Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Valiant Swart: Die zen van die platewinkel

In die goeie ou dae was die soeke na musiek ’n fisieke avontuur. Valiant Swart skryf hoe hy besluit het om uit respek by ’n platewinkel te bedank.

Valiant Swart Foto:

In die goeie ou dae voor die koms van musiekstroom-platforms, selfs nog voor CD’s, was ’n rustige agtermiddag in ’n platewinkel altyd ’n lekker bederf.

Jy kon instap en ’n paar opwindende nuwe uitreikings kies – soos die nuwe AC/DC-album byvoorbeeld – en dan kon jy in ’n hokkie met oorfone gaan staan en na die liedjies van jou keuse luister.

Soms kon jy sak skud vir ’n nuwe plaat of twee. Maar jy moes jou tyd vat en sorgvuldig jou keuses maak. Jy kon nie iets koop en dit dan die volgende dag – of ná die naweek – terugbring en omruil nie.

“Ek meen, hello!” het sy haar oë gerol, “Black Sabbath is nie boring nie!”

Agter die toonbank van elke platewinkel was daar dikwels ’n hippie-filosoof-ghoeroe-tipe ouer dude, met ’n ronde bril en krulhare en ’n etniese vlooimark-onderbaadjie. Hy het gewoonlik alles geweet van Genesis en Pink Floyd en Michael Franks, en die vervelige supergroep SKY.

Daar was ook altyd ’n meisie met lang swart hare en ’n heavy metal-T-hemp, en nog ’n verkoopsoutjie – omtrent so oud soos sy – wat soggens op sy skaatsplank by die winkel opgedaag het. En haar met sy wise-ass-houding geïrriteer het.

“Ek meen, hello!” het sy haar oë gerol, “Black Sabbath is nie boring nie!”

‘The casual casual’

Voordat jy al jou inligting elektronies kon kry, was die soeke na nuwe musiek ’n fisieke avontuur. Jy moes by ’n winkel uitkom – verkieslik nie op jou eie dorp nie (met hoofsaaklik Leon Schuster- en Springbok-kassette in die supermark se bargain bin), maar wel op die groter buurdorp, waar jy gewoonlik in die CNA iets kon opspoor wat nie te sleg is nie.

Die heel lekkerste was om stad toe te gaan met die trein, en dan in Ragtime Records in die Goue Akker te gaan plate luister. ’n Mens het met ’n roltrap na onder gery, en dan het jy daar ingestap en die res van die middag in die luisterhokkies rondgehang. Jy kon na hartelus kies uit ’n uitgebreide musiekversameling. Hulle het ’n goeie voorraad ingevoerde plate aangehou, wat duurder en skaarser was en beter geklink het. En ’n statussimbool was.

Jy was sommer wrewelrig as ander ouens jou imports wou af-tape.

Op Stellenbosch, waar daar in die jare 80 ’n CNA-winkel met ’n groterige plate-afdeling was (ek het in 1985 Muddy Waters se album Rollin’ Stone daar gekoop, en Bob Dylan se Desire; ek het dit steeds), en naderhand ook ’n groot Musica-winkel net om die draai, kon ’n mens deurlopend lekker nuwe uitreikings kry.

Die lekkerste Stellenbosse platewinkels, egter, was Sigma Records in die 1980’s, en Classix On CD in die 1990’s en vroeë 2000’s. In die 1980’s was ek nog te arm om Sigma se imports te kon bekostig, en ’n laaitie soos ek kon nie sommer net daar rondhang en voorgee dat hy iets gaan koop nie. Die eienaar Peter was ’n effe streng ouer man.

Maar ná ’n tyd is ek nogmaals van stryk gebring deur my baie losse verhouding met my horlosie. Ek was omtrent altyd laat, elke oggend.

Vroeg in 1990 het ek in ’n fase van erge armoede as informele verkoopsassistent ingeval by Musica, Stellenbosch – met die einste Peter as winkelbestuurder. Hoewel hy redelik formeel was, was hy gaaf en mededeelsaam met sy ontsaglike musiekkennis.

Dit was aanvanklik lekker om heeldag musiek rondom my te hê en om personeel-afslag op plate te kry. Maar ná ’n tyd is ek nogmaals van stryk gebring deur my baie losse verhouding met my horlosie. Ek was omtrent altyd laat, elke oggend. En my lunch break: Daar was ’n pub reg langs die platewinkel! Wat doen ’n mens?

Ek het eendag uit respek besluit om te bedank. Peter was heel gelate daaroor: “You know what we called you here? ‘The casual casual.’ ” Ons het altwee gelag.

Onmiddellik oorrompel

Ek het een oggend in die 1990’s by Classix On CD ingestap, op soek na ’n uitreiking van Richard Hawley, ’n Britse kitaarspeler en sanger oor wie se album Lady’s Bridge ek in ’n musiektydskrif gelees het. Ek het geen benul gehad hoe sy musiek klink nie; ’n resensie of twee was my enigste verwysing.

Richard Hawley tree in Sheffield, Engeland, op. Foto: Getty Images

Soms het ’n mens mos net so ’n gevoel oor iets; dat jy op die punt is om iets onweerstaanbaars te ontdek.

Die winkel het sowaar ’n kopie van Lady’s Bridge gehad. Ek het dit geluister, en ek was onmiddellik oorrompel, en ek is steeds. My Hawley-versameling is vandag redelik omvattend.

’n Ander fantastiese ontdekking daai dag, op aanbeveling van die verkoopsassistent, was ’n album genaamd Train Home van die Amerikaanse sanger/liedjieskrywer Chris Smither. Sielvolle stem, lekker kitaar en lirieke – wat meer kan jy vra?

Die metal-meisie en die skaatsplank-outjie

In my verbeelding sit die hippie-ghoeroe-filosoof van die openingsparagraaf nou en staar na die see vanuit sy aftree-woonstel, terwyl hy sy voet op die maat van SKY se eens riskante LIVE/EVIL wikkel-wikkel.

En die metal-meisie en die skaatsplank-outjie? Hulle is nou al jare getroud, en hul laaitie is ’n tromspeler in ’n punkband, en sy sussie luister kliphard na Black Sabbath agter haar geslote kamerdeur.

*Swart is ’n musikant en skrywer wat op Onrus woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Valiant Swart
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.