Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Valiant Swart: ’n Soewenier vir my pa

Hy wonder wat legendes soos Louis Armstrong, Buddy Bolden, Jelly Roll Morton en Allen Toussaint sou dink van boeremusiek. Daar is immers vele raakpunte tussen cajun- en boeremusiek, skryf Valiant Swart.

Ollie Viljoen, ’n Suid-Afrikaanse musieklegende in eie reg, in aksie in 2008. Foto: Gallo Images

So ’n bietjie minder as tien jaar gelede – die presiese datum ontgaan my – het ’n groot eer my een aand te beurt geval.

Ek is saam met ’n uitgelese groep musikante en liedjieskrywers genooi na ’n ATKV-geleentheid waar ons vereer is vir ons bydrae tot Afrikaanse musiek. Die geleentheid het plaasgevind in ’n lokaal by Fort Schanskop in Voortrekkerhoogte.

Ek het ’n oorkonde ontvang vir liedjieskryf. Saam met my was Ollie Viljoen, wie se huldiging te danke was aan sy dekades lange, onmeetbare bydrae tot die Afrikaanse musiekskat – as musikant, komponis en boeremusiek-legende. Ook vir die uiters gewilde boereorkes-kompetisies wat hy deur die jare geregisseer en aangebied het, en sodoende die voortbestaan van dié genre help verseker het.

Oom Ollie het dit sy erns gemaak om toe te sien dat die gehalte van die orkeste en hul komposisies altyd van ’n hoë standaard is.

Min dinge het hom so geïrriteer soos ’n verbeeldinglose, eentonige ge-doem-tjiek-doem-tjiek. Terselfdertyd het die bedrieglike eenvoud van die vorm hom behaag; onnodige frilletjies en tierlantyntjies was vir hom ’n ewe groot onding.

'Sjoe, ek wens my pa kon my nou sien,' het dit deur my kop geflits. My liefde en aanleg vir boeremusiek is direk aan hom te danke.

Daar is vanselfsprekend lekker musiek gemaak op die aand by die ou fort. Die house band was ’n boereorkes onder leiding van die konsertina-maestro Nico van Rensburg.

In ’n stadium is ek en Ollie genooi om ’n paar nommers saam met die orkes te speel.

Toe ek my kon kry, staan ek wraggies op die verhoog tussen Nico van Rensburg en Manie Bodenstein – ook een van die heel grotes op die konsertina – en die multi-instrumentalis Flippie van Vuuren, wat iets in die 30 (of was dit 70?) instrumente kon speel.

Ons het so drie of vier bekende nommers gelewer – onder meer die “Soutpansberg-polka” – en op omtrent elkeen het hulle my ’n (akoestiese) kitaarsolo laat speel.

“Sjoe, ek wens my pa kon my nou sien,” het dit deur my kop geflits. My liefde en aanleg vir boeremusiek is direk aan hom te danke.

Ek onthou al daai ontelbare aande om die vleisbraaivuur; hy met sy mondfluitjie en ek met my kitaar. My pa se held was die ontslape konsertinaspeler Japie Laubscher, wie se komposisie “Die ou waenhuis” steeds my gunsteling is.

Die ‘washboard’ en ritteltit-danse

Om en by ’n dekade vroeër, doer ver oor die Atlantiese Oseaan, bevind ek my een aand op ’n verhoog in ’n klein musiekklub in Bourbon Street, New Orleans; die stad van Louis Armstrong en Doctor John, en die klavierlegendes Jelly Roll Morton (wat beweer het dat hy jazz uitgevind het) en Allen Toussaint, en die kornetspeler Buddy Bolden, wat allerweë beskou word as die vader van jazz.

Die klank en ritmes wat die gesoute cajun-spelers uit die eenvoudige, geïmproviseerde kontrepsie optower, is uiters aansteeklik.

Ek het daar ge-jam saam met ’n regte-egte cajun-orkes. Ek het nie kitaar gespeel nie; die instrument wat hulle my in die hand gestop het, was ’n washboard. Dis ’n standaard-perkussie-instrument in cajun-orkeste; basies ’n houtraam om ’n geriffelde metaalplaat, wat inderdaad oorspronklik gemaak is as ’n stuk gereedskap om klere mee te was.

’n Mens hang die washboard om jou nek, soos ’n borswering, en speel dit met eetlepels wat jy ritmies op en af oor die riffels skuur. Die klank en ritmes wat die gesoute cajun-spelers uit die eenvoudige, geïmproviseerde kontrepsie optower, is uiters aansteeklik.

Die gehoorlede het spontaan opgespring en hulle met ritteltit-danse oorgegee aan die jolyt – ek ook.

Wat sou hulle dink van boeremusiek?

Ollie Viljoen en Valiant Swart saam op die verhoog in 2007. Foto: Gallo Images

Daar is vele raakpunte tussen cajun- en boeremusiek. Eerstens is daar die begeesterde ritmes wat baie ooreenstem, asook die instrumente soos akkordeon en kitaar en banjo.

Voorts is daar die voorsate van die Kreoolse bevolking wat ’n beduidende deel van New Orleans en die res van Louisiana uitmaak, onder andere Franse, Spanjaarde en Britte, en natuurlik ook die slawe uit Afrika.

In die hutspot van die bedrywige hawestad het daar mettertyd ’n verbastering van al daardie uiteenlopende kulture ingetree, wat geboorte gegee het aan ’n splinternuwe, bedrieglik eenvoudige kunsvorm.

Valiant Swart

Met die soeke na interessante toevoegings tot my en oom Ollie se boeremusiek-uitreikings, het ek so ’n bietjie deur my cajun-versameling gaan rondkrap vir geskikte materiaal. Daar was een liedjie in die besonder, ’n pragtige wals deur die vioolspeler Marcel Poincignon, genaamd “Souvenir Valse”, wat ek bitter graag wou insluit op ons eerste album.

Ongelukkig het dit nooit gebeur nie. Ek is steeds spyt daaroor; in my geestesoor hoor ek sommer hoe Oom Ollie die akkordeon laat ween op daai mooi wysie.

Vandag lê en rus Louis Armstrong, Buddy Bolden, Jelly Roll Morton, Allen Toussaint en, sedert verlede jaar, ook Doctor John, almal iewers in een van New Orleans se vele uitspattige begraafplase. Ek wonder wat hulle sou dink van boeremusiek.

En hier op eie bodem is Ollie Viljoen, Nico van Rensburg, Manie Bodenstein en Flippie van Vuuren ook lank reeds vort na die Groot Verhoog. Gelukkig is boeremusiek in goeie hande; die nuwe geslag konsertinaspelers soos Rikus Nel, Jasper van Rensburg en Henning Joubert staan bogenoemde legendes se skoene mooi vol.

Ek weet sommer my pa sou mal wees oor die “Souvenir Valse”. Ek dink ek moet hom sommer op my volgende album opneem.

• Swart is ’n musikant en skrywer wat op Onrus woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.