Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Van Wyk Louw en die geloof
N.P. van Wyk Louw

Oor N.P. van Wyk Louw, dalk die grootste Afrikaanse digter van die 20ste eeu en vanjaar 50 jaar gelede oorlede, is daar die afgelope tyd baie geskryf.

AJ Opperman se artikels oor wat verskillende mense oor die digter, denker en mens Van Wyk Louw te sê het, raak baie aspekte van sy werk en lewe aan, maar vertel nie veel van sy geloof (of nie-geloof) nie.

Van Wyk Louw was sy lewe lank ’n soeker. Hy het, volgens D.J. Opperman in sy boek Digters van Dertig, “vroeg, sonder wroeging, in sy ouerhuis, sy geloof verloor”. Oor dié opmerking het Louw vir Opperman baie kwalik geneem en het daar verwydering tussen die twee digters gekom. Louw het in ’n brief uit Nederland (waar hy toe hoogleraar was) op 30 November 1953 aan Opperman geskryf: “Dit (die betrokke stelling van Opperman) is waar; hoewel simplisties – soos elke bewering oor psigo-sake.

“Maar dink nou net: het jy ’n oomblik rekening gehou met die gevoelens van ’n ou dame wat in Hotel la Rochelle woon (Louw se ma), en wat met patetiese belangstelling twee eksemplare van jou boek gaan koop het . . .”

Maar Louw se geloof, hoewel hy dit dalk ’n lang ruk “verloor” het, was nie verlore nie, lyk dit. In baie van sy geskrifte en gedigte is daar ’n godsdienstige ondertoon, met die “Vier stasies” en “Leeglêers” wat in 1969 verskyn het, dalk die sterkste getuienis in Louw se poësie van sy Christenskap – “en wel wat betref die hart van die Christenskap, die ja-sê vir die Kruis”, sê die letterkundige F.I.J. van Rensburg.

Die digter N.P. van Wyk Louw.

Volgens Jaap Steyn in sy omvattende werk oor Van Wyk Louw, is Louw se “herontdekking” van die godsdiens en geloof ’n problematiese aangeleentheid waaroor daar verskillende opvattings bestaan.

Louw se weduwee, Truida Pohl, het byvoorbeeld gemeen dat, indien Louw aan die einde van sy lewe die Christendom genader het, “dit sekerlik nie ’n dogmatiese Christelikheid was nie”. Sy ontken volgens Steyn byvoorbeeld dat Louw geglo het dat Christus werklik ná drie dae uit die dood opgestaan het.

En tog. Ná sy dood die nag van 17 Junie 1970 is ’n stuk by sy bed gevind waaraan hy nog die aand van sy dood geskryf het: “My Heer en my God: ek bid tot U om vergiffenis; ek het myself natuurlik baie meer ‘vergewe-en-vergeet’ as wat ek nog vergiffenis mag verwag.

“U het my nie, dit weet ek, my Heer en my God, U het my nie vergeet nie; al het ek U hoe vergeet: ek glo dat U my wil vergewe vir alle sondes: ook die sondes wat ek nie besef nie omdat ek verblind is. My Heer en my God, ek lê my in U genade neer. As ek sou sterf terwyl ek slaap, lê ek net in die hande van U genade.”

Thomas het vir Jesus ná sy opstanding herken en erken as: “My Here en my God.” Van Wyk Louw skryf in sy sterwensnag tot drie keer toe: “My Heer en my God.” Dit sê genoeg.

  • Bronne: DJ Opperman: Digters van Dertig, Kaapstad, 1953; Jaap Steyn: Van Wyk Louw – ’n lewensverhaal, Deel 2, Kaapstad, 1998.
Meer oor:  N.P. Van Wyk Louw
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.