Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Van toeka se donker siektedae

Altesame 444 jaar voordat die koronavirus-pandemie en Covid-19 ons getref het, is Milaan en sy inwoners getref deur ’n dodelike uitbreking van die builepes. En 76 jaar later, kort ná Jan van Riebeeck se aankoms in die Kaap, is die inwoners van Fort de Goede Hoop ook deur ’n dodelike siekte getref, vertel die Bloemfonteinse akademici Jannie Pretorius en Dolf Britz.

1652: ‘Gods slaande hand’ eis talle in hul eerste winter

Einde Mei 1652 is onraad gemerk. Agt arbeiders is deur ’n siekte platgetrek en die simptome het niks goeds voorspel nie: pyn, hewige koors, naarheid, braking, dehidrasie en bloederige diarree. En: die dood.

Destyds was dit in die volksmond bekend as “rooi buikloop”, ’n bakterie wat hewige ontsteking van die maag en dermkanaal veroorsaak het. Op sy beurt is die oorsprong daarvan besmette voedsel of water.

Dit lyk, só is in die dagregister op 28 Mei geskryf, of “God Almagtig, vasbeslote, met ’n plaag op besoek kom.” Twee maande nadat hulle hier geland het, is die eerste grafte buite die Fort die Goeie Hoop gegrawe. Teen die einde van die eerste week in Junie was daar soveel siekes dat die werk aan die beplande fortifikasie feitlik tot stilstand gekom het.

’n Foto van een van die dagregister-inskrywings. (Uit D.B. Bosman & H.B. Thom (reds.) se Jan van Riebeeck Daghregister Deel I 1651-1655, Kaapstad: A.A. Balkema, p. XXXIII.)

Die skrif was aan die muur: “As dit God Almagtig nie behaag om sy slaande hand terug te trek nie, staan dit soos ’n paal bo water: ons is in vir ’n lang en uitgerekte saak,” aldus die dagregister op 7 Junie. Dit loop tewens soos ’n rooi draad deur die volgende weke se aantekeninge in die register: “Gods slaande hand . . .”

Die vorige dag, 6 Junie, weliswaar, het sieketrooster Wyland se vrou geboorte geskenk aan ’n seun, die eerste kind wat binne die Fort die Goeie Hoop gebore is. Reeds was daar ’n gebou met behoorlike onderdak beskikbaar vir die geboorte – Van Riebeeck het nie gras onder sy voete laat groei nie. Hy was ’n klipharde meester en wou van die Tafelbaaise diensstasie ’n vinnige en groot sukses maak met die oog op ’n verdere loopbaan in Oos-Indië.

Hy was in transito en hierdie diensstasie ’n hekkie om te oorkom. So, die werk kon nie staan nie.

Noodsaaklike take is herverdeel: gesondes moes hand bysit met houtkap vir die kombuise, met wagstaan en met diensdoen by die handjievol oorblywende werkers aan die fort.

Onkant betrap

Die lewensgang sedert begin April 1652 het in duie gestort. Dit het ’n arm en ellendige lewe geword, lui die dagregister se inskrywings. Die dieptepunt is teen Julie bereik.

“As die Almagtige ons nie van die plaag verlos nie, is daar weinig kans om die werk deur te haal.”

Maria van Riebeeck, asook sieketrooster Wyland se vrou (met ’n pasgebore baba om te versorg), tuinier Hendrik Boom en sy vrou, Annetjie, en hul oudste seun het almal siek geword.

Die gety draai in die laaste week van Julie, wanneer die vrou van paramedikus De Jager (self tot die dood toe siek saam met hul dogtertjie) sterf. Tog, by sommige is daar beterskap.

Dié siekte het die gemeenskap onklaar betrap en ontwrig, maar sta-digaan, saam met die uitwoed van die bakterie, kon die lewe weer aangaan. Werkers, soldate, matrose, amptenare, vroue en kinders het dit oorleef.

Vir die outeur van die dagregister is daar hoop dat “God Almagtig sy slaande hand begin terugtrek”.

Hy verdwyn uit die prentjie. Oor Hom word in verband met die siekte nie weer geskryf nie.

Arbei voort

Die lewe gaan aan. Miskien ook omdat hulle geen keuse gehad het nie.

Dolf Britz

Skouer aan die wiel sit. Die diensstasie moet klaar. Plaasvervangers kon van verbyvarende skepe gewerf word. Uit die vroeg-Kaapse bronne duik verrassings op wat die alledaagsheid van die vergange lewe insiggewend verdiep.

Só is klein Bernert Wyland regdeur die epidemie gedra. Op Woensdag 20 Augustus 1653 is hy gedoop; op Kersdag daardie jaar, klein Abraham van Riebeeck; op 30 Oktober die volgende jaar, klein Reinier Boom.

