Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Valiant Swart: Met Henry was jy altyd in die prentjie

Valiant Swart onthou die een keer wat hy voor Henry Engelbrecht se lens verskyn het.

Henry Engelbrecht Foto: Fujifilm

Die ganse plaaslike rock-gemeenskap is vandeesweek in skok en rou gedompel met die ontydige dood van die fotograaf Henry Engelbrecht; nog ’n slagoffer van die Covid-19-pandemie wat al soveel lewens geëis het.

Die tallose huldeblyke wat op die sosiale netwerke die ronde gedoen het, het getuienis gelewer van die statuur van die man onder al wat ’n musikant is.

Henry was ’n teksboek-vergestalting van die “sagmoedige reus”; ’n groot mens met ’n rustige geaardheid, nooit opdringerig en luidrugtig nie, ontdaan van enige egokwessies.

Trouens, hy het dit reggekry om totaal onopsigtelik rondom die soom van die verhoog te beweeg terwyl hy met reëlmaat die beelde vaslê van die kunstenaars en hul uitbundige bewonderaars.

Vir hom het dit gegaan oor die perfekte foto wat hy so graag ná die konsert aan sy helde – die musikante op die verhoog – wou gee, net om te kan sê: “Kyk hier, kyk hoe fantasties lyk julle.”

Henry se fooi vir die sessie was ’n mooi ronde bedrag – ’n ronde nul. Hy wou geen geld hê vir die foto’s nie.

Soveel van die ikoniese konsertfoto’s van ons plaaslike rocksterre is deur Henry geneem; die Van Coke-brigade se sierlike stage dives, die Black Cat Bones se akrobatiese manewales – daar is te veel om op te noem.

Ek het net eenmaal voor Henry se lens verskyn. Dit was ’n hele paar jaar gelede in sy tuisateljee in Pretoria, vir die neem van ’n stel nuwe promosiefoto’s. Ek is glad nie mal oor fotosessies nie, trouens, ek verpes dit.

Dit help ook nie dat ek klokslag op kiekiedag ’n bad hair day beleef nie (ek het jare laas ’n kam besit).

Maar daar in die rustige atmosfeer onder Henry se ligte en flitsskerms was alles binne ’n ommesientjie verby en ten spyte van my ongeskeerde bakkies en – raai-raai – ’n treurige hair day, was die foto’s van so ’n goeie gehalte dat ek hulle steeds gebruik.

Henry se fooi vir die sessie was ’n mooi ronde bedrag – ’n ronde nul. Hy wou geen geld hê vir die foto’s nie.

Hy het dit nie as werk beskou nie; vir hom was dit net pret.

Vaarwel, my bra . . .

Dit bly maar een van die wrange aspekte van ons tydelike verblyf op aarde dat die laaste klok op ’n dag vir ons elkeen gaan lui. Die verlies en verdriet word oorgedra aan die geliefdes wat agterbly. Al wat fisiek oorbly is die nalatenskap van diegene wat ons verlaat het.

In Henry Engelbrecht se geval is daai nalatenskap selfs groter as wat die man self was. En dit sal altyd voortleef, so lank as wat rock ’n roll bestaan.

Vaarwel, my bra. Dit was ’n voorreg om ’n dude soos jy te ken.

Die kunstenaar se beeld

Vir enige musiekkunstenaar is beeldskepping ’n seminale onderdeel van sy of haar bestaan. Of dit nou Barbra Streisand is, of die hoofbulderaar van Slipknot – image is van kardinale belang. Dit is, behalwe die musiek, die grootste enkele faktor wat die legioene aanhangers saamsnoer in ’n eensgesinde geheel.

Die fans se lojaliteit is ten nouste verbind met ’n openbare beeld waarmee hulle kan identifiseer.

In die geval van die kunstenaar – die platemaatskappy, eintlik – is dit direk gekoppel aan die bemarkingsveldtogte wat verseker dat die aanhangers die konserte bywoon en die handelsware koop.

Daar is ’n bekende aanhaling van Henry Ford wat lui, 'Stopping advertising to save money is like stopping your watch to save time.'

Die reduksie van die kunstenaar tot ’n blote “produk” steek my dwars in die krop, maar dis iets wat ’n mens seker maar teen wil en dank moet aanvaar. Ek is al jare nie meer verbonde aan ’n platemaatskappy nie, so ek hoef gelukkig nie gedurig promosiegeleenthede aan te gryp of by te woon nie. Ek vind dit merendeels vervelig, vals en ontwrigtend.

Maar daar is ’n bekende aanhaling van Henry Ford wat lui, “Stopping advertising to save money is like stopping your watch to save time.”

Ek het, ten spyte van myself, nogal begrip daarvoor.

Die verskynsel van rock-fotografie

Valiant Swart

Henry Engelbrecht se dood het my weer so ’n bietjie laat dink oor die verskynsel van rock-fotografie.

Ek het ’n yslike versameling musiekpublikasies wat ek oor baie jare opgebou het: van biografieë en fotobundels tot ’n groot ou staalkas propvol musiektydskrifte uit Engeland, Nederland en die VSA. Parallel met die musiek self, is daar min dinge wat my soveel genot verskaf soos om vir ure te sit en blaai en lees en staar na die beelde van my musikale helde.

Portretstudies van die rockers en die rollers, geneem in ’n fotoateljee, word gewoonlik noukeurig gestileer en grootliks smaakvol aangebied.

Dis asof ’n mens daar tussen hulle staan en dans, selfs al sit en staar jy net eintlik na ’n tweedimensionele, tjoepstil beeld.

Maar dis die foto’s wat op die verhoog geneem is, tydens ’n live optrede, wat my die meeste aangryp. Die vasvang van ’n magiese fraksie van ’n sekonde waartydens daai in-die-oomblik-genot tussen die musikante en die gehoorlede byna tasbaar en hoorbaar is.

Dis asof ’n mens daar tussen hulle staan en dans, selfs al sit en staar jy net eintlik na ’n tweedimensionele, tjoepstil beeld.

Nes die geval is met die groot rock-fotograwe deur die dekades, is dit presies die gawe wat Henry gehad het.

Hy het jou altyd in die prentjie gesit.

• Swart is ’n musikant en skrywer wat op Onrus woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Valiant Swart  |  Fotografie  |  Covid-19-Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.