolk.

Ek raai dat losweg 90% van uitvoerende kunstenaars verbonde is aan ’n agentskap wat optredes en rolle vir hulle najaag en hul loopbaan bestuur en ook die allerbelangrike reklame behartig wat die kunstenaar in die publieke bewussyn hou.

So ’n agent/bestuurder werk dikwels aangestel op ’n “vaste fooi plus kommissie”-grondslag wat deur – raai-raai – die kunstenaar “geabsorbeer” word.

Ek behoort tot die 10% wat nie van so ’n instansie gebruik maak nie. Ek verkies die “eie tyd, eie teiken”-benadering. Ek reël self my toere en doen my eie ding en ek besluit waar en vir wie ek wil optree. Die peslike administrasie wat met besprekings gepaard gaan, word gelukkig deur my vrou, Lanelle, behartig. Ek is te loskop daarvoor.

Ek veronderstel dat ek uit ’n effens “bevoorregte” posisie praat (such as it is), ná meer as 30 jaar op die verhoog. Terselfdertyd kan ek steeds nie net agteroor sit en wag dat dinge maar vir my moet gebeur nie. Ek bly deurlopend besig met my reëlings.

Die vryskutbestaan wemel van die slaggate. Ek het baie empatie vir jong, opkomende kunstenaars wat teen wil en dank maar moet vat wat hulle kry en ek gun elkeen daai deurbraak wat hulle toekom.

Op die lange duur, moet ek byvoeg, is daai aanvanklike “hard yards” baie meer werd as kitsroem.

Valiant Swart

Dit kan egter maar wreed wees in die kalklig. Jy staan soms voor onbeskofte gehore en jy kry te doen met glibberige venue-eienaars en gehawende klankstelsels en besope lummels en grillerige huisvesting.

En dis niks lekker om ná afloop van die optrede jou orkeslede te moet inlig dat die fooi nie heeltemal gaan realiseer nie. Dit gebeur wraggies nog soms. En raai wie moet dit “absorbeer”?

Die langpad is ook nie altyd so romanties soos ons dit graag besing nie. Maar dit bly, naas my eie huis, my gunstelingplek, wat my deurlopend inspireer en in vervoering hou.

’n Mens kan maar net wonder hoe anders dit sou wees as Elvis wêreldtoere kon onderneem en inspirasie uit die musiek en die kunstenaars van ander vastelande kon put. En gekoester is deur iemand wat werklik omgegee het vir die man en sy verstommende talent.

In stede van ’n agterbakse, selfsugtige ou kroek soos Dries van Kuijk.

• Swart is ’n sanger en skrywer wat op Onrus woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.