Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Valke, NVG kan nie politici dien
Rapule Tabane

In ’n moeilike jaar waarin duisende mense dood is aan Covid-19, ondernemings moes sluit, mense hul werk verloor het en die skooljaar onderbreek is, is daar min om oor vrolik te wees.

Die stelselmatige terugkeer van sport is vir my wel iets om na uit te sien. En ek kry hoop weens die werk wat die Valke en die nasionale vervolgingsgesag (NVG) gedoen het om vervolging in te stel in sake wat al jare geïgnoreer is. Die inisiatiewe om diegene wat verdink word van korrupsie, aan te keer en verantwoordelik te hou, sal hopelik ons pessimisme en die idee dat alles verlore is, demp.

Joernaliste berig al lank oor wanpraktyke in die Vrystaatse regering, waaronder die asbes-projek waaraan amper R300 miljoen bestee is sonder dat enige werk gedoen is – sonder dat iemand ’n oog geknip het. Dieselfde regering het miljoene rande in die Vrede-suiwelplaas gepomp, maar die geld is na die Gupta-familie. Dis nog ’n voorbeeld van vermorsing waar die oortreders bekend maar jare lank onaantasbaar was.

Dié en ander soortgelyke sake word nou met nuwe ywer deur die Valke en die NVG hanteer. Dit is ook ’n bewys dat burokrate – ook polisiebeamptes en staatsaanklaers – hulself doelbewus blind kan hou vir ongeregtigheid indien hulle so ’n opdrag of ’n bruin koevertjie van politici ontvang.

Pres. Cyril Ramaphosa, wat aan die bewind gekom het te midde van gróót korrupsie, moet van die lof ontvang en sy boodskap aan wetstoepassingsagentskappe was duidelik dat hulle moet ophou slaap.

Ek het wel voorbehoude in my lof vir hierdie pogings. Die meeste van die inhegtenisnemings het ’n element van openbare skakelwerk bevat, met TV-kameras en koerantfotograwe wat genooi is om die dramatiese gebeure vas te lê. Ek sal maar eers nie sê of ek dink dit is gepas of nie.

Wat is die doel van inhegtenisnemings wat op TV afspeel as die beskuldigdes weer op straat gaan beland en voortgaan met hul aktiwiteite?

My bekommernis is dis maklik om mense in hegtenis te neem, maar wat uiteindelik belangrik is, is suksesvolle vervolging. Wat is die doel van inhegtenisnemings wat op TV afspeel as die beskuldigdes weer op straat gaan beland en voortgaan met hul aktiwiteite?

Dis duidelik die Valke en die NVG wil hê mense moet sien hulle doen hul werk, maar wat werklik belangrik is, is dat hulle dit deeglik doen, selfs buite die openbare oog. Die gevaar daaraan verbonde om ander mense te wil beïndruk, is dat ’n oormaat geesdrif kan lei tot agterlosige foute. Onskuldige mense kan die slagoffers daarvan wees.

Ek hoop ook die Valke en die NVG tree nie op om politici te beïndruk nie – veral nie vir Ramaphosa en sy kabinet nie. Dié staatsagentskappe is veronderstel om in die belang van alle Suid-Afrikaners te werk, nie namens wie ook al op ’n spesifieke tydstip regeer nie.

As hulle werk om in die president se goeie boekies te kom, beteken dit hulle sal ook geen probleem daarmee hê om die volgende president te probeer beïndruk nie – selfs al besluit hy hulle moet die vervolgings staak en op iets anders fokus.

Dink jou net in as hulle moet werk om pres. Ace Magashule te beïndruk, wat waarskynlik sal beteken dat hulle presies die teenoorgestelde sal moet doen as wat hulle nou doen.

Die Valke en die NVG verdien dus lof en moet aangemoedig word, maar ons moenie emosioneel oorweldig word deur die oomblik nie. Ons moet daarop aandring dat hulle die regte dinge om die regte redes doen, namens alle Suid-Afrikaners. Ons is nog glad nie daar nie, maar verbeel jou Ramaphosa gee opdrag dat hulle moet onttrek omdat sy politieke teenstanders in die ANC die inhegtenisnemings gebruik as ammunisie om hom uit die kussings te lig . . .

  • Tabane is politieke redakteur van City Press.
Meer oor:  Menings  |  Standpunt  |  Nvg  |  Rapule Tabane  |  Stemme  |  Valke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.