Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Van gesteelde piksoentjie tot (sk)elmbogie
Wilhelm Jordaan

Elmboë is nie die aantreklikste deel van die mens se liggaam nie. Vergelyk dit met oë, hande, vingers, voete en nek en jy weet ’n elmboog met sy lagbeentjie (die gottabeentjie) op ’n ongemaklike plek, skiet ver tekort.

Spreekwoordbronne in Afrikaans bevestig dit – los hande kom “hand” eerste (135 inskrywings), gevolg deur kop (79), oë (63), voete (39), ore (33) en vingers (21).

Elmboog het net drie inskrywings, met slegterige betekenisse: Van iemand wat altyd sy opsies oop hou om hom te onttrek, word gesê hy hou ’n slag om die elmboog. Wat beteken jy kan jou eintlik nie op so ’n mens verlaat nie. Hy is soos ’n versplinterde riet wat jou in die hand steek as jy daarop leun.

Dan is daar die drinkers wat so ’n steen des aanstoots vir minister Nkosazana Dlamini-Zuma is oor hulle die elmboog te hoog lig én moontlik ook gedraaide zolle deel. Nou lig hulle die hoed hoog vir die toegeeflike Cyril Ramaphosa, en ongelukkig ook die elmboog.

’n Derde spreekwoord praat van mense wat jou wil bedrieg en altyd met ’n elmboog na jou kom. Jy sien sommer die prentjie: Nooit reguit nie, altyd met ’n kinkel en ’n draai. Nou met Covid-19 kom ons natuurlik almal met ’n elmboog na mekaar en ons lig dit redelik hoog vir gesondheid! – die ene bedrogspul, almal skelm met die elmboë. Kinkels en draaie wat ons glo gesond hou.

Tog het die elmboog, so saam met die maskers wat ons dra, statuur gekry.

Tog het die elmboog, so saam met die maskers wat ons dra, statuur gekry. Daar is nuwe taalmoontlikhede, byvoorbeeld: ’n Gesteelde piksoentjie versmelt anatomies tot ’n (sk)elmbogie. En Dlamini-Zuma se dwaasheid verdien die kort woord “elmbog”.

Elmboë kan dalk kultusstatus bereik – soos Etienne van Heerden se “popliteale fossa” (die H-vormige agterknie) in die roman Die Biblioteek aan die Einde van die Wêreld. Soos met die erotiesgelade “fossa” kan die L-vormige groetende elmboog ’n gaping in die mark vind. Elke mens het ’n unieke stel elmboë wat nou willens en wetens ten toon gestel word.

Dit vereis aldus allerlei olietjies en smeergoedjies om die gebruiklike effense skurfheid te bedek, bewusmaking te laat gedy en om die groetery liefdevol, miskien selfs eroties, te bedryf.

Byvoorbeeld: “Hulle ontmoet / elmboog teen elmboog. / Vel streel vel. / Feromone versnel deur die dun membraan / van hartstog: / En die dye trek die dye onweerstaanbaar aan . . .”

Maar, helaas, daar is ’n droewige keersy as jy ’n bietjie anders kyk. Soos die psigiater/digter Bernard Levinson dit bedink in sy elmboog-gedig getiteld “Love in the Time of Covid”: “She arrived / muffled / in her multi-coloured mask. / And we hugged / passionately / elbow to elbow . . . / My funny bone becomes the saddest bone / in my body.”

Ek vertaal dit vry soos volg: “Sy het skaam / na my gekom / ágter haar masker. / Ons het passievol omhels, / elmboog teen elmboog: / Opeens het my lagbeentjie begin huil.”

Meer oor:  Wilhelm Jordaan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.