Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Valiant Swart: Elektriese kitare maak die lewe vir my mooi

Hy het sy eerste elektriese kitaar gekry toe hy 12 jaar oud was en kan homself kwalik ’n wêreld daarsonder voorstel, skryf Valiant Swart.

Eddie van Halen met ’n optrede in 2015 in Palm Beach, Florida. Foto: Getty Images

Met die onlangse dood van Eddie van Halen het die wêreld een van die heel beste elektriese kitaarspelers van alle tye verloor.

Die ongebreidelde genot wat hy uitgestraal het wanneer hy sy donderende riffs en sy verstommende solo’s afgevuur het, het van Eddie ’n kits-ikoon gemaak sedert die Van Halen-rockgroep in 1978 hul gelyknamige debuutalbum vrygestel het.

Saam met sy broer, Alex, agter die dromme, die baskitaarspeler, Michael Anthony, en die flambojante sekssimbool-sanger, David Lee Roth, met die mikrofoon, het Van Halen splinternuwe lewe geblaas in die hard rock-genre, wat teen die einde van die sewentigerjare maar bra pretensieus en afgesaag begin raak het.

Boonop het die protagoniste van die nuwe punk-beweging genadeloos onder die opgeblase rock-supersterre ingeklim.

Wel, op die ou end was dit toe ook maar die drank wat Eddie en sy magic van ons weggevat het, op die relatief vroeë ouderdom van 65.

Niemand kon egter ’n vinger lê op Eddie en sy belhamel-orkes nie. Hulle was nie net opsetlik over the top nie; hulle het ooglopend eindelose pret geput uit hul uitbundige, bombastiese musiek en die meegaande hedonistiese leefstyl.

Hulle het nie ’n saak gehad met bleek klakouse uit gryse Engeland nie.

Op hul album Women and Children First (my tweede gunsteling naas hul debuut) het Eddie gewys dat hy ewe bedrewe is op akoestiese slide-kitaar met die speelse liedjie “Could This Be Magic?”

“Could this be magic/Or could this be love/Could this turn tragic/You know that magic often does . . .”

Wel, op die ou end was dit toe ook maar die drank wat Eddie en sy magic van ons weggevat het, op die relatief vroeë ouderdom van 65; 40 jaar ná die uitreiking van die Women and Children First-album.

Tragies, voorwaar.

Les maak van die wêreld ’n beter plek

Les Paul wat onwetend een van die belangrikste uitvindings van die 20ste eeu gemaak het: die elektriese kitaar. Foto: Getty Images

Derduisende liter lawaaiwater het al hul weg na die see gevind sedert daai wonderlike dag in 1929 toe ’n jong Amerikaanse kitaarspeler genaamd Les Paul die naald en klankkop van ’n platespeler binne-in sy akoestiese kitaar gemonteer het, daar in die voorkamer van sy ouerhuis in Wisconsin, en dit deur die luidsprekers van hul fonogram gespeel het. So het hy onwetend een van die mees seminale uitvindings van die 20ste eeu gemaak: die elektriese kitaar.

In daardie stadium was kitare uitsluitlik akoestiese instrumente en die bekende spelers was jazz-manne soos Django Reinhardt en die singende cowboy Gene Autry – albei steeds legendes in hul eie reg, en destyds groot helde van die jonge Les.

Sowat tien jaar later het Les Paul, toe reeds ’n bekende musikant, by die instrument-vervaardigers van die beroemde Gibson-fabriek gepleit om vir hom ’n solid body elektriese kitaar te bou, maar hulle het gedink hy is laf; alle snaarinstrumente, van viole en mandoliene tot banjo’s en kitare was destyds hollow body akoestiese modelle.

Die elektriese kitaar het gekom om te bly. Kan jy jou ’n wêreld daarsonder voorstel?

Die ringkoppe by die kitaarfabriek was naderhand so moeg vir Les se pleidooie dat hulle maar ingegee het en vir hom sy lawwe soliede kitaar gebou het, met elektroniese klankopnemers en -versterkers, en siedaar: die wêreld sou nooit weer dieselfde wees nie.

Die elektriese kitaar het gekom om te bly. Kan jy jou ’n wêreld daarsonder voorstel?