Ná sy geboorte het sy ma, Annetje, vroualleen die veekudde se melk- en kalwerproduksie reggeruk. Haar hande het vir niks verkeerd gestaan nie. Haar inset om die lewe in en om die fort te stabiliseer was onberekenbaar.

Die lewe hét aangegaan. Of niks gebeur het daardie eerste winter tussen die indrukwekkende Kaapse berg en die diepblou baai nie.

Nóg ’n verrassing lê opgesluit in die bladsye van die gebedeboek wat op die skepe en aan land gebruik is.

Lees jy die gebede vir noodlydendes, siekes, armes, aangevogtenes en veral ook die gebed van troos by sterwe, is die “slaande hand van God” geheel afwesig. Hier lees ’n mens van ’n ander Hand: oop, versorgend, seënend. Sodat die lewe kon aangaan.

  • Prof. Britz is ’n kerkhistorikus en navorsingsgenoot van die Universiteit van die Vrystaat se filosofiedepartement. 

1576: ‘Sonde-plaag’ roei vyfde van stad se mense uit

In die somer van 1576 is Milaan, die hoofstad van Lombardye, wat nou so erg deur die koronavirus geteister word, getref deur ’n uitbreking van builepes. Die beweging van mense en goedere is toe, soos nou, streng beheer.

Carlo Borromeo
Carlo Borromeo bedien nagmaal aan sterwende slagoffers van die builepes in Milaan. Lyngravering deur F. de Poilly, na P. Mignard. Foto: iiif.wellcomecollection.org

So gou as wat die besmetting in Augustus rugbaar geraak het, het die aartsbiskop van Milaan, Carlo Borromeo, edikte uitgereik wat almal verbied het om die stad te verlaat.

Die simptome van builepes – wat nie deur ’n virus veroorsaak word nie, maar deur ’n bakterie (Yersinia pestis) – is grusaam en onmiskenbaar. Vandag kan dit gelukkig maklik met antibiotika behandel word, so die siekte kom selde voor.

Destyds het die bakterie vinnig in die slagoffer se limfatiese stelsel vermenigvuldig sodat die mangels, milt en timusklier besmet is. Braking en diarree het gevolg.

Maar die grootste teken van builepes was die sogenaamde buboes – swellings veroorsaak deur interne bloeding wat in die nek, lieste en die armholtes verskyn het.

Dit is hoekom dit ook bekend was as die buboniese pes.

Bloed en etter het begin om by hierdie knoppe uit te syfer. Die skade het dan vinnig regdeur die slagoffer se onderliggende weefsel versprei totdat die hele liggaam bedek is deur donker, perserige vlekke.

Die meeste van die geïnfekteerdes het binne vier dae gesterf.

’n ‘Vloek’ 

Vir die mense van daardie tyd (en ook steeds, sien ek tot my afgryse) was die builepes ’n beproewing, ’n misterieuse vloek, soos ’n marteling uit die hel.

Wat kan meer weersinwekkend wees as ’n dood deur spontane interne versapping, hierdie skielike vertering van die liggaam van binne?

Builepes is deur rotte gedra en deur vlooie oorgedra wat van die rotte na mense gespring het, maar in daardie tyd het niemand dit geweet nie. Die konsep van infeksie is wel verstaan en so ook die noodsaak van kwarantyn sodat huise met mense wat besmet is, van buite gesluit is.

Huisbewoners is verbied om uit die huis te kom totdat die besmetting verby was – en almal in die huis was gewoonlik dood.

Hoewel die presiese oorsaak van die siekte onbekend was, het menslike intuïsie daarop gedui dat higiëne op een of ander manier belangrik is.

Openbare proklamasies wat op gereelde grondslag deur Milaan se gesondheidskantoor in die laat 1570’s uitgereik is, het nie minder nie as sewe weergawes van die ware oorsaak van die siekte gekommunikeer – en hoewel hulle baie verskil, is dit treffend hoeveel van hulle gerugte omtrent vuil beddegoed en klere versprei.

Hierdie materiale sou natuurlik sonder twyfel wel die vlooie kon herberg bied wat die siekte oordra.

Gerugte 

Die plaag het volgens gerugte in Venesië begin toe ’n Jood wat in gebruikte huishoudelike goedere handel dryf dit aangedra het; of dat dit van Mantua gebring is deur ’n Jood wat óók in sulke goedere handel gedryf het; of dat dit deur ’n inwoner van Mantua gebring is, ’n man wat die nag in ’n herberg in Milaan gebly het; of deur ’n besmette hemp wat deur ’n dwase herbergier gekonfiskeer is om die man se skuld gedeeltelik te delg; en dies meer.

