Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Van die tand tot die mond – ’n besigheid met impak

Die versorging van jou tande kan soms ’n pynlike proses wees, maar tande help om ons al vroeg in ons lewens ’n begrip van waarde te gee, skryf Rhynie Greeff.

Die pyn en lyding van ’n besoek aan die tandarts is nie iets waarna ’n mens juis uitsien nie. Foto: Getty Images

Vir my is die mees vreesaanjaende woorde: “Die tandarts sal jou nou sien.”

Newton se drie bewegingswette was nie volmaak nie. Hy kon ’n vierde een gehad het: Die netto vreesverandering vir ’n tandarts is gelykstaande aan die massa van die tandarts se naald vermenigvuldig met die drukvlak in jou handkneukels minus die glimlagbreedte van sy mooi damesassistent wat jou borslap vasmaak.

Hoekom pyn ons tande? Hoekom kan hulle nie maar so pynloos wees soos die tande van ’n ritssluiter of ’n 4x4-ratkas nie? Hoe is dit dat ons tandloos gebore word net om tande te kry met groeipyn? Hoekom val hulle kort daarna uit? Hoekom is ons dan haasbek met glimlagte wat so flenters is soos die Tien Gebooie nadat Moses dit bygekom het? Hoekom kry ons later verstandtande? Hoekom word daardie gesonde verstandtande uitgehaal? Is dit die oorblywende dom tande wat ons so aan pyn en vrees oorlewer?

Hoërklas Romeinse dames het veral gesmag na duurder Portugese urine wat deur alle goeie dokters aangewys was as die sterkste dentale diuretiese handelsmerk.

Tandversorging is ons lewensgeveg.

Kinders word aangemoedig om hul tande te borsel met interessante tandepastageure soos kougom, sjokolade, waatlemoen, aarbeie of roomys.

Daardie geure is darem beter as in 1 300 v.C. in Egipte. Destyds moes klein Ramses II die Rakker sy tande bekrap met ’n uitgerafelde takkie waarop die poeier van gemaalde lawaklip en oshoewe gemeng was met as en bedruip met druiwe-asyn. Dis sekerlik hoekom al die farao’s op beeldhouwerk so strak met geklemde tande tuur.

Ramses se asyn skuurpoeier was verbasend genoeg meer smaaklik as die tandepasta in antieke Rome waar tintelende menslike urine jou tandepasta en mondspoelmiddel was. Vooraanstaande Romeinse dokters het urine aanbeveel om jou tande wit te maak. (Urine ruik immers soos ammoniak en ammoniak maak wit.)

Hoërklas Romeinse dames het veral gesmag na duurder Portugese urine wat deur alle goeie dokters aangewys was as die sterkste dentale diuretiese handelsmerk. Miskien was daardie asem-verfrissende produk gegeur met Portugese speserye maar dit was beslis nie peri-peri piepie nie, want peri-peri het maar betreklik onlangs vanuit Mosambiek posgevat. Al wat ek wonder is of Romeine mekaar op die mond gesoen het, want ek sou eerder lugsoentjies langs die wang verkies het. Veni, vidi, siesie.

Die paal en bloederige tandetrekkery

Almal in die Middeleeue, adellik en gepeupel, moes maar vasbyt want tandpyn was iets wat jy net moes verduur. Tensy jy ’n rowwe barbier besoek het waar tandetrekkery ’n bek-af ondervinding was. Die barbier was terselfdertyd haarkapper, baardsnoeier, snydokter, tandetrekker en die man wat jou are gesny het sodat jy “vir jou gesondheid” bloed kon aflaat. Vandag se rooi-en-wit barbierpale simboliseer die bloederigheid van daardie tandetrekkery.

Eina! “Die Tandetrekker”, ’n skildery van Gerard Dou wat tussen 1613 en 1675 geleef het. Foto: Getty Images

Ten minste het my tandarts nie vandag so ’n paal by sy spreekkamer nie.

Gelukkig is ons ook nie vandag in die posisie van die eerste Amerikaanse president, generaal George Washington, nie. Sy tande het soos hout gelyk maar was eintlik gevlekte dieretande, ivoor, metaal en ander mense se tande. Jy kon destyds gesonde tande by arm mense uit hulle monde uitkoop. Ek wil nou nie sondige woorde in die mond lê nie, maar Washington het waarskynlik sy Amerikaanse presidensiële intreerede gelewer met tande wat hy van slawe gekry het. Washington was ook die opperbevelvoerder van die Amerikaanse Rewolusionêre Leër wat ’n nuwe betekenis gee aan die gesegde van tot die tande toe bewapen.

