Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Van padkampe tot by stories oor ’n ‘Scope’
Annelie Botes

Met die jare saam het ek al ’n menigte aangrypende stories by lesers gehoor. Die meeste daarvan verval in vergetelheid, maar daar is stories oor vreemdelinge wat weier om my verstand te verlaat.

Iewers ná Kersfees skryf ’n oud-Uniondaler, wat reeds naby aan 90 is, ’n e-pos. Bewonderenswaardig dat sy in haar laat jare die moed kon openbaar om die tegnologie tot by e-pos-vlak te bemeester.

Ewenwel, sy skryf van haar herinneringe aan Uniondale en hoe sy vriende geword het met ’n meisie wat ’n padkamp-kind was.

Die meeste lesers weet van die padkampe wat van dorp tot dorp geskuif het om paaie te bou en te herstel. Selfs in my matriekjaar was daar ’n padkamp by Uniondale.

Waarom, weet ek nie, maar ons het snobisties geglo padkamp-kinders is dom, vuil en arm. Dis allesbehalwe so. Sy vertel van haar padkampvriendin met wie sy ’n hegte lewensband gesmee het. Dan noem sy iets waarvan ek onbewus was. Dis dié vriendin wie se voetspoor in die nat sement gegiet is toe die NG Kerk in 1966 sy eeufeesjaar gevier het. As “vuil-dom-arm” meisietjie het sy haar later jare gekwalifiseer as narkotiseur.

Dis in my wens-emmertjie om met die eerste geleentheid wanneer ons weer deur Uniondale ry, daardie voetspoortjie te gaan opsoek. Om ’n minuut stilte te hou; vergifnis te vra vir al die kere dat ek gedink het ek is beter as ander mense. Want ek ís nie.

In vandag se wêreld is kaal tieties, toegeplak met sterretjies, nie ’n lokaas nie. Doerie jare was dit polisiesake.

Op ’n heel ander toonaard skryf ’n man van die jare toe Scope nog nie in Suid-Afrika wettig was nie. In vandag se wêreld is kaal tieties, toegeplak met sterretjies, nie ’n lokaas nie. Doerie jare was dit polisiesake.

So smokkel iemand wat oorsee was ’n Scope uit vir sy begerende driekwart-bejaarde vriend. Allersnaaksigheid. Die bejaarde oom en sy vrou is stewige kerkmense wat iedere Sondag met die plaaspad dorpskerk toe ry, en die bestaan van die Scope is ’n aartsgeheim. Om te verhoed dat die tannie agterkom daar is ’n sondeboek onder hulle dak, plak die oom die sappigste bladsye in ’n Landbouweekblad.

Die oom lees die Landbouweekblad suf op sy leunstoel in die sitkamer. Toe die nuwe Landbouweekblad in die possak by die bushalte opdaag met die rooi spoorwegbus, lees die oom die oue steeds hondgetrou. Die tannie verstaan dit nie, want hy is al tien maal daardeur. Terwyl hy pampoene oes, kyk sy wat so boeiend is.

Uitvaltyd wag sy hom by die waenhuis in, dikbemoerd. Al waaraan die oom in sy nood kan dink, is om te beduie daar word ’n nadere blik gegee op die vrouens wat liefde soek in “Opsitkers”. Toe vra sy of hy dink sy is ’n goor eend­eier. En gelas hy mog nie Nagmaal naby sy lippe bring voor die sondeboek in die Doverstoof verbrand is nie.

In vandag se maatstaflose wêreld sal ons vrouens ons pinkie sonder verdowing by die tweede lit laat afkap as dit ál is wat ons mans sondig.

Meer oor:  Annelie Botes  |  Seks  |  Stories  |  Borste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.