Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Valiant Swart: Drie drukke en die waarheid

Hoewel hy besef dat dit ’n maklike teiken vir spotters is, is hy versot op goeie countrymusiek, skryf Valiant Swart.

’n Musiekwinkel in Cambridge, Massachusetts, spog met ’n stewige versameling countrymusiekplate. Foto: Getty Images

Wyle Ollie Viljoen vertel my eendag ’n snaakse storie oor ’n jazz-musikant wat tydens ’n opnamesessie ’n toeval van die een of ander aard gekry het.

’n Ambulans is ontbied en by dié se aankoms vra die paramedikus: “Are you allergic to anything?”

Die antwoord was ’n saaklike: “Country music.”

Dit was ’n tipiese voorbeeld van jazz-puriste se afkeer in – wel, basies enige ander musiekgenre.

Daar is twee soorte musiek – goeie musiek, en slegte musiek.
Ollie Viljoen

Countrymusiek, in die besonder, is ’n gunstelingteiken.

Die wortel van hul weersin lê waarskynlik opgesluit in die eenvoud van die vorm – in skrille kontras met die ingewikkelde, serebrale aard van diep jazz. Ironies is dit juis daardie oënskynlike eenvoud – veel meer genuanseerd as wat dit op die oppervlak blyk – wat aan countrymusiek sy besonderse sjarme verleen.

’n Gesegde wat deur aficionados van country- en bluesmusiek gedeel word, lui: “Three chords and the truth.”

Oom Ollie, ook ’n uitstekende jazz-pianis, se blik op musikale snobisme was eenvoudig: “Daar is twee soorte musiek – goeie musiek, en slegte musiek.”

Die eensame Hank

Hank Williams is op die ouderdom van 29 jaar dood. Foto: Getty Images

Ek is versot op goeie countrymusiek. Dat dit wel ’n maklike teiken is vir ’n spottery, kan ek egter nie ontken nie.

Neem nou maar die clichés: die Stetson-hoede, die versierde cowboystewels en die rhinestones en tossels en gespes, en die sangeresse met hul bykans burleske grimering en haarstyle . . . Dolly Parton, enigiemand?

Die musikale gemeenplase is eweneens volop – veral in die lirieke. Verreweg die meeste countryliedjies gaan oor onreg en verdriet van die een of ander aard: ontrouheid, eensaamheid, dranksug, armoede, tronkstraf en ’n hele streep ander ellendes.

Jy kan keurige voorbeelde vind in die oeuvre van country se hartseerste seun, Hank Williams, wie se liedjie “I’m So Lonesome I Could Cry” moontlik die mees melankoliese drie minute in die geskiedenis van populêre musiek verteenwoordig.

Williams, die eerste countrysuperster, is op Nuwejaarsdag in 1953 dood aangetref in sy Cadillac – die slagoffer van ’n oordosis pynpille en whisky.

Hy was 29 jaar oud.

Komiese lirieke (en titels)

Johnny Cash dra ’n paar indrukwekkende stewels. Foto: Getty Images

Dis opvallend dat selfs die verdrietigste countryliedjies meesal voorsien is van ’n taamlik opgewekte, ritmiese onderbou – seker maar ’n manier om die smart te besweer.

Trouens, countrymusiek is glad nie net van snot en trane aanmekaargesit nie. Die lirieke kan erg komies wees; dit wemel soms van die slinkse woordspelings en humoristiese situasies en pittighede.

As jy lus is vir lekker lag, gaan google gerus “country song titles”.

Daar is ’n paar absolute juwele: “You’re The Reason Our Children Are Ugly”; “I Still Miss You (But My Aim’s Gettin’ Better)”; en natuurlik die Bellamy Brothers se ondeunde “If I Said You Had A Beautiful Body (Would You Hold It Against Me?)”, ’n treffer in Suid-Afrika in die tagtigerjare.

Ek onthou hoe ek as jong tiener die liedjie op my kitaar geleer speel het, met groot drome oor ’n loopbaan as musikant.

’n Droom word waar in Nashville

Broadway-straat in Nashville. Foto: Getty Images

Een van daai drome is so drie jaar gelede bewaarheid, toe ek genooi is om op te tree by ’n private funksie in Nashville, Tennessee – die internasionale hoofstad van countrymusiek.

Ek was soos die spreekwoordelike kind in ’n lekkergoedwinkel.

Ek het oopmond deur die uitstallings in die Country Music Museum and Hall of Fame gedrentel en my verkyk aan die memorabilia van die legendes van die genre.

Daar was kitare, Cadillacs, verhooguitrustings, en die oorspronklike, handgeskrewe lirieke van immergroen treffers, en vele ander skatte. Die ding wat my die meeste bybly, amusant genoeg, is hoe reusagtig Johnny Cash se swart stewels was, daar in die glaskas waar hulle uitgestal word.

Valiant Swart

Ek het vir my kitaartas ’n plakker gekoop waarop staan, “If you don’t like my country, you can kiss my twang.”

Ons het byna daagliks verby Dolly Parton se huis gery. Nie omdat ons stalkers was nie; haar huis was op ons pad na die stad. Haar toerbus het in die oprit geparkeer gestaan. Dit was vir my verskriklik cool.

Ek het ’n paar maal gaan rondhang in die musiekkroeë van die befaamde Broadway-straat in die middestad, met topgehalte orkeste wat op ’n roterende skofbasis optree: vanaf soggens elfuur tot snags drie-uur, elke dag van die jaar, in die strewe na ’n deurbraak en ewigdurende roem.

Die optrede by my gasheer se partytjie was die hoogtepunt van my besoek.

Ek en ’n plaaslike session-musikant het vreeslik lekker ge-jam; onder andere ’n bluegrass-banjogedrewe weergawe van my liedjie “Die Mystic Boer”, asook ’n hele rits stokou countryliedjies wat ek sedert my kinderdae ken.

’n Roerende ervaring

Op my laaste aand in Nashville was ons by ’n konsert in die Grand Ole Opry-teater – die spirituele tuiste van countrymusiek. Die kunstenaars op die verhoog was The Soggy Bottom Boys – die orkes in die Coen Brothers-fliek Oh, Brother, Where Art Thou? – met hul treffer “Man of Constant Sorrow” as die grand finale.

Dit was ’n roerende, onvergeetlike ervaring, wat die mees stoere jazz-aanhanger tot ander insigte sou kon bring.

Oom Ollie, weet ek, sou dit gate uit geniet het.

* Swart is ’n musikant en skrywer wat op Onrus woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Dolly Parton  |  Valiant Swart  |  Nashville
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.