Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Valiant Swart: Die rustige rock ’n roll-kluisenaar

Hy was heeltemal oorrompel toe hy as student R2 by ’n plate-biblioteek betaal het om twee van JJ Cale se langspeelplate uit te neem, skryf Valiant Swart.

JJ Cale op die verhoog in Kalifornië in 1993. Foto: Getty Images

Watter drie klassieke rockliedjies het die herkenbaarste openings-kitaar-riffs van alle tye?

Dis sekerlik ’n hoogs subjektiewe lysie, maar hier is my trippens-’n-pond: “Smoke On The Water” van Deep Purple, “(I Can’t Get No) Satisfaction” van die Rolling Stones, en “Cocaine” van JJ Cale.

Laasgenoemde is sonder twyfel my witbroodjie van die drie.

Soos baie ander aanhangers het ek Cale se musiek ontdek deur die superster Eric Clapton, wie se weergawe van “Cocaine” op die album Slowhand verskyn het. Dis uitgereik op 25 November 1977 – my 12de verjaardag, nogal.

Toevallig het ek net sowat twee maande tevore self geleer kitaar speel uit ’n boek met akkoorde wat my ma vir my in die Paarl gekoop het.

Ek was in st. 4 aan die Laerskool Hugo Rust in Wellington, gans onbewus van wesens soos Clapton en Cale en, les bes, dinge soos kokaïne.

Toevallig het ek net sowat twee maande tevore self geleer kitaar speel uit ’n boek met akkoorde wat my ma vir my in die Paarl gekoop het.

My kitaar en ek was sommer spoedig onafskeidbaar. Ek het op hoërskool in die Landsdiensorkes gespeel, en ook in verskeie permutasies van ’n band wat deur my tienerjare omtrent kwartaalliks ’n naamsverandering ondergaan het, al het die lede en die repertoire eintlik maar dieselfde gebly. Een van ons liedjies was ’n baie losse weergawe van “Eric Clapton se Cocaine”, met opgemaakte woorde en hoogs bedenklike lead breaks – meestal semi-atonale enkelnote, gewurg deur die vrotste luidsprekers en die goedkoopste distorsiepedaal in die ganse “Land van Waveren”, soos die geskiedkundige distrik van Wellington lank gelede bekend gestaan het. (Die waens vir die Groot Trek is daar gebou.)

’n Plate-biblioteek en ’n kasset

Eric Clapton was JJ Cale se beroemdste aanhanger. Foto: Getty Images

Dit was eers op universiteit dat ek Cale se musiek uiteindelik ontdek en behoorlik leer ken het. Op Stellenbosch, in ’n stegie tussen twee kafees, was daar ’n plate-biblioteek genaamd Kraft waar ’n mens plate kon uitneem vir iets soos R1 elk.

Ek het die albums Grasshopper en Troubadour met my eerste besoek uit die rak gehaal, die R2 betaal en my terug gehaas na my kommune-kamer.

Daar het ek my vondste op ’n splinternuwe Sony C-90-kasset afge-tape.

Valiant Swart

Ek het met die heel eerste luister ’n geswore dissipel geword. Cale se rustige, spokerige stemtoon, en die bluesy, folky, country-rige kitaar wat tydsaam rondom die lirieke en die ritme vleg en wentel, terwyl dit klink asof die orkes die wêreld se tyd het om by die einde van die liedjies uit te kom . . . ek was heeltemal oorrompel.

Ek het vir die eerste maal kennis gemaak met die supercool, oorspronklike weergawe van “Cocaine”, soos gesing en gespeel deur Die Man self.

Aanstons het ek sy ander albums ook in die hande gekry: Naturally, Okie, 5, Really, en Shades; elkeen ’n meesterklas in moeitelose, stresvrye cool.

Clapton, ’n groot Cale-aanhanger, het verskeie ander Cale-liedjies ook opgeneem, soos “Travellin’ Light” (vanaf Troubadour) en “After Midnight” (vanaf Naturally).

Ander sterre het dieselfde gedoen: Lynyrd Skynyrd, Johnny Cash en John Mayer met “Call Me The Breeze”; Captain Beefheart met “I Got The Same Old Blues” (op sy album Blue Jeans And Moonbeams) en Carlos Santana met “Sensitive Kind” (op sy album Zebop).

Geen ooghare vir glansbestaan

JJ Cale op die verhoog in Stockholm, Denemarke, in 1976. Foto: Getty Images

JJ Cale het glad nie ooghare vir roem en ’n glansbestaan gehad nie. Hy was doodtevrede met ’n rustige, eenvoudige lewe.

In 1980 het hy saam met sy vrou, Christine, in afsondering in ’n trailer gaan woon in San Diego, Kalifornië. Hy het grootliks uit die openbare oog verdwyn.

In ’n latere onderhoud het hy by navraag oor sy doen en late in die 1980’s opgemerk dat hy hom besig gehou het met “mowing the lawn and listening to Van Halen and rap”.

Daai kasset het baie, baie toere met my en my band meegemaak, totdat hy eendag op aftrede geplaas is in ’n tas vol soortgelyke relikwieë.

Omdat hy so skugter vir publisiteit was, was daar nooit veel beeldmateriaal van sy optredes beskikbaar nie. In 2005 het daar egter twee afsonderlike DVD’s van hom verskyn: die een was ’n lewende ateljeesessie, verfilm in 1979 in Leon Russel se Paradise Studios in Los Angeles – ’n absoluut fantastiese dokument van sy werkswyse.

Die ander een was ’n toer-dokumentêr genaamd To Tulsa And Back – eweneens fassinerend, waarin hy spot met al die beskrywings wat al aan hom toegedig is.

Hy grinnik lekker oor die laid back-etiket: “I’m not laid back at all – I’m a nervous jerk!”

Cale is op 26 Julie 2013 in San Diego aan ’n hartaanval dood. Hy was 74 jaar oud. Ná sy dood het Clapton sy beroemdste aanhanger, ’n versamelalbum met die naam The Breeze – An Appreciation of JJ Cale vervaardig, waarop bekendes soos Tom Petty, Mark Knopfler, Willie Nelson en andere hulde bring aan Cale, met treffende weergawes van sy bekendste komposisies.

’n Kasset tree af . . .

Ek het steeds my eerste Cale-kasset wat ek in 1985 in my studentekamer gemaak het, met Troubadour op die een kant en Grasshopper op die keersy. Daai kasset het baie, baie toere met my en my band meegemaak, totdat hy eendag op aftrede geplaas is in ’n tas vol soortgelyke relikwieë.

En ja; die openings-kitaar-riff van “Cocaine” is steeds in my Top-3 van alle tye.

• Swart is ’n musikant en skrywer wat op Onrus woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Eric Clapton  |  Valiant Swart  |  Stellenbosch  |  San Diego  |  Rock
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.