In ons wêreld van vraag en aanbod het grafrowers twee eeue gelede leweransiers aan tandartse geword soos ná die Slag van Waterloo in 1815 toe 48 000 dooies op die slagveld agtergelaat is. Oorlewende soldate, plaaslike inwoners en besoekende grafrowers het die tande van duisende lyke herwin vir die mark. Waterloo-tande het in baie monde gepronk.

Ek glo elke mense se lewenstaak is om waarde toe te voeg aan ander.

In die tandbedryf was daar dus groot waarde toegevoeg deur malers van lawaklippe en oshoewe, asynprodusente, handelaars in topgehalte Portugese urine, barbiertandeplukkers, arm mense en slawe wat hul goeie tande laat trek het om te verkoop en tandejagters wat lyke geteiken het. Oukei, Tannie Sus, hierdie voorbeelde is oneties en grusaam, maar ander mense het dit so waardevol geag dat dit hulle laat glimlag het.

Latere wetgewing teen grafrowery het in die middel 1800’s darem etiese waardes ingestel.

My punt is dat waardetoevoeging nie altyd eenvoudig is nie.

Tande en waarde

Om waarde vir ander mense toe te voeg is vandag nog soms aanvanklik pynlik of ongemaklik, maar ’n bietjie tydelike ongemak kan die enigste pad na langtermyngemak en tevredenheid wees.

Ons moderne tandartse voeg byvoorbeeld vandag groot waarde toe met ’n bietjie tydelike ongemak in sy stoel, maar gee langtermyngemak en verlossing van pyn daarna. Tandartse is ons beeldpoetsers vir hoë-waarde, perfekte glimlagte.

Vroeg in ons lewens help tande om ons ’n begrip van waarde te gee.

Jong kinders wat ’n eerste tand verwissel leer dat hulle iets waardevol persoonlik besit – ’n tand. Hulle sien die begrip van waarde in aksie. As jy geborsel het en jou tand mooi opgepas het sodat die Tandemuis dit in sy meubelfabriek kan gebruik, het jy belê vir hoër waarde wat na jou terugkom.

Die prys van ’n glimlag? ’n “Glimlag”-uitstalling wat verlede jaar in Ankara, Turkye, deur tandartse gehou is. Foto: Getty Images

Met sý eerste tandverwisseling het ons seun Neill, wat nou in Doebai woon, die waardebegrip deeglik verstaan. Hy het vir sy ma gevra om ’n briefie saam met die tand in sy skoen onder die bed agter te laat waarin hy mooi versoek dat die Tandemuis vir hom asseblief nie ronde geld nie maar eerder ’n reghoekige betaalmiddel moet bring.

Op daardie ouderdom het hy reeds ’n besef van finansiële waardevlak gehad en dat jy hoër finansiële waarde kan kry vir jou bate met ’n ordentlike briefie en ’n asseblief.

Fisies, finansieel en eties dikteer die gewone tand ons mensdom se waardes al eeue lank.

’n Ander familielid het iets soortgelyks ondervind. Hy het by sy aftreehuis vir sy kleinkind gehelp met ’n skoen en tand onder die bed vir die Tandemuis. In trane maak die kleinkind oupa die volgende oggend wakker. Die Tandemuis het geld gelos, maar nie die tand geneem nie! Die kleinkind was ontsteld, want die Tandemuis het nie waarde vir sy betaling gekry nie en nou gaan die Tandemuis dink die kleinkind het gesteel. Dis mos nie reg nie.

Oupa sê toe dat dit mos ’n aftreehuis is, dat die inwonende Tandemuis ook oud is, seker vergeetagtig is en sekerlik die volgende nag sou terugkom. En toe het Snuffelmuis von Alzheimer darem die volgende nag sy tandproduk kom haal.

Wat my van hierdie storie fassineer, is dat daardie kleinkind ook etiese waarde aan finansiële waarde gekoppel het.

Fisies, finansieel en eties dikteer die gewone tand ons mensdom se waardes al eeue lank.

’n Glimlag vol tande is net ’n gebuigde strepie, maar daardie skewe mondlyn trek alles reg.

* Dr. Greeff is ’n strategiese konsultant en voormalige diplomaat. Hy het ’n doktorsgraad in handel, gespesialiseerd in mededinging. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  George Washington  |  Ramses  |  Moses  |  Rhynie Greeff  |  Egipte  |  Rome  |  Tandarts  |  Tande  |  Tandemuis  |  Tandesorg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.