Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Van alle kante: Die dag breek in die troos van ’n ander asem
Wilhelm Jordaan

Desember is al eeue lank die groot vakansiemaand – ’n tyd van stilstaan en uitspan, en vanjaar nog meer so ná ’n veeleisende, inperkende jaar met Covid-19 in ons midde.

Duisende mense het hul gebruiklike frenetiese lewenspoed opgeskort en gee hulle oor aan die sagter stemminge van die hart; om opnuut die warmte van ’n gesin se bymekaar wees te beleef . . .

Maar daar is ook ánder Desembermense. Dié vir wie Covid-19 se inperking en ingehoktheid bloot voortgaan en vir wie Desember die allereensaamste maand is waarin die lewe ’n uitgestrekte landskap van somberte en donkerte is, en waarin ander se vreugde en genieting bloot ’n bevestiging is van hul verlange na gemeensaamheid.

Juis vir húlle geld die woorde van die Nederlandse digter Martinus Nijhoff: “Die maanlig sing in my bloed en die dans word wakker/ En as ek dans, dans my skaduwee met my –/ Skaduwee, my skaduwee, my enigste makker:/ Ons dans – kyk, ek is niks meer as jy.”

Bedink dié gedagte: Om niks meer as ’n skaduwee te wees nie. Jy is sonder substansie; sonder iemand wat in jou oë kyk en glimlag; sonder ’n ander wat aan jou raak; sonder iemand se stem wat jou aanspreek; sonder ’n ander wat saam eet en ’n glasie klink.

Uit die Rabbynse wysheidskat kom ’n perspektief op sulke alleenheid. Die hoofrabbi vra: Hoe weet jy dat die nag in die dag oorgaan?

As jy ’n skaap van ’n hond kan onderskei, sê ’n leerling.

En ’n ander sê: As jy ’n vyeboom van ’n dadelpalm kan onderskei.

Nee, sê die wyse rabbi: As jy in die gesig van ’n ander mens ’n medemens herken. Tot dán is dit nag.

Miskien help dít ons om te begryp donker en lig en nag en dag is in elke mens se lewensritme.

Miskien help dít ons om te begryp donker en lig en nag en dag is in elke mens se lewensritme. En dat menslike eensaamheid van die begin af aan ons gegee is as die weefstof van die begeerte tot gemeensaamheid. Om te weet albei leef in jou eie hart; dat jy die gesig van die een in die gesig van die ander sal vind.

Dit is dié begrip wat maak dat mense graag in mekaar se teenwoordigheid vertoef – waar dit ook al kan gebeur in die vreemde maand van Desember:

By Kersbome en by Kersetes; in Manenberg, Vosloorus en Alexandra; in Kaapstad, Polokwane en Bredasdorp; in tronke, huise, paleise en hutjies van sink en karton; in kerke, kloosters, katedrale; onder bome in die veld; in siekesale; op skepe, treine en in skagte in die aarde.

In sulke ontmoetings word ou stiltes deurbreek en kom daar ’n nuwe weet van mekaar – soos dit gedra word deur oë brandend van herkenning en begrip en deur die sagter woorde wat ons sê.

Daaruit kom ’n nuwe dans – van gemeensaamheid waarin jou skaduwee in die halflig verdryf word deur die skitterlig van nabyheid.

  • Jordaan is ’n emeritus-professor in sielkunde.
Meer oor:  Menings  |  Wilhelm Jordaan  |  Van Alle Kante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.