Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Valiant Swart: Opgevoed en aangeklam

Is dit die ideaal dat jou gehoor effens aangeklam moet wees as hulle na jou luister, vra Valiant Swart.

Valiant Swart

Ene Alben William Barkley het lank gelede vorendag gekom met ’n wysheid waarin daar baie waarheid steek: “The best audience is intelligent, well-educated, and a little drunk.”

Vra enige musikant – dis altyd ’n vreugde om vir ’n gehoor te speel wat aan bogenoemde vereistes voldoen. Mense met ’n opregte liefde vir musiek en ’n begrip en waardering vir wat die vorm ook al mag wees; wat genot put uit die nuanses van die lied en die talent van die spelers en die plekke waarheen die musiek hul meevoer en die verkwikking wat die ervaring bied.

Die einste “verkwikking” hou losweg verband met die “drunk”-gedeelte waarvan Barkley melding maak. En, let wel: “a little drunk”. Nie gekletter nie; net lekker mellow en ontspanne, met ’n aangename gloed wat die meelewing aanvul – vir die gehoorlede, sowel as die musikante op die verhoog.

In sulke gunstige omstandighede gedy die gehalte van die uitvoering. Die tweespraak tussen musikant en gehoor raak ’n bykans tasbare ding.

Gehore kan by tye nogal ’n uitdaging wees. Veral as die voggies effens te vryelik vloei.

’n Ideale scenario soos bostaande, egter, is meermale net ’n versugting. Die werklikheid van ’n lewe deur die konstant roterende swaaideure van ’n eindelose verskeidenheid optreelokale, telkens gevul (of nie) met volslae vreemdelinge, is geensins gehul in ’n glinsterende aura van vervulling en glorie nie.

Dis soms maar ’n eensame, heartless challenge, soos waarvan Stevie Nicks sing op “Gold Dust Woman”. Gehore kan by tye nogal ’n uitdaging wees. Veral as die voggies effens te vryelik vloei.

Tog, soos die suckers en dromers wat ons is, begeef ons ons keer op keer in die gloed van die verhoog – die plek waar ons doen wat ons doen.

Waar ons ons gawes deel en ons brood verdien.

Om net weer ’n bietjie te sing

Valiant Swart tree by die gedenkdiens van prof. Christof Heyns op. Foto: Deaan Vivier

Die afgelope jaar of wat, egter, was dit ’n ander storie. Die meeste musikante kon net so nou en dan ’n geleentheid kry vir ’n letterlik broodnodige optrede.

Ek onthou my eerste konsert ná die verslapping van die aanvanklike staat van inperking. Die gehoorlede was in ligte luim, ondanks ’n heersende oorbluftheid oor die ondenkbare omstandighede wat ons getref het.

Mense het harder en vinniger gepraat as gewoonlik. Almal het dosyne stories en menings gehad om te deel. Die gevoel van verligting was byna tasbaar, en die wyn, ’n wonderlike sosiale smeermiddel, het flink gevloei.

Ek het teen showtime stelling ingeneem op ’n kroegstoel en ons gasheer het almal verwelkom. Effe verroes het ek ingeval met ’n paar liedjies en spoedig het die paartie lekker op dreef gekom. Toe ek “Sonvanger” sing, huil almal snot en trane.

Hier en daar, tydens ’n kortstondige vensterperiode, kon ons darem uitspring en ’n paar optredes inkry.

Aan die einde van elke liedjie was daar entoesiastiese applous – en dan dadelik weer ’n gonsende, luidrugtige geselsery. Ek kon die situasie gelukkig gou opsom: die geleentheid het nie primêr gegaan oor my optrede nie; dit was ’n samekoms van eensgesinde mense, ná ’n onnatuurlike tydperk van isolasie. Ek was daar om ’n bietjie vermaak te verskaf.

Die gaste was almal goed opgevoed en intelligent – sommiges so effe meer as net “slightly drunk” – maar in geen stadium het dinge begin uitrafel nie.

En dit was so lekker om net weer ’n bietjie te kan sing en speel.

Want die res van die jaar was vir die meeste musikante, ook vir myself, ’n kroniek van kansellasies en opgeskorte toerplanne. Hier en daar, tydens ’n kortstondige vensterperiode, kon ons darem uitspring en ’n paar optredes inkry.

Dan het jolyt en samesyn weer hoogty gevier en mense het hul oorgegee aan die luimige kollektiewe sensasie wat die musiek hulle bied.

Dán mis ’n mens die inperking

Valiant Swart in aksie op die Oppikoppie-musiekfees in 2004. Foto: Gallo Images

Op die oomblik bevind ek my in die middel van ’n toer wat aan die Weskus afgeskop het en tans deur die noorde vleg, en op die horison wink die Boland en die Overstrand met hul milde gawes.

Tydens die toer is ek tot dusver telkens hartlik ontvang en gehuisves, en ek was aangenaam verras met die opkoms by elke konsert. Dis ’n riem onder die hart om opnuut waar te neem tot watter mate mense die musiek nodig het, en hoe geesdriftig hulle gesprekke daaroor aanknoop.

Geesdrif is ’n wonderlike, onstuimige ding.

Nie almal gee op dieselfde manier uiting daaraan nie. Sommige mense vertel ’n storie, of vra vrae oor lirieke en beduie met lewendige gebare; ander sing die woorde saam en roep versoeke uit . . . en dis altyd vir my lekker. Soms uitputtend, maar altyd lekker.

Maar.

Daar is alewig ook die moontlikheid van die verskyning van Daai Een Ou. Of Daai Een Girl.

Die een wat lankal die “slightly drunk” swaaibrug oorgesteek het. Wat heel voor sit, in die middel, en tydens ’n betekenisvolle, stil frase dit nie kan verhelp om “JAAAAAA!!!!” uit te basuin nie. Herhaaldelik. Of wat luidkeels en dronkerig – en vals – al die woorde saamsing. ’n Mens mis die staat van inperking dan sommer momenteel.

Daai oubaas Barkley het ’n goeie punt beetgehad. “Opgevoed” en “intelligent” is deugsame kriteria vir gehoorlede. Ek vermoed wel dat hy ’n kans gevat het met “effens dronk”.

Want daai toestand bly nie staties nie, sien.

• Swart is ’n sanger en skrywer wat in Onrus woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Valiant Swart  |  Boland  |  Weskus  |  Overstrand  |  Covid-19-Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.