Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Valiant Swart: Tussen die Klippe en die Kewers

Wie was die beste? Die Rolling Stones of die Beatles? Valiant Swart het homself onlangs weer dié vraag gevra toe hy op ’n vonds in ’n boekwinkel afgekom het.

Nog net so energiek soos altyd: (Oupagrootjie) MIck Jagger en die Rolling Stones in aksie op ’n konsert in Amerika verlede jaar. Foto: Getty Images

My beste voornemens ten spyt, het ek onlangs weer ’n boek oor die Rolling Stones gekoop.

Dit was nie regtig nodig nie. Ek besit reeds ’n aansienlike aantal publikasies oor die “Greatest rock ’n roll band in the world”, soos die Stones allerweë bekend staan – fotoboeke, liedjieboeke, biografieë, noem maar op.

Ek trek die streep by plakboeke – ek is darem nie daai tipe fanboy nie. Maar in my argief het ek wel ’n paar stewige stapels musiektydskrifte waarin artikels en onderhoude met hulle verskyn.

Ek kon nie help om die nuutste aankoop te doen nie. Dit was in Gordonsbaai, by ’n tweedehandse boekwinkel – een van my primêre swakhede. Ek was rustig aan’t snuffel tussen die toegepakte tafels en boekrakke, omgeef deur die bekende geur van ou verhale en verbleikte foto’s, en intriges en ontknopings wat uit die kreunende rakke sypel. Die atmosfeer in ou boekwinkels, terloops, het ’n naam, vellichor: “the strange wistfulness of used bookstores”.

Ek was, soos gewoonlik, op soek na langspeelplate en Elmore Leonard-misdaadrillers en ander verrassings, toe ek van aangesig tot aangesig kom met ’n lywige koffietafel-formaat fotoboek – The Rolling Stones: Unseen Archives.

Ek was boonop ’n prima eksponent van die 'werklose musikant tydens die inperkingstyd'-verskynsel.

My hart het ’n ligte boksprong gemaak. Dit was ’n saamgestelde bundel van Stones-foto’s deur die dekades, uitgegee deur die berugte Britse geelpers-koerant The Daily Mail – aansienlik meer bekend vir hul smerige skindernuus en lasterhofsake as vir diepgaande resensies van rockmusiek.

Die boek was splinternuut. Ek het hom opgetel en vinnig deurgeblaai. Die bladsye was chronologies uitgelê met foto’s en berigte wat begin in 1963 en eindig in 2002. ’n Versamelstuk, wat sy plek netjies sou volstaan tussen sy afwagtende eweknieë in my man cave.

Ek het versigtig na die prys voor in die boek geloer . . . R160. Sjoe. Weliswaar nie ’n fortuin nie, maar aansienlik meer as wat ek normaalweg betaal vir die skatte wat ek by sulke vellichor-instansies uitdra.

Ek was boonop ’n prima eksponent van die “werklose musikant tydens die inperkingstyd”-verskynsel.

Nie juis toegegooi onder los kontant vir nice-to-haves nie.

Hei, dit was die Stones

Identiese snyerspakkies: Die Beatles in aksie in 1966. Foto: Getty Images

Maar hei – dit was die Stones, man. Hoe sou ek die boek nou net kon neersit en wegstap? ’n Mens skeep nie jou kompulsies af nie; jy staan ’n wesenlike kans om jou mojo te verloor.

’n Handige verontskuldiging het boonop reg voor my op dieselfde rak gepryk, teen dieselfde prys: ’n soortgelyke Daily Mail-publikasie oor John Lennon, wat ek sou versaak in die naam van goeie finansiële besluitneming.

En die behoud van my mojo.

Dis nie dat ek nie van Lennon of die Beatles hou nie. Inteendeel. Maar as ek moet kies, is dit maklik: ek is ’n Stones-man.

Ek verkies die jong Stones se slenterdrag bo die jong Beatles se identiese snyerspakkies

Tussen die twee groepe se anti-establishment houdings, verkies ek Mick se traak-my-nie-agtigheid bo John se snipperigheid. En die jong Stones se slenterdrag bo die jong Beatles se identiese snyerspakkies. En die Stones se lang hare bo die Beatles se mop tops – om nie eens van daai snorre en baarde te praat nie.

Terwyl die Stones die bloudruk geskep het vir rock-konserte – aanvanklik in musiekklubs, en toe in teaters en ouditoriums, en uiteindelik in massiewe arenas en buitelug-stadions dwarsoor die planeet, het die Beatles hul happy place gevind in die opname-ateljees van Abbey Road, waar hulle op hul beurt die baanbrekerswerk sou doen vir daardie spesifieke domein van die kuns, met die komplekse, “diep” komposisies wat die vroeë era van die rockalbum tipeer.

Ten spyte van hierdie verskille – grootliks maar ’n skepping van die pers – het die Beatles en die Stones deur die jare vriende gebly.

Selfs nadat sir Paul McCartney onlangs op die BBC se The Graham Norton Show vir die eerste maal erken het dat hy dink die Beatles was beter as die Stones – ’n stelling wat deur Keith Richards afgemaak is as onsinnig.

En dan is daar Keith . . .

Valiant Swart

En daar lê die ding. By Keith Richards. ‘Keef’ – die Rolling Stones se veldmaarskalk. “The Human Riff”, wat die elektriese kitaarklanke van “Satisfaction” en “Honky Tonk Women” en “Start Me Up” en my persoonlike gunsteling “Gimme Shelter” aan die wêreld gebring het, en die tydlose akoestiese melodieë van “Angie” en “Ruby Tuesday” en “Wild Horses”.

In die boek sien ’n mens hom tussen die ouderdomme van 21 en 59. Vandag is hy al 76 jaar oud, die oupa van ’n streep kleinkinders, en steeds kliphard aan die rock met sy artritis-vingers.

Saam met sy jeugvriend sir Mick (reeds sedert ses jaar gelede ’n oupagrootjie) is Keef die proto-rebel, die vergestalting van insouciance en stralerjakker-dekadensie, die badass met sy ontelbare skermutselinge met die gereg.

Die Beatles het nie so ’n ou gehad nie. Dit maak hulle weliswaar nie “swakker” as die Stones nie – maar beslis ook nie beter nie.

Terloops – ek het toe wel my Elmore Leonard-misdaadriller gekry – Mr Paradise – net so cool soos Keith. Wel, amper.

En ek gaan miskien maar daai Lennon-boek ook aanskaf.

* Swart is ’n skrywer en musikant wat op Onrus woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Rolling Stones  |  Beatles  |  John Lennon  |  Paul Mccartney  |  Keith Richards  |  Mick Jagger  |  Valiant Swart  |  Musiek  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.