Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Van Arabies tot Afrikaans
Jana Luther

Ek luister dié week na die Algerynse sanger-liedjieskrywer Souad Massi. Verstaan g’n snars nie, maar dit klink mooi, en terwyl ek luister, maak ek ’n lys van Afrikaanse woorde uit Arabies.

Arabies is ’n Semitiese taal; die belangrikste van verskeie tale van die Afro-Asiatiese taalfamilie wat in Noord-Afrika en Suidwes-Asië, hoofsaaklik in die Nabye Ooste, gepraat word. Dit is ook die taal waarvan die letters gebruik is om die eerste boek in Afrikaans te toelies. Nog Semitiese tale is Hebreeus, Aramees, Ethiopies.

Die bepaalde lidwoord, “die”, is in Arabies “al”. Ontleners van woorde uit Arabies het dit nie altyd gesnap nie en dan die lidwoord en bepaalde selfstandige naamwoord as ’n enkele woord oorgeneem. Soek jy Afrikaanse woorde met Arabiese wortels , is “al-” ’n goeie begin:

Albatros, alchemie, algebra, alkohol, alfalfa, alkalies . . . Ook appelkoos en arsenaal. Gaas, jasmyn. Kafee, kanfer, karaat, koffie, katoen. Lak, lemoen, luit. Magasyn en matras. Oranje, tjek. Safari, saffraan, sofa, spinasie, suiker, syfer. Tarief, tuna, tifoon en meer.

“Albatros” is ’n vermenging van die Portugese “alcatraz” en “alcatruz”. In die 16de eeu was “alcatraz” ’n pelikaan, en “alcatruz” die emmer van ’n waterwiel.

Baie van dié woorde het ’n interessante geskiedenis. “Albatros” is ’n vermenging van die Portugese “alcatraz” en “alcatruz”. In die 16de eeu was “alcatraz” ’n pelikaan, en “alcatruz” die emmer van ’n waterwiel – oorspronklik uit Arabies “al-qadus”.

Die emmer verwys na ’n pelikaan se krop, wat lyk of dit kan water hou. Toe Engelse matrose in die 17de eeu ’n onbekende voël hul skepe dae lank sien volg, noem hulle dié voël ook “alcatraz”. Vandaar vandag se “albatros”, met sy spelling aangepas by die Latynse woord “albus” vir “wit”.

“Alchemie”, letterlik “die chemie”, verwys na die chemie van die Middeleeue; alchemiste wat onedel metale in goud probeer omsit en soek na ’n lewensverlengende elikser. Sonder die lidwoord kom moderne “chemie” van dieselfde woord: “kimiya”, wat Arabies op sy beurt van ’n nog ouer, Egiptiese woord kry: “chem” of “gam”, wat “swart grond” beteken.

Die oorsprong van “algebra” is die titel van ’n handleiding deur ’n negende eeuse wiskundige, Bagdad Abu Ja’far Muhammad ibn Musa al-Khwarizmi. Dié boek, Hisab al-jabr w’al-muqabala (“Berekening deur herstel en balansering”), wat in die 12de eeu in Latyn vertaal is, het ook Arabiese syfers aan die Weste bekend gestel. In die 16de eeu staan dit as “algiebar” bekend, met die klem op die tweede sillabe. Later verskuif die klem en dit word “algebra”.

Ten slotte ’n glasie. In Arabies “al-kuhul” of “kohl”. Etimologies “die poeier van antimoon”: ’n gekristalliseerde, bros silwerwit metaal wat jy in ’n vysel kan fynstamp of tot ’n gas kan verhit wat by afkoeling weer tot ’n vaste stof kondenseer. Arabiese vroue het dié kohl as oogskadu gebruik. Via Middeleeuse Latyn het “alkohol”, “die poeier verkry deur sublimasie”, “die produk van distillasie” geword, en uiteindelik (teen 1850) slegs ’n enkele distillaat: hardehout.

  • Luther versamel woorde by afrikaans-vandag.co.za.
Meer oor:  Jana Luther  |  Woorde  |  Taal  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.