Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Van watter integriteit praat ANC?

Integriteit is een van die vereistes waaraan kandidate op die ANC se verkiesingslys moet voldoen. Maar van watter integriteit word gepraat? vra Danny Titus.

Die struggle-ikoon wyle Ahmed Kathrada se vraag oor die relevansie van die parlement is een wat Suid-Afrikaners steeds moet bekommer. Foto: Argief

Die ANC se lys vir die Nasionale Vergadering is kennelik gefinaliseer; 200 name is gekies uit nagenoeg 800 kandidate.

Die riglyne waaraan hulle gemeet is, praat onder meer van die bevordering van die integriteit van die ANC, dat benoemdes ondervinding moet hê en onderwys-kwalifikasies of die kundigheid om kreatiewe insette tot die parlement te kan lewer.

Dan praat die riglyne van geen misdaadgeskiedenis nie ná 1996 wat tot ’n vonnis van 12 maande of meer sonder die keuse van ’n boete gelei het.

Hoe die ANC bepaal het watter van hierdie vereistes belangriker as ander is, weet ’n mens nie.

Die feit is dat die honourable ANC-parlementslede reeds verkies is. Die integriteitsvereiste is heelbo, al praat hulle van die integriteit van die ANC.

Dit laat ’n mens nogal met ’n vraag: Wat is die integriteit van die oudste bevrydingsorganisasie in Afrika?

Ek kry so die gevoel van die 'demokrasie' in die Nasionale Party-era. Dit is nie vir my nie. Ek hoor maar net daarvan.

Is dit die agbare parlementslede wat die vorige openbare beskermer, adv. Thuli Madonsela, so verguis het en nou met Thuma Mina (“Stuur my”) almal die skone onskuld is?

Ons gaan vanjaar die 25ste viering van demokrasie binne. Wat moet ons vier? Het die demokrasie my enigsins in staat gestel om ’n verskil aan die agbare bewakers van ons demokrasie te maak? Sal my kruisie hoegenaamd ’n verskil in Meimaand maak?

Ek kry so die gevoel van die “demokrasie” in die Nasionale Party-era. Dit is nie vir my nie. Ek hoor maar net daarvan.

Dit laat my dink aan my tyd by die Menseregtekommissie toe ek ’n mede-kommissaris oor dié se moontlike voorsitterskap van die kommissie vra. Ek kry ’n sagte hand om my wang: “It has been decided already.”

Dit het gevoel soos die invisible hand agter die demokrasie.

Hoe die grondslag van kriminele wette geskud is

PW Botha se reaksie op die Ontugwet en die Wet op Gemengde Huwelike in die jare 80 was heel verrassend. Foto: Argief

Van die NP gepraat. Dit lyk nou of dit glad nie bestaan het nie.

’n Vriend wat deel van die party was en taamlik nou daarmee gewandel het, vertel my waar hy van die apartheidsideologie begin wegbeweeg het.

Hulle was deel van ’n komitee wat die Wet op Gemengde Huwelike en die Ontugwet met die oog op die moontlike afskaffing daarvan moes ondersoek.

Van die kerke het stewige voorleggings gemaak oor die kerklike grondslag daarvoor. Ander was daarteen, ook vanuit die veelparty-komitee en ek dink ook vanuit die party.

Krokodil PW se reaksie was heel verrassend.

My vriend sê wat hom die meeste getref het, was die voorlegging van Sylvia Landers, eggenote van die huidige adjunkminister van internasionale betrekkinge en samewerking, Luwellyn Landers. Hy was toe nog ’n lid van die driekamerparlement.

Haar getuienis was heel eenvoudig: “Ons is in liefde verwek. Daar is niks ontugtig of onwettig aan ons geboortes nie.”

Die grondslag van daai kriminele wette is behoorlik geskud. Die verskille binne die NP was so erg dat die pres. PW Botha as hoofleier van die party genader moes word.

Krokodil PW se reaksie was heel verrassend. “Menere,” het hy gesê, “ek kan die wette nie meer verdedig nie!”

Hoe relevant is die parlement nog?

Pres. Cyril Ramaphosa moet kans kry om sy hervormings ná die era van oudpres. Jacob Zuma voort te sit. Foto: Argief

Nou ja, dit was nuus vir my einde verlede jaar. Ek probeer dit toe verder opvolg en laat ’n e-posboodskap vir die adjunkminister nadat ek sy besonderhede op die regering se webwerf gekry het.

Ek kom toe ook af op sy blogpos waarin hy vertel van sy agtergrond. Ek kon op die blog ook sy parlementêre boodskap lees.

Hy vertel hoe stomgeslaan hy was toe hy Ahmed Kathrada jare gelede gevra het waarom hy nie die parlement nie meer so gereeld besoek nie. Kathrada se antwoord was dat “die parlement nie meer relevant is nie”.

Landers se kommentaar hierop is dat die lede moet vasstel waarom die parlement as irrelevant beskou word en wat gedoen kan word om hul status in die oë van “die klas van 1994” en die mense van Suid-Afrika te herstel.

Dat die parlement vir Kathrada irrelevant geword het, sny baie diep. Dis integriteit wat hier ter sprake is.

Kathrada se kommentaar van destyds oor die parlement moet ernstig opgeneem word.

Hy was immers jare lank saam met oudpres. Nelson Mandela in die tronk en dit was sy lewensideaal om die apartheidsregering omver te werp en die mense van Suid-Afrika tot diens te wees.

Hy was ’n man wat saam met sy kollegas – Mandela, Walter Sisulu, Govan Mbeki en ander – lewenslange ideale gekoester het wat tot die massale ommeswaai na demokrasie in ons land gelei het.

Dat die parlement vir hom irrelevant geword het, sny baie diep. Dis integriteit wat hier ter sprake is.

Is dit die integriteit van die ANC waarvoor hy gestaan het, of is dit die vuil wasgoed van korrupsie wat steeds in die ANC se wasgoedmandjie lê?

Danny Titus

Die 200 agbare lede op die kandidatelys het nie ’n verkiesing gewen nie.

Ons sit met hulle opgeskeep.

Dit is skrale troos dat hulle die toets van die ANC se kriteria deurstaan het.

Sal hulle werk aan hul relevansie of sal hulle die knie voor verkiesingskoors buig?

Dit is só belangrik dat die nuwe Ramaphosa-besem moet voortgaan om skoon te vee.

Pres. Cyril Rampahosa moet eenvoudig ’n groter meerderheid kry om met sy hervormings te kan voortgaan.

Maar ’n ANC-meerderheid in ons parlement kan nie lei tot verdere verdeeldheid in dié party wat ons land verder verlam nie.

Hopelik sal daar groter duidelikheid kom oor ANC-integriteit – of miskien sal integriteit net gewoon integriteit bly.

* Dr. Titus is die uitvoerende hoof van korporatiewe aangeleenthede by die ATKV.

Meer oor:  Anc  |  Luwellyn Landers  |  Nelson Mandela  |  Ahmed Kathrada  |  Danny Titus  |  Demokrasie  |  Parlement  |  Integriteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.