Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Van bel-hamels tot kapaters
Prof. Gerhard van Huyssteen

Ou bokke lus mos groen blaartjies, want hoe ouer die bok, hoe harder die horing.

Oftewel: Ouer mans vry graag na jonger persone, want hoe ouer jy is, hoe wyser is jy (en gaan jy mos nou nie sukkel met iemand wat saam met jou manklik en kranklik op die ouetehuis se stoep sit nie).

Afrikaans se idioomskat is oorlopens met woorde en uitdrukkings wat verband hou met plaasdiere en ’n agrariese leefwêreld.

Van hondsgetrou en hondmak, tot snoeshaan en janhen, tot voorbokke en agterosse.

Vir die byderwetse, verstedelikte Afrikaanse hipster is ’n Saterdagoggend by die barbierwinkel waarskynlik meer gemeensaam as wat dié uitdrukkingswyses bekend is.

In vier woordeboeke waarin ek gesoek het, kry ek nie minder nie as 41 verskillende uitdrukkings waarin die woord “bok” voorkom: Van die hedendaagse “bok vir sports” tot die vergete “iemand ’n Poolse bok span”.

Vra Anton juistement hierdie week via e-pos: “Waar kom die idiomatiese gebruik van ‘voorbok’ vandaan?”

Nou kyk, my se loopwêreld is mos daar diep in die Noordwes in, op ’n plaas getoog.

Die 1980’s was El Niño-jare en daar was geld vir niks nie – allermins om my en my suster ruim van sakgeld te voorsien.

In st. 1 (gr. 3) het ek begin om met hoenders te boer; skropeiers en -braaikuikens was winsgewend.

In st. 3 het ek entrepreneuries uitgebrei na boerbokboerdery, nadat my oom vir my so ’n spogrooikop-Kalahariboerbokram met ’n bokbaardjie present gegee het.

(Noudat ek daaraan dink: nie onlykende op sommige van vandag se hipsters nie . . .)

Bokhare op skouwol is so uit soos ’n geskeerde kinnebak by ’n kunsuitstalling.

Janneman was uiteindelik die dominante ram in die ­ trop, die voorloper, die voorbok.

Wie al met boerbokke geboer het, weet dat hulle mos liéf vir draadkruip is.

En as jy nou ergernis met jou pa wil hê, dan moet jou voorbok (en sy hele trop) tussen jou pa se wolmerino’s loop rondwei, want sien, bokhare op skouwol is so uit soos ’n geskeerde kinnebak by ’n kunsuitstalling.

Vandaar ook dat ons die skape van die bokke moet skei (“om die gewenstes van die ongewenstes te skei”), of juis jou bokke en skape deurmekaar jaag (“om te trou”).

Om die gedraadkruipery te voorkom, moes ek Janneman van so ’n nektuig (gemaak uit bloekomtakke en rieme) voorsien.

As jy dit nie doen nie, dan kruip die klein boggher altyd deur die drade en lei die hele trop met hom saam.

Die nekding is dus ’n meganisme om jou bokke in die kamp te hou.

Die voorbok was egter nie altyd net een ram nie.

Ek kan onthou ek het ’n pragtige ooi gehad wat ook met so ’n nektuig moes rondloop.

En die opgeskote bokkies moes ook dikwels op dieselfde manier in toom gehou word.

Maar as jy die voorbokke betyds geïdentifiseer het, was jou probleem opgelos.

In die alledaagse gebruik van die woord “voorbok” word daar meestal gesinspeel op die leier in kattekwaad, die belhamel.

Belhamel?

’n Gekastreerde boerbok is ’n kapater, ’n gekastreerde skaap ’n hamel.

En soos kapaters is hamels ook voorbokke.

In ’n skaaptrop – veral in Europa – word ’n klok (of bel) om sulke hamels se nekke gehang.

Hulle is dan die bel-hamels.

Meer oor:  Taal  |  Bokke  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.