Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Valiant Swart: Pappa gaan nou rock

“Dad Rock” is ’n relatief nuwe term om die musiek te beskryf waarna mans van die Baby Boomer- en Generation X-eras luister. Valiant Swart vertel meer daarvan.

Die Battersea-kragstasie wat op die voorblad van Pink Floyd se ikoniese album ‘Animals’ verskyn het. Foto: Getty Images

’n Paar jaar gelede lag ek eendag lekker vir ’n strokiesprent van ’n man wat pas sy voordeur oopgemaak het nadat die deurklokkie klaarblyklik gelui het.

Voor hom staan twee netjiese kêrels met ingesteekte hemde en kort hare.

“Good morning sir,” die een ou vriendelik en sy maat vra, “Do you have a moment to talk about Pink Floyd?”

Dan bemerk ’n mens hul Pink Floyd-T-hemde en die albums Dark Side of the Moon en Animals onder hul arms.

Die tweeledige insinuasie is duidelik. Daar word enersyds gesinspeel op irriterende geloofsfanatici wat berug is vir sulke deur-tot-deur bearbeiding.

Terselfdertyd word die draak gesteek met die betrokke rock-supergroep se volgelinge, wat in hul eie reg ook nogal fanaties (en ja, irriterend) kan wees.

Ek weet met absolute sekerheid dat ek nie die enigste rock-aanhanger is wat al iewers op ’n partytjie of in ’n kuierplek die foltering moes verduur om, vasgekeer in ’n hoek, na die ademlose gebabbel van ’n Pink Floyd-dissipel te moes luister nie.

Knus en vasgenael sit hy dan daar, dalk onder ’n kniekombersie, salig in die waan dat hy 'bygebly' het; dat hy 'op sy game' is met die rock-besigheid.

Ons ken almal ten minste een so ’n ou.

Dis daai laat-middeljarige dude met die single malt whisky-versameling wat op ’n Saterdagaand, wanneer die braaikole lankal uitgesterf het en die wederhelf al gaan inkruip het, in die TV-kamer op sy La-Z-Boy stelling inneem met ’n tweede nagkappie (en dalk ’n ou diep-dink-twakkie) en “The Wall” of “Delicate Sound Of Thunder” vir die ontelbaarste keer deurwerk.

Die Deluxe Edition DVD, met bonus scenes and commentary.

Knus en vasgenael sit hy dan daar, dalk onder ’n kniekombersie, salig in die waan dat hy “bygebly” het; dat hy “op sy game” is met die rock-besigheid.

Terwyl sy musikale ontdekkingstog eintlik al ruim voor 40 tot stilstand geknars het.

‘Jy hou van Dire Straits, nè?’

Mark Knopfler van Dire Straits in aksie in 1985. Foto: Getty Images

Teen die tyd dat ek reeds vir sowat 15 jaar aan die rock was, halfpad deur die eerste dekade van die nuwe millennium, met om en by tweeduisend optredes en ’n stuk of sewe, agt albums agter die blad, was daar lankal ’n jonger geslag wat hulself gevestig het as die nuwe vaandeldraers van Afrikaanse rock.

Ek het sommer gou besef dat, alhoewel ons dieselfde rebelse etos aanhang, hul musikale en stilistiese invloede spruit uit ander oorde as myne, met nuwe bands en modes en tendense wat ek nie ken nie.

Tog het ek my vereenselwig met hulle – rock ’n roll was ons gemene deler, ’n universele kode wat ons almal saamsnoer in ’n aweregse geheel.

Blues en punk en rock was vrugte van dieselfde boom, waaraan ons lustig saam gesmul het.

So het ek gedink.

Dire Straits was een van my grootste invloede, vandat ek hulle in 1978, toe ek in standerd 5 was, vir die eerste keer op Radio 5 gehoor het.

Totdat ’n snipperige snuiter van ’n aanlyn forum my eendag smalend in ’n onderhoud vra: “Erken dit nou maar: jy hou van Dire Straits, nè?”

Dire Straits was een van my grootste invloede, vandat ek hulle in 1978, toe ek in standerd 5 was, vir die eerste keer op Radio 5 gehoor het. My ondervraer was toe nog nie eens ’n vonkel in sy pa se oog nie.

Ek moes noukeurig let op my voetwerk. Enersyds wou ek nie die klein twak die satisfaksie gee om my te ontmasker as oudmodies nie; andersyds wou ek nie my roots verraai nie.

Ek het my bes gedoen om die dwarsklap te systap met ’n neutrale antwoord; eintlik wou ek die ventjie ’n oorveeg gee.

‘Mom Rock’ bestaan ook

Valiant Swart

Ek hou nog steeds van Dire Straits.

“Dad Rock” noem hulle dit deesdae. Dis ’n relatief nuwe term om die musiek te beskryf waarna mans van die Baby Boomer- en Generation X-eras luister. As jy die twee saam tel, verteenwoordig dit almal van ons wat tussen 1944 en 1980 gebore is; tussen 41 en 76 jaar oud, dus.

Ek bevind myself presies in die middel van daai spektrum – 1965; die jaar toe Pink Floyd gestig is. Dit was ook die jaar toe Dylan “electric gegaan” het op Newport. En toe die Stones “Satisfaction” vrygestel het.

Sangers en bands wat saam met “Straits” en “Floyd” (dis hoe ons na hulle verwys, oukei, millenniërs?) onder “Dad Rock” resorteer, is onder andere: Steely Dan, Bruce Springsteen, Tom Petty, Neil Young, Fleetwood Mac, The Eagles, The Doors, Lynyrd Skynyrd, ELO, Uriah Heep, Van Morrison, Eric Clapton – wie se MTV Unplugged-album ’n “Dad Rock classic” is – en die meeste kunstenaars op daai langspeelplate wat jy in die middel-90’s stelselmatig met CD’s begin vervang het, nadat jy aanvanklik teësinnig was.

Jou goeie gade durf nie met jou spot hieroor nie: “Mom Rock” bestaan ook, met Nickelback en Bon Jovi as die vernaamste eksponente.

Die ou dae . . .

So, as jou voordeurklokkie lui en daar staan twee bleeksiele met rockband-T-hemde aan: neem hulle deur na die TV-kamer, gaan haal daai diep-dink-twakkie wat jou millenniër vir jou gelos het ná die laaste braai, kraak ’n single malt, en vertel hulle van die ou dae.

Toe ons nog gerock het op Dire Straits.

* Swart is 'n musikant en skrywer wat op Onrus woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Dire Straits  |  Pink Floyd  |  Valiant Swart  |  Tom Petty  |  Bruce Springsteen  |  Steely Dan  |  Neil Young  |  Rock  |  Mom Rock  |  Dad Rock
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.