Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Van een lyk tot ’n ander dooie agter die duine

Hy het sy alie afgeskrik toe hy op die strand stap en stukke van oënskynlik ’n menslike geraamte bokant die sand sien uitsteek, skryf MC Botha.

Kan dit ’n mens wees wat hier begrawe lê? Foto: MC Botha

Jy’s deesdae nêrens meer – selfs nie in die dood nie – veilig, is ’n afleiding wat ’n mens kan maak nadat ’n voertuig van die forensiese patologie-eenheid van die Oos-Kaapse departement van gesondheid vroeër vandeesmaand met ’n lyk binne-in gekaap is.

Die bestuurder van die voertuig was in ’n landelike gebied op pad na ’n lykshuis met die lyk van ’n vrou wat aan rookinaseming gesterf het.

Hy het langs die pad stilgehou om sy nood te verlig, min wetend dat hy binnekort in ’n erger nood gaan verkeer.

Die voertuig het skielik agter hom met ’n kaper agter die stuur weggetrek dat die stof staan.

Die polisie het eers die volgende dag gehoor van ’n voertuig wat ’n ent van daar af omgeslaan langs die pad lê met ’n lyk binne-in.

Dalk het die kaper in die ry besef wie sy passasier is en die voertuig van skok omgegooi.

Ek het self nou die dag amper my alie afgeskrik toe ek agter die duine op die Plaat duskant Sopiesklip afgekom het op stukke van ’n oënskynlik menslike skelet wat bokant die sand uitsteek. Soos ek die sand versigtig oopkrap, sien ek dat die beendere toegedraai is in swart plastiek, en die werwels, ribbebene, ulna en ander bene lê alles deurmekaar.

Beendere van ’n dolfyn wat opgegrawe is. Foto: MC Botha

Ek begin dadelik vermoed dat ’n moordenaar sy slagoffer in stukke gesny en in ’n swartsak gesit het. Dít sou makliker wees om die duine in te dra en buite sig te gaan begrawe as wat dit sou wees om ’n lyk in ’n heel toestand al die pad soontoe te sleep.

Buitendien kan jy mos bloot sê jy’s besig om die strand skoon te maak as iemand jou sou uitvra oor die sak waarmee jy oor jou skouer deur die sand sukkel.

Daar was geen vleis aan die beendere wat ek oopgegrawe het nie. Ek het vermoed dat dit al baie lank daar lê en nou eers ná soveel jare se windstorms effens oopgewaai het. Die moordenaar sou nooit kon dink die dag sou aanbreek dat inspekteur Clouseau die toneel besoek nie.

Om te voorkom dat ek belangrike leidrade uitwis, het ek my ondersoek gestaak en ’n paar foto’s van die beendere geneem. By die huis het ek die foto’s aan ’n forensiese laboratorium gestuur wat weldra laat weet het dat die beendere bes moontlik dié van ’n hond is.

Ná verdere opgrawings en oorlegpleging met kundiges het dit egter ’n paar weke later geblyk dat die beendere onteenseglik dié van ’n dolfyn is.

Maar die raaisel bly steeds: Wie sou dan al die moeite gedoen het om ’n dooie dolfyn van oor die twee meter lank in swartsakke toe te draai en agter die duine buite almal se sig te gaan begrawe?

* MC Botha is ’n skrywer wat in Hermanus woon. Dié rubriek het oorspronklik in Hermanus Times verskyn. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Mc Botha
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.