Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Van almal is ’n oranje oorpak die treffendste
Johan van Wyk

Ons behoort seker nou al daaraan gewoond te wees, maar ’n rooi oorpak in die parlement, al ontaard dit soms in ’n sirkus, bly ’n vreemde ding.

Nie dat ’n oorpak op sigself ’n vreemde verskynsel is nie. Dit was nog altyd die praktiese drag van gewone, hardwerkende mense soos ambagsmanne, boere en plaaswerkers.

Dit was beroepe wat jou klere en jou hande kon vuil maak. Dis hoekom ’n oorpak gedra is. Maar nie rooi nie. Ek het byvoorbeeld nog nooit ’n motorwerktuigkundige in ’n rooi oorpak gesien nie. In die dae toe dit ’n “overall” genoem is, het ek wel baie in ’n wit oorpak gesien.

Meestal ’n Samson-oorpak. Nie net as aanspraak op die sterkte van die materiaal waarvan dit gemaak was nie, maar ook as simbool van manlike krag, verpersoonlik deur Simson.

Hulle was taai, hierdie wit “overalls”. Ná ’n week se harde werk in een kon jy hom op sy twee pype staanmaak.

Werkswinkels (garages) was toe nie kliniese, gerekenariseerde diagnostiese sentrums nie, maar olierige plekke met ’n “grease bay”.

As ’n oorpakdraer met jou blad geskud het, kon jy die eelte en growwigheid voel.

In jou “overall” se gatsak was altyd ’n bondel “waste”, absorberende materiaalrafels om jou hande aan af te vee. Onder jou naels was dit swart. Ook die groefies in jou hande. Anders as Pontius Pilatus wat hom van Christus se kruisiging probeer verontskuldig het deur syne in ’n bakkie water te was, moes jou hande ná elke dag se werk behoorlik geskrop word.

As ’n oorpakdraer met jou blad geskud het, kon jy die eelte en growwigheid voel. Soos jy die sagte hande van die witjasdraers – dokters – kon voel. Maar wanneer laas het jy ’n dokter in ’n wit jas geklee gesien? Ek kan nie onthou nie.

Myne het nou die dag ’n pragtige pienk hemp by swart jeans aangehad. Hy het breed geglimlag toe ek hom vertel hoe sexy hy lyk. As beloning vir my vriendelike waarneming was sy rekening aansienlik meer as die vorige.

Ek kan ook nie onthou wanneer ek laas ’n boer in ’n wit stofjas gesien het nie. In die dae toe karre nie soos vandag s’n stofdig was nie, was dit die standaarddrag oor sy pak klere wanneer ’n boer dorp toe gery het.

Boere het egter nie rooi of wit oorpakke as werksdrag gedra nie. Toe eenstuk-oorpakke uit die mode raak, het hulle tweestuk-oorpakke – bruines of bloues – gedra, ’n baadjie en broek.

Wat jy ook nie meer sien nie, is ’n “boiler suit”, ’n wit oorpak met twee bande van materiaal gekruis oor jou skouers. Oop ketel.

Boere het dit graag in die somer gedra, maar dit was eintlik die drag van treindrywers en stokers op die voetplaat van stoomlokomotiewe.

Wanneer jy ’n treindrywer in ’n wit “boiler suit” met sy blink kostrommel stasie toe gesien stap het, het seuns daaroor gedroom om ook ’n treindrywer te word. Ek is vandag nog spyt ek het nie!

Waaroor ek wel nie spyt sal wees nie, is om meer mense in oranje oorpakke te sien.

Meer oor:  Johan Van Wyk  |  Werkers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.