Ek ook nie.

Vandag is die Gibson Les Paul-kitaar ’n ikoniese instrument van die moderne era, wat al op ontelbare immergroen treffers en opnames weergalm het, tesame met al die ander modelle soos die 335 (’n hollow body, terloops) die SG (dink: AC/DC), die Firebird en talle ander.

Leo en sy klankversterker

Mense kyk in 2011 na ’n uitstalling oor die lewe en uitvindings van Leo Fender by ’n uitstalling in Corona, Amerika. Foto: Getty Images

In Fullerton, Kalifornië, aan die Amerikaanse Weskus, was daar ’n ander entoesias wat ook via sy belangstelling in elektronika by die bou van solid body elektriese kitare betrokke geraak het: Leo Fender, wat ons geseën het met die ikoniese Fender Stratocaster, soos gespeel deur Jimi Hendrix, Eric Clapton, Mark Knopfler, Stevie Ray Vaughan en ontelbare ander; en daarby ook die Fender Telecaster (my gunsteling), geassosieer met Bruce Springsteen, Keith Richards en omtrent elke liewe country-kitaarspeler wat ooit die aarde bewandel het.

Leo Fender was ook die man wat ons voorsien het van die eerste elektriese baskitaar – die Fender Precision Bass (oftewel “P-bass”) en sy stalmaat die Fender Jazz Bass, wat albei die ruggraat sou vorm van feitlik elke tweede orkes ter wêreld.

Hy het nooit geleer om die instrumente te bespeel wat hy uitgevind het nie, en wat van die wêreld soos ons dit ken so ’n lekker plek gemaak het nie.

Daarby het Leo ons ook toegerus met die wêreldberoemde Bassman-klankversterker, wat die bloudruk gevorm het vir al die klankversterkers wat sedertdien deur musiekgroepe gebruik word.

So seminaal was sy bydrae tot moderne musiek, dat hy in 1992 ingehuldig is in die Rock ’n Roll-heldesaal – al het hy nooit geleer om die instrumente te bespeel wat hy uitgevind het nie, en wat van die wêreld soos ons dit ken so ’n lekker plek gemaak het nie.

Die einste Keith Richards het Fender se inhuldigingstoespraak behartig, en hom nie net bedank vir sy ikoniese kitare nie, maar ook vir sy “real stroke of genius – giving us the amplifier to go with it”.

My eerste elektriese kitaar

Valiant Swart

Ek dink met heimwee terug aan my eerste elektriese kitaar, wat ek in 1978 gekry het toe ek 12 jaar oud was. My pa het dit een Saterdagmiddag vir R15 gekoop by ’n oom wat so ’n bietjie platsak en onder die prop was.

Ons het die kitaar getoets deur die ou gramradio wat in sy sitkamer gestaan het – byna nes Les Paul met sy ouers se platespeler gemaak het – en nie te lank daarna nie, het ek my eerste amplifier ook gekry; ’n Gallo, gekoop by die gelyknamige elektronika-fabriek in Kaapstad, vir R50, splinternuut.

Ek het spoedig ’n ywerige versamelaar geraak van instrumentale elektriese kitaarspelers se opnames: The Shadows, en Duane Eddy, die koning van “twang”-kitaar, en Al Caiola, en The Ventures, en Chet Atkins, en, op eie bodem, Ricardo Bornman (“Die Grenswag”) en Hansie Roodt en Danie Barnard en Thys Langeveldt en al die ander boeremusiekhelde.

En, natuurlik, Les Paul, sonder wie se obsessie met elektronika nie ek, of enige van die bogenoemde maestro’s, ooit ’n lekker liedjie sou kon pick op die verhoog nie.

’n Vers uit my liedjie “Samesyn” lui as volg:

Ja ek kyk graag in die bottel, maar teen wisselende diepte

En elektriese kitare maak die lewe vir my mooi

My hart is ’n casino en my dobbelsteen is liefde

Samesyn het ’n ses gegooi . . .

Lank lewe Eddie van Halen!

* Swart is ’n musikant en skrywer wat op Onrus woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Valiant Swart  |  Eddie Van Halen  |  Rock
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.