Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Van Cyril se mond val staatsrede op grond

Pres. Cyril Ramaphosa se toespraakskrywers het hom in die steek gelaat, meen Dirk van Eeden.

Pres. Cyril Ramaphosa lewer Donderdagaand sy 2020-staatsrede.Foto: Jaco Marais

Van melkkos tot kaboemielies sonder sous. Die staatsrede het in ’n jaar se tyd van die een uiterste na die ander geswaai.

Ongelukkig val die toespraak én die president se lewering nog steeds êrens in die middel op die grond.

’n Goeie toespraak lig in en begeester. Laasjaar se staatsrede het probeer inspireer, maar was pit- en futloos. Vanjaar se parlementêre petalje het volgemaak sonder om die nasie se gees te voed.

Van die een beraad na die volgende lekgotla is die staatsrede duidelik oor maande verwurg.

Die van ons wat toesprake om den brode skryf, is nie beïndruk met die presidensiële poging nie, maar ons het simpatie. Komitee-besluite is gifbekers vir sprekers. Van die een beraad na die volgende lekgotla is die staatsrede duidelik oor maande verwurg.

Nie Shakespeare of Aristoteles sou ’n orasie kon distilleer uit die politieke systappery en finansiële vlugvoetigheid wat van die president geëis is nie. Boonop moet die nasie seker vrede maak met die feit dat Matamela Cyril Ramaphosa eintlik maar ’n kortbroek-redenaar is. (Met apologie aan die goeie professor wat dié beskrywing destyds aan Marthinus van Schalkwyk gekoppel het.)

Dirk van Eeden

Wat egter onverskoonbaar is, is dat sy toespraakskrywers nie eens probeer het om sy rede rigting te gee nie. Die resultaat was ’n verbeeldinglose sameflansing wat geklink het asof dit uit departementele opdaterings gespoeg-en-plak is. Die tempo was plek-plek uit pas met die inhoud. Die taal was bloot funksioneel. Van ’n tema was daar nie sprake nie.

‘Te lank’

Op die ou einde het die staatsrede soos PowerPoint-skrapnel, sieldodende kolpuntlyste, op my oor geval.

Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek was saam met die nasie dankbaar vir die groter eerlikheid, realisme en verantwoording van dié jaar se staatsrede.

Ewe belangrik het die president sy boodskap akkuraat op sy gehoor gemik. Ons het vir substansie gevra en dit gekry. Maar, net soos die EFF se ontwrigtingspolitiek, het die president se toespraak te lank en te meedoënloos aangehou.

’n Stortsanger moet liewers nie “Bohemian Rhapsody” by sy plaaslike karaoke-kroeg aandurf nie.

Dalk het die skryfspan bietjie te veel emosionele skade oorgehou ná laasjaar se nagmerrie. Daardie poging tot plagiaat van Martin Luther King se briljante “I have a dream” was vir alle toespraakskrywers en sprekers ’n les. ’n Stortsanger moet liewers nie “Bohemian Rhapsody” by sy plaaslike karaoke-kroeg aandurf nie.

Dit is ook onregverdig om ’n toespraak te skryf wat jy voor jou siel weet die spreker nie kan voordra nie. As jy nie in jou kop kan hoor hoe ’n spreker ’n sin sê nie, vee jy dit uit en begin oor.

Moeilike meesterklas

Buiten daarvoor dat die droomtoespraak onverbloemde na-apery was, was dit ’n onbesonne poging tot een van die mees effektiewe, maar moeilike, toespraak-strukture. “I have a dream” was ’n briljante kombinasie van klassieke oratorskap met die ritme en emosionele energie van ’n Southern Baptist-predikant. King was immers ’n eerwaarde en pastoriekind wat sy (s)preekstyl van kleins af in die kerkbanke geleer het.

Luister weer daarna en let op na die herhalende kontras wat King skets tussen die woestynlandskap van die hede met die Kanaän-droom wat hy anderkant die bevrydingsberg sien.

Hy begin taamlik stadig, maar versnel geleidelik die tromslag van dié ritmies herhalende tema tot hy uiteindelik sy gehoor tot ’n ongebreidelde emosionele crescendo opgesweep het.

Aan die ander kant van die spektrum is Steve Jobs, wat dieselfde kontras-tegniek met groot vrug gebruik het tydens die bekendstelling van die eerste iPhone.

Dit bly ’n meesterklas wat net deur die mees talentvolle sprekers geneem kan word. Twee van King se dissipels staan uit. Michelle Obama se toespraak by die 2016-verkiesingsvergadering van die Demokratiese Party – “when they go low, we go high” – raak-raak aan die meester se pante.

Steve Jobs

Aan die ander kant van die spektrum is Steve Jobs, wat dieselfde kontras-tegniek met groot vrug gebruik het tydens die bekendstelling van die eerste iPhone.

Net soos King, is Obama en Jobs verpligte leeswerk vir korporatiewe skrywers en politici wat ná staatsredes kommentaar lewer.

Die ekonome het duidelik van die staatsrede gehou. Party het dit sommer 9 uit 10 gegee. Die politici se reaksie was, ten beste, so voorspelbaar soos Pieter Groenewald se “flou makou”-sêdingetjie – hy het daai een duidelik al lankal vir Donderdag-aand uitgespaar. Die rooi rissies het, soos altyd, smaakloos gebrand.

  • Van Eeden is ’n kommunikasie-konsultant en toespraakskrywer vir plaaslike en internasionale sprekers. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.