Soos ook met die Chinese die geval is, is die Jode selfs beskuldig dat hulle die siekte met opset versprei het. Die idee dat ’n pestis manufacta, ’n plaaginduserende stof, in die geheim deur die vyande van die Christendom vervaardig en versprei is, het in die vrugbare teelaarde van die primitiewe, openbare mening geval.

In die laer Rynland en Provence is tydens vorige uitbrekings van die builepes baie Jode ondervra wat van so ’n terroristiese daad verdink is. Hulle is ondervra en gemartel en toe bekentenisse uit hulle gedwing is, is hele Joodse gemeenskappe uitgewis.

Tydens die plaag van 1570 in Milaan was daar nie ’n herhaling van dié massamoorde nie, maar daar was wel ’n herverskyning van die beweerde rol van untori – mense wat een of ander aansmeerkonkoksie versprei. Die mure, hekke en strate van die stad is glo besmeer – dié keer nie deur die Jode nie, maar deur die Spanjaarde.

Vir ’n wyle was die mense van Milaan oortuig dat die skuldiges hul gehate Spaanse heersers was. Die Spaanse goewerneur van Milaan het verplig gevoel om ’n wet deur te voer wat enigeen verbied om die beskuldiging te herhaal. Dit het die bevolking net meer senuagtig gemaak.

Die ware storie 

Die Spaanse regering was wel te blameer, maar nie op die verbeelde wyse nie. Die plaag is in werklikheid van Sisilië deur die gevolg van don Juan van Oostenryk, die buite-egtelike broer van Philip II van Spanje, gebring. Dié groep het in Augustus 1576 in Milaan aangeland met verskeie van sy lede naby aan dood. Die binnekring van die Milanese senaat het dit geweet en ook die lede van die stad se gesondheidstribunaal.

Die talle alternatiewe verklarings was rookskerms wat deels geskep is om die reputasie van die Spaanse koninklike familie te beskerm en die status quo te handhaaf. Die “vuil wasgoed” en “vlooibesmette beddegoed” was hulle s’n, maar dit moes van die Italiaanse bevolking weerhou word om opstande te voorkom.

Carlo Borromeo
Jannie Pretorius

Enige kans dat die waarheid sou uitkom, is in die kiem gesmoor toe Borromeo betrokke geraak het. Uit sy perspektief was die plaag ’n Godgegewe geleentheid om sy ernstige geestelike boodskap tuis te bring. Vir hom was daar geen twyfel oor die bron van die siekte nie: Dit was sonde. Die Milanese het hul siele verwaarloos, te min gebieg, losbandig opgetree by die karnaval en hulle aan luukshede vergryp.

Die plaag is ’n besoeking van ’n wraakgierige God en al het dit so vreeslik gelyk, was dit ’n bedekte seën; ’n oproep om universele bekering wat nie geïgnoreer kon word nie.

Duisende sterf 

In die eerste twee maande van die epidemie, toe tot 10 000 mense gesterf het, het Milaan amper in ’n staat van anargie en wanorde verval. Daar is onvoldoende voorsiening gemaak vir die hantering van soveel lyke en gedurende die “vreeslike September” van 1576 het waens hoog gestapel met lyke alle ure van die dag en nag in die keisteenstrate gerammel. Stapels halfkaal lyke het openlik verrot.

Die gevreesde monatti, of grafgrawers, het amok gemaak. Donker verhale is vertel van hoe hulle die huise wat hulle veronderstel was om te beveilig, beroof het en hoe die paar vroulike oorlewendes verkrag is.

Toe Borromeo sien dat die stad op ’n nagmerrie afstuur, het hy al die geestelikes betrek. Al die priesters en monnike het take gekry. Geen lyk mag meer buite gelaat word nie. Elke slagoffer moes ’n behoorlike begrafnis kry – met kruise en kerse.

Borromeo het ook gedeeltelike kwarantyn gereël, veral vir vroue, wat volgens hom meer geneig was tot sonde en wat hy beskou het as primêre draers van die plaag (omdat, het hy gesê, hulle so baie praat en konstant mekaar se huise besoek).

Hy het ook al Milaan se haweloses in sentrale akkommodasie – wat ook kloosters ingesluit het – saamgetrek. Dit het die probleem grootliks hokgeslaan. Die sterfgevalle is daarna op burokratiese wyse bestuur.

Die plaag het nietemin eers in Februarie 1578 skiet gegee. Teen daardie tyd was ’n vyfde van die bevolking van Milaan slagoffers daarvan.

  • Dr. Pretorius is ’n senior lektor aan die Universiteit van die Vrystaat se skool vir wiskunde-, natuurwetenskap- en tegnologie-onderwys.
  • Bron: Graham-Dixon, A. 2010. Caravaggio: A Life Sacred and Profane. Londen, Penguin Group.
Meer oor:  Geskiedenis  |  Siekte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.