Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Valiant Swart: Vaarwel, Struis

Die dood van ’n vriend uit sy jeugjare het Valiant Swart met heimwee na onskuldiger tye laat terugdink.

Valiant Swart

Op Wellington was daar in my jeugjare ’n groot klavierfabriek wat aan ’n Duitse firma behoort het.

Dit was ’n instelling op ons dorp; Wellington se klaviere het landwyd in skoolsale, kerke en voorstedelike sitkamers gepryk.

’n Straatblok of twee vanaf die groot fabriek was daar ook ’n klein eenmansaak met die naam Byleveld Klaviere.

Oom Jurie Byleveld was ’n stoere ou Wellingtonner, altyd met sy Ford-bakkie op pad na iewers waar ’n onklaar stel klawers gedokter moes word.

Almal op die dorp het hom geken as Struis. Hy was ’n bekende gesig met sy borselkop en sy dik bril.

In Oom Jurie se diens was ’n gesiggestremde klavierstemmer met die bynaam “Struis”. Sy regte naam was Hendrik Esterhuizen, maar niemand het hom so genoem nie.

Almal op die dorp het hom geken as Struis. Hy was ’n bekende gesig met sy borselkop en sy dik bril, gewoonlik teen ’n stewige pas straatop (of -af) aan’t suiker met sy fiets met die krat agterop.

Struis was ’n alumnus van die Pionierskool vir Blindes op Worcester, waar hy hom bekwaam het as klavierstemmer.

Heimwee na onskuldiger tye

Toe ek in st. 6 was, het ’n paar buurt-tjommies van my ’n belangstelling in skaalmodeltreine ontwikkel. ’n Klasmaat met wie se ouers Struis bevriend was, het ons van Struis se manjifieke treinstel vertel. Ons het almal een namiddag sonder veel verwagtinge by sy woonstel na die stel gaan kyk.

Wat ons daar aangetref het, was egter absoluut verstommend: ’n reuse-treinstel op ’n houtblad wat aan kabeltoue uit die dak hang, so groot soos ’n dubbelkamer, met tonnels en spore en liggies en berge en landskappe – te veel om te beskryf. Ons het sommer dadelik groot pêlle met Struis geraak.

Valiant Swart het verlede Saterdag in Pretoria by die roudiens vir prof. Christof Heyns opgetree. Foto: Deaan Vivier

Hy was vriendelik en gasvry en vol snaakse sêgoed. Ons is koffie aangebied in die sitkamer – waar ek byna flou geval het toe ek sy uitgebreide plateversameling sien. Teen die een muur was daar ’n gesofistikeerde hoëtroustel met ’n dubbel-kassetspeler en ’n moderne draaitafel en ’n equaliser en yslike luidsprekers.

Ek het gevra of ek maar sy plateversameling kan deurkyk. Dit was gehuisves in ’n groot houtkas, alfabeties gerangskik en in topkondisie. Behalwe vir al die treffers van die dag, het Struis ook ’n uitgebreide countryversameling gehad.

Ek het sommer gou-gou die treinstel versaak en my toegespits op die inhoud van die platekas. Struis het gesê ek is welkom om enige tyd sy plate af te tape. Hy het my gewys hoe om die kassetband met ’n potlood te draai tot by die plek waar ’n mens kan begin opneem en hoe om ’n spasie tussen die liedjies te los en allerhande ander fyner kunsies van die onwettige kopiëring van langspeelplate.

En daar was nie net langspelers nie. Struis het sy versameling weekliks aangevul met die enkelspeler-treffers van die dag. Nuwe langspelers is ook met reëlmaat oor die drumpel gedra. Binne ’n afsienbare tyd het ek ’n groot aantal mixtapes vir my en my pêlle gemaak.

Teen die tyd dat die wintervakansie aangebreek het, was ek reeds goed ingeburger voor die hifi, die treinstel lankal op die agtergrond geskuif. Menige reëndag is voor die luidsprekers in Struis se sitkamer deurgebring.

Afgesien van die heersende poptreffers, was daar in sy rakke ook ouer musiek uit ’n era lank voor ons tienerjare. Dis waar ek geleer het van die ikoniese ou kitaarspelers soos Chet Atkins, Duane Eddy en Al Caiola, wie se “Guitar Boogie” ek in ’n ommesientjie geleer speel het – min wetende dat dit my kennismaking met die bloudruk van die “12 bar blues” was.

Ek het dit jare later eers besef.

So halfpad deur my hoërskooljare het die sokkie-fenomeen al wat ’n Afrikaanse opvoedkundige instansie was, soos ’n rukwind getref.

Vir my 16de verjaarsdag het hy my ’n stel spoggerige Sennheiser-oorfone present gegee.

So halfpad deur my hoërskooljare het die sokkie-fenomeen al wat ’n Afrikaanse opvoedkundige instansie was, soos ’n rukwind getref.

Struis het van toe af gereeld op ’n naweeksaand sy hifi en ’n paar gekleurde ligte op die skoolverhoog staangemaak en dan is daar gesokkie vir ’n vale.

Onskuldiger tye, waaraan ek met heimwee terugdink.

Ná matriek het ek op Stellenbosch gaan studeer en soos dit maar gaan, het die lekker tye by Struis naderhand net ’n herinnering geword. Hy is na gelang van tyd weg uit die dorp en ons het heeltemal kontak verloor.

’n Treinstel in die hemel

Die afgelope Sondag het ek uit die Noorde teruggekom by die huis, nadat ek op die begrafnis van ’n baie besonderse vriend en musiekliefhebber twee van my liedjies gaan sing het.

Laataand in Onrus het ek voor my rekenaar gaan sit en my boodskappe begin lees. My ou Wellington-tjommie Louis het laat weet dat Struis oorlede is.

Ek hoop hulle het in die hemel vir jou ’n yslike treinstel.

Hy het blykbaar ná sy aftrede die laaste paar jaar by ’n vriend in Worcester geloseer. Saterdagmiddag het hy ’n bietjie gaan skuinslê en nie weer wakker geword nie.

Dankie vir die lekker herinneringe, die gasvryheid, die oorfone en die mixtapes, Struis, my ou vriend.

Ek hoop hulle het in die hemel vir jou ’n yslike treinstel en ’n hifi met ’n kas vol countryplate reggehou.

En ’n fiets met ’n krat agterop.

• Swart is ’n musikant en skrywer wat op Onrus woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Valiant Swart  |  Stellenbosch  |  Wellington